{ARGIEF}

Ek kry toe onverwagse laas week ‘n hele gesprek op Facebook oor my post: Ontworteling kan ook ‘n seën wees. Anton Louw begin die gesprek met ‘n pragtige sin, “jy kan net verplant word as jy ontwortel word”. Daarna volg ‘n hele reeks bydraes oor die pyn van ontworteling. So ek wil graag hieroor skryf die week. Jaco Hamman se in sy boek When the Steepels Cry dat enige transfromasie ook die pyn van verlies inhou, en om die nuwe te kan ontvang moet ons bereid wees om die oue te laat gaan en dit kan net gebeur as ons bereid is om die pyn van verlies te voel. Ek dink hy bedoel om te kan huil oor verliese.

Om een of ander rede huil ek maklik- eintlik te maklik vir die gemak van die naby aan my. Toe ons oudste klein was het ek saam met haar Free Willy gaan kyk- ‘n soetsappige fliek van ‘n walvis, of was dit nou ‘n dolvyn wat gevang is deur skurke en dan vrygelaat word deur die dapper dade van ‘n jong dogter( hoop ek onthou reg) ‘n Week later vertel ‘n vriendin van ‘n kennis wat vertel van ‘n man en sy dogtertjie wat hy in di efliek gesien het en hoe die pa gehuil het toe die walvis vrygelaat is- nodeloos om te sê dat dit was ek gewees.

Ek lees vandag in die koerant van Gordon Brown, Britse premier, wat onverwags gehuil het voor die kamera’s toe hy uitgevra is oor sy seun wat gestref het- tien jaar gelede. Ek dink dadelik aan die Koningin wat nie kon huil toe Diana dood is nie- onthou julle die wonderlik Fliek Queen wat hieroor gemaak is. Ek moes onlangs die begrafnis waarneem van my skoonma. Ek het my goed voorberei gestaal teen die emosie- en met die eerste sin toe ek familie moes gedank wat ver gekom het en ek sien hoe swaar Anita(my vrou) kry oorval die emosie my. Hoe huil ‘n mens waardig? Voor 300 mense wat almal vir jou kyk. Ons is ongemaklik om in die openbaar te huil, want ons gemeenskap bewonder mense wat ten spyte van verliese sterk kan wees.

Ek dink ons moet hieroor praat, ons wat in leiersposisies van hoofstroom kerke is en dikwels deur die verliese van krimpende gemeentes moet werk. Pat Keifert praat in sy boek Ons is nou hier (BM 2006) van die verlamming wat die Christendom kerk deurgaan in hierdie era waarin sy na die rand van die samlewing gedruk word. Dit is op ‘n manier nog erger in SA vir ons kerke wat beskuldig word daarvan dat ons apartheid ondersteun het. Ons het nie net mag verloor nie maar ook waardigheid en integriteit. Dit laat diep wonde wanneer jy beskuldig word van kettery, rasisme, ongehoorsaamheid. Ek is onlangs by ‘n kongres by ‘n universiteit waar die Rektor so terloops na die NG Kerk verwys as ‘n lost case! Ons almal lag, maar dit is soos net nog ‘n hou in die maag, en steek die pyn met ‘n grynslag weg.

Ek leer ook by predikante van kerke wat in die struggle was, dat ook hulle sit met diep verwonding wat al die baklei en selfs die oorwinning oor Apartheid nie kon genees nie. Die pyn van verwerping oor dekades en meer genees nie sommer in een dekade nie, jy dra dit eintlik altyd met jou saam.

Ek weet van myself dat daar in diep kamers van my hart baie trane is waarvan ek nie weet nie omdat hulle gebêre is onder die pretensie van in beheer wees. Ek vermoed ek is nie die enigste nie, maar ek hoor min mense hieroor praat. Ek is redelik seker dat baie van die wantroue, wanhoop en bakleierigheid onder mense in die kerk te make het met die feit dat ons nog nie saam gehuil het nie.

 

Otto Sharmer wat ek onlangs oor geskryf het se as ons nie met n “ open hart” in gesprekke kan ingaan nie, bly die gesprekke intellektuele gesprekke maar ons is self afwesig. Ons is daar maar ons is nie teenwoordig nie., byna asof ons gevries is deur ons on onuitgesproke emosies. Gevangenis van ‘n hartseer wat ons nie weet wat ons mee te maak nie. Ek is bly Gordon Brown het voor die kamera’s gehuil en ek is jammer vir die koningin wat nie kon huil nie, want voor ons nie gehiuil het nie, kan ons nie die nuwe geboortes onvang nie is die punt wat Breuggemann maak in sy wonderlike kommentaar op Jeremia: Only Grief Permits Newness.

Ek wonder vir die soveelste keer oor Jesus wat gehuil het oor Jerusalem. Was dit ‘n oomblik van swakheid? of is dit wat ‘n mens doen as jy die pyn ervaar van ‘n droom wat aan skerwe le, . ‘n wereld wat verby is en nooit weer gaan kom nie maar ver altyd verby is. ‘n Ma met wie ons nooit weer sal kan praat nie, ‘n kerk wat nie een wil word nie…gemeentes wat kwyn ondat hulle nie die nuwe gemeenskappe kan “host” nie. Jy kan self die lys van verliese klar maak.  Ons het dan so gedroom oor ‘n her-eniging oor ‘n nuwe kerk oor gemeentes wat hulle deure en arms oopmaak vir ‘n nuwe gemeenskap. Oor ‘n versoende gemeenskap.

Vanaand huil ek saam met Gordon Brown en Jesus en die Gees en die Vader van die oes sonder die arbeidiers en nou wonder ek wanneer gaan die dag kom dat ons maar saam kan huil, ek het ‘n aanvoeling dat ons nie die nuwe waarvan ons droom in ontvangs kan neem as ons nie eers saam ons harte uitgehuil het nie- ons sal darem immers in goeie geselskap wees.

Jare gelede was ek by ‘n predikante kursus en een van die kollegas wat deur ‘n swaar tyd is- as ek reg onthou is ook van hom ‘n kind oorlede. Hy staan op om ‘n bydrae te maak, en word oorval deur trane, links van hom staan ‘n kollega op en gaan voort met die gesprek asof niks gebeur het nie. Sien dit is hoe ons maak met trane, as ons huil moet ons maar dit op ons eie doen, daar is eenvoudig geen publieke plek, ook nie in gemeente, waar ons mag huil, moet huil nie. So ons steek dit weg en raak net meer ge-isoleer van onsself en ander.