{ARGIEF}

Aan die begin van die jaar is daar heelwat gemeentes wat vra dat ons hulle moet help met die uitklaring van rolle.  Ek het oor tyd geleer dat dit belangriker is as wat ‘n mens mag dink-veral as die gemeente in ‘n proses is om ‘n nuwe roepingsfokus te implimenteer.  ‘n Nuwe roeping of Visie sonder ‘n kontreke gesprek oor rolle is gedoem om op niks uit te loop nie.  In geprekke met gemeenteleiers het ek geleer dat die volgende uitdagings in so ‘n proses belangrik is:

  1. Almal in die gemeente het die reg om in die gesprek oor die rol wat van hulle verwag word om te speel hulle eie roeping persoonlikheid en lewens-seisoen in spel te bring.  Dit is eenvoudig so dat die Here gawes gee aan ‘n gemeente soos wat Hy dit wil – Ef 4- en om die rede is ‘n fokus op die individu se gawes, roepingsfokus ens. nie onbelangrik nie.  Die Here het dit – die mense en hulle gawes – aan die gemeente gegee, sodat Sy roeping vir die gemeente verwesenlik kan word.  Die Here sal tog nie die gemeente roep vir ‘n bepaalde fokus en dan nie aan hulle die gawes en bronne gee om dit te kan bereik nie.  Aan die ander kant is dit natuurlik  ook so dat mense eenvoudig meer entoesiasties is om energie te gee vir dinge waarop hulleself graag wil fokus.
  2. Die ander kant is dat die gemeente se roeping of visie ewe belangrik is.  Meeste gesprekke oor rolle neem nie die gemeenteroeping genoeg in ag nie.  Die rolle en take van die personeel en leiers en lidmate moet tog gevorm en gerig word deur die roeping van die gemeente; anders is die roeping maar net nog iets op papier.
  3. 1 en 2 is soos twee energievelde wat in sinergie met mekaar gebring behoort te word.  Hierdie gesprek om sinergie tussen eie roeping en gawes en die van die gemeente te vind, verdien gefokusde geloofsonderskeidende aandag van die gemeente.  Laat ek verduidelik.  Baie predikante voel dat hulle gedwing word om dinge te doen waarvoor hulle nie geroep is nie.  Aan die ander kant voel baie gemeenteleiers dat die leraars nie doen wat hulle behoort te doen nie.  Dit vra tyd en geduld om op ‘n vertrouensbasis met mekaar te kom.  Daar is geen kortpaaie hier nie – hou aan praat, luister, wandel in die Woord, totdat die sinergie gekom het; moet in hemelsnaam nie opgee op die gesprek nie.
  4. In die gesprek help dit om die fokus te skuif van in-sette na uit-sette. Dikwels gaan dit in die geprekke oor rolle te veel oor wie moet wat doen en nie oor wat bereik moet word nie.  Die eintlike vraag is tog nie hoeveel preke, besoeke, gesprekke, uitreike, en noem maar op, gedoen is nie, maar tog eintlik wat die Here besig is om te doen en hoe ons daarvan deel kan wees. Eenvoudig gestel, nie hoeveel ons moet doen nie, maar waarop ons moet fokus.  In een gemeente het die gemeente die leraar gevra om 30% van sy tyd te spandeer met mense wat nie deel van die gemeente is nie, omdat hulle saam verstaan het die Here roep hulle om verhoudings te bou met dié wat nie in verhouding met die liggaam van Christus is nie. Die gesprek het begin  by … hoeveel huisbesoeke die leraars per jaar moet doen.
  5. ‘n Gesonde beginsel is dat ‘n bepaalde rol of verantwoordelikheid verkieslik nie by meer as een persoon moet tuiskom nie.  As almal verantwoordelik is, is niemand verantwoordelik nie.  Indien persoon A verantwoordelik is vir die pastoraat, doen hy of sy dit nie noodwendig alleen nie, ander kan en moet help, maar vir die gestelde uitkoms is daardie spesifieke persoon verantwoordelik.
  6. Verantwoordbaarheid binne ‘n sisteem van genade is belangrik vir volhoubare verhoudings binne die leierspanne.  Indien verantwoordelikheid nie nagekom word nie, moet die persoon verantwoordbaar gehou word daarvoor, sodat dit deurgepraat kan word, mense mekaar om verskoning kan vra en vergifnis kan gebeur.
  7. Roluitklaring het nie net te make met die leraars en personeel nie, maar met almal in die gemeentelike sisteem.  Hoe helderder die uitklaring is van wat verwag word van ‘n lidmaat, ‘n leier, ‘n personeellid, hoe meer mense sal verantwoordelikheid neem in die sisteem. Ons is so gewoond in ons sisteem dat betaalde amptenare verantwoordelikheid neem net as lidmate nie meer kans sien nie, dat daar uiteindelik net ‘n paar is wat die verantwoordelikheid neem vir alles.
  8. Indien daar nie mense is vir ‘n bepaalde nuwe inisiatief nie, behoort die beginsel te wees dat dit dan nie gebeur nie. Dit is gewoonlik ‘n teken dat ons fokus op doelwitte wat onrealisties is en nie in lyn is met wat die Here besig is om te doen nie.

Rolle kan net op ‘n langtermyn vervul word indien daar genoeg toerusting, genoeg bronne, genoeg tyd en ‘n mandaat van die leierskap van die gemeente is.  Gaan kyk gerus na die rolle en take wat van jou verwag word waarby jy nie uitkom nie of wat vir jou spanning gee en jy sal agterkom een van bg. is nie in plek nie.

9.       Probeer om die lys van rolle en take  so kort moontlik te maak.

NS.  Indien daar ‘n nuwe leraar in die gemeente is, is die Induksieproses baie waardevol. Kontak gerus vir Pierre Goosen hieroor by pmgoosen@sun.ac.za of 021-8083381.  Ons het ook ‘n Personeelverbintenis proses wat leierspanne in gemeentes help om rolle in lyn met die gemeenteroeping uit te klaar. Julle kan my kontak by jfm@sun.ac.za of 021-8083265.