Die lewe is vol “onbeheerbare chaos”

Written by Besoeker on . Posted in Transformasie

In ons reaksie op die “chaos” van die afgelope tyd op politieke en kerklike terrein, moet ons tipiese welvarende middelklas mense tog nooit vergeet dat ons verwyder is van die meerderheid mense in ons land se werklike armoede en stryd om oorlewing. Ons ken nie honger en dors nie, die daaglikse soeke na werk en geld om brood te koop, nagte wat honger en koud en nat deurgebring word in ‘n sinkhuisie waarin 10 mense saamleef, vier kinders op een bed. Ons dink oor God vanuit ons netjiese huise en blink motors en studeerkamers vol teologiese boeke geskryf deur professore wat hul lewe gewy het aan studie. Hul hande is sag, soos myne. Dan dink ons oor God vanuit ons lewe wat redelik onder beheer is, met dissiplines en sterk waardes wat onsself uitleef en ook in ons vriendekring uitgeleef word. In elk geval, my wereld is so mooi georden. Daarom vang ek my dat ek in dikwels mooi, geordend en sistematies oor God dink. Die realiteit is dat God per definisie net Een kan wees, die God is ouer as 2000 jaar, biljoene jare gelede (? begryp ons iets daarvan?) is die heelal geskep en die aarde gevorm deur Hom. Na nog biljoene jare het lewe op die aarde begin verskyn en die mens het ontwikkel en die sinvrae en Godsvrae begin vra. Ons stories oor God en die aarde uit die Bybel is maar 4000 jaar oud. Daaruit het ons sistematies oor God begin dink.

Die Lorenz Attractor - Paul BourkeOns skep orde, ons wil orde, want dit bring beheer. Ons het die taal geskep van chaos en orde as teenoorgesteldes. In ons sisteem is dit ook so. Ons skep oral orde, so wil ons God ook maak, dat Hy orde skep. En natuurlik is daar ongelooflike orde en aandag aan detail in God se skepping, maar die feite is, daar is aardbewings, orkane, tsunamis, kernkrag met ongelooflike destruktiewe kragte en virusse en bakteriee wat die potensiaal het om menslike lewe uit te wis. Die “chaotiese potensiaal” en werklikhede is deur God geskep en as deel van die natuur ‘n gegewe in ons lewe. Hoe “ordelik” ons ookal oor God dink, God is groter en meer as al ons “ordes” waarin ons Hom bedink en bepraat. Die chaos van dood en destruksie is in ons lyf geprogrammeer. Die chaos tik-tik-tik in ons lyf.

Dit sê ek net om te erken die lewe is vol onbeheerbare “chaos”. Ek sê chaos, want dit is vanuit ons bril gesien. Vanuit God se bril, as ek vir ‘n oomblik so kan praat, is chaos natuurlik doodgewoon orde!

So, chaos gaan gebeur en dit is vir ons sleg. Maar ons moet dit verwag, gereed wees daarvoor, want dit is deel van God se skepping. Dit is sleg vir ons as individue, maar dit is net omdat ons ‘n totaal selfsugtige en korttermyn perspektief op die lewe het. Alles draai om ons eie welsyn en voorspoed. As ons eie orde verbreek word, is dit vir ons chaos, sleg…

God is altyd daar. In beheer. Volkome. Die vraag is hoe ons reageer. Met wanhoop, met stille selfsugtige oorgawe, met selfbejammerende terugtrek in ons eie klein beheerbare wêreldjie? Of doen ons wat ons met ons “goddelike” vermoë kan doen, om lief te hê, die chaos tydelik te beheer, te bely, ons verstaan nie, maar ons is hier en ons hou hande vas. God is ook hier. Hy hou ook hande vas. Ons sal eenmaal sien…

Daarom hou ek van wat Frederick die naweek in Padlangs met gemeentes sê: Daar is chaos (vanuit ons menslike korttermyn perspektief) en ons roeping is om orde te bring. En die orde het te doen daarmee dat ons doen wat ons hand vind om te doen. Ons kan nie al die armes ryk maak nie, nie kos gee vir al die hongeriges in die wêreld nie, nie almal genees wat siek is nie, tsunamis verhoed, orkane stop nie, of virusse uitwis nie, maar ons kan ‘n verskil maak aan die een persoon wat oor my pad kom. Party van ons, soos ‘n moderator het die geleentheid om in chaos orde te bring deur soos jy voorstel, met ‘n houding van egte liefde en nederigheid en ootmoed hande te vat met ‘n hele groep. Of so ‘n leier kan die chaos van misverstande, wantroue, verskeurdheid vergroot.

Ons moet oral altyd bly glo in die goedheid van God en lewe en in ons roeping om hier te wees, om by ander te wees, met ander, te help waar ons kan, met woord en met daad. Ons is vir mekaar gegee. Die chaos ruk ons uitmekaar, laat ons gestrand, eilande van mekaar met oseane tussen ons. Ons mag egter nooit laat gaan, die diep geloof dat die lewe goed is, die moeite werd, dat menswees ‘n onverstaanbare goddelike gawe is, ‘n diep misterie en dat God met ons is, rondom ons, oral altyd, tot in ewigheid.

Trackback from your site.

Leave a comment