Mag predikante eerlik wees oor hulle roepingsworstelinge?

Written by Frederick on . Posted in Transformasie

Daar het die afgelope twe weke ‘n gesprek ontstaan oor predikante se roeping op die webwerf.  Fredinand het my ingevra oor my persoonlike reis hierrondom die afgelope 18 maande en spesifiek tov ‘n opmerking dat ek my emosioneel moes losmaak van my roeping. my antwoord daarop was baie persoonlik van aard.  Johan du Toit is daardeur ontstel – sien sy kommentaar roeping van predikers- om ‘n paar redes en ek antwoord hom graag soos volg met die hoop dat ek in alle opsigte billik is.

Ek het ‘n dag of twee gewag om te reageer op jou bydrae Johan. Ek moes weer en weer lees om seker te maak dat ek jou goed hoor. Jy is veral bekommerd oor die feit dat verskillende skrywers aangehaal word, en soos in die geval van my vorige reaksie, nie die Bybel nie. Dit is duidelik dat jy baie sterk daaroor voel dat die Bybel die enigste bron is wat ons kan help met die her-ontdekking van ons roeping.  Ek hoop ek het jou goed gehoor.

Dit is nie vir my moeilik om met jou saam te stem dat die Woord die belangrikste bron is vir die her-ontdekking van ons roeping nie. Ek dink egter nie dat die enigste stem is nie. Ek sukkel egter om met jou saam te stem wanneer jy ons aanmoedig om op te hou om ander skrywers buiten die Bybel te lees – julle moet die Woord begin verkondig en wegkom van snaakse boeke, – is jou siening. Vir baie van ons is die lees van boeke soos die gemeenskap van gelowiges.  Om verskillende standpunte na te lees en daaroor te dink, ook mense wat nie gelowiges is of my tradisie deel nie, help my om dieper insig in die Woord te ontwikkel. En daarom vind ek jou oproep dat ons net die Woord moet lees, moeilik om te verstaan.  Sola scriptura het mi nog nooit beteken dat ons net die Byble lees nie, maar wel dat die Bybel die enigste kriteria is waaraan ons al die ander gesprekke meet.  Ek sou verder kon gaan om na die Bybel self te verwys- hoe die Here dikwels ongelowige mense gebruik om met sy volk en kerk te praat.

Oor Covey, ja ons is deeglik bewus van die feit dat hy ‘n Mormoon is.  Maar dit is nie die rede waarom ons sy materiaal gebruik nie.  Ons gebruik dit, omdat dit  internasionaal bekende en erkende materiaal is in die ontwikkeling van leierskap. Buiten Covey is daar vele ander teorieë en insigte van skrywers wat ons gebruik wat nie uit die gereformeerde of selfs christelike tradisie kom nie.  Daar is wonderlike insigte uit die ekumene en sekulêre literatuur wat ons help met hierdie en ander kursusse.

Maar dit is nie die eintlike rede hoekom ek antwoord nie.  Oor bg. sake sal ons waarskynlik verskil van mekaar en dit mag maar, ons hoef nie met mekaar saam te stem om in gesprek te bly met mekaar nie.

Die eintlike saak waaroor ek geskryf het, was die ontwikkelinge in terme van my eie roepingsverstaan en redelik persoonlike omstandighede rondom dit. Ek het gewonder of ek daaroor moet skryf vanweë die persoonlike aard daarvan.  Ek het wel besluit om dit te doen, omdat mense soos Ferdinand vra daarna.  Waarskynlik omdat hulle met dieselfde dinge worstel en nie noodwendig in hulle gemeentes veilige ruimtes het om daaroor te praat nie.  Dominees brand uit, kry seer, word dikwels onregverdiglik be- en veroordeel sonder dat gemeenteleiers bereid is om na hulle te luister.  Laat ek dan maar ‘n slag die gesprek oopmaak, het ek gedink, en Ferdinand se reaksie dui op die waarde daarvan.

Hierdie hele saak het jy gemis, Johan, of dalk net nie gedink dit is belangrik om daarop te reageer nie.  Met respek, dit is sulke soort reaksies wat predikante so eensaam laat wanneer hulle nie meer kan nie en nie weet met wie hulle kan praat nie. Dit sal predikante oneindig veel help indien hulle gespreksgenote het in gemeentes wat saam met hulle dink en bid oor hulle roeping, veral in tye wanneer hulle moet preek, mense pastoraal begelei, moet bid- en hulle het nie woorde nie of selfs nie die energie om nog ‘n besoek te bring nie.

Sulke ervarings is nie omdat ons nie gelowiges is, of omdat ons ons roeping versaak nie, of te min Bybel lees nie, maar omdat ons in ‘n bediening is wat baie emosionele energie vra. Sulke tye is van die beste tye in ‘n predikant se lewe omdat dit gepaard gaan met egte worstelinge met God.  Die ervarings van eensaamheid, van twyfel van depressie, is eg menselike ervarings wat met die Here en met mekaar uitgepraat kan word.

…maar dan moet ons nie met vooropgestelde antwoorde kom nie- dit is eenvoudig nie respekvol teenoor die persoon nie.  Dan moet ons kom met ‘n oop gemoed- met die bereidheid om saam op weg te gaan en antwoorde te soek wat ons nie dadelik kry nie.

Ek het die voooreg gehad om in daardie tyd van uitbranding vriende te he wat met my op reis gegaan het- gewoon omdat hulle vir my omgee.  Ek wens elke predikant sulke vriende in jou gemeente toe.

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment