{ARGIEF}

Ek was die afgelope tyd in prosesse waar ek bewus geword het van ‘n generasie wat ontnugter is.

Ek sal vergaderings bywoon, maar ek verwag nie eintlik dat daar iets sal gebeur nie. Gaan maar op my manier aan en doen my ding sonder om te veel te verwag, sê die een. Ek onthou van ‘n ander opmerking ongeveer ‘n week gelede van ‘n ander kollega – ook so rondom die 50: Ag kom ons wees eerlik, ons gaan bymekaar kom, ‘n klomp geld word gespandeer, ons gaan nice wees met mekaar, maar daar gaan nie eintlik iets daarna gebeur nie; ons gaan maar aan soos altyd – so moenie te veel stress of dinge reg of verkeerd gaan loop nie.

Ek kyk skielik in ‘n spieël en begin ‘n koor van stemme om my, maar as ek moet eerlik wees ook soms in my, te hoor, stemme van ‘n generasie wat ontnugter is. Hulle is in leiersposisies in hulle gemeentes, soms in ander posisies van leierskap, maar hulle is nie werklik teenwoordig nie, in elk geval nie met hoop nie.

Ek is ook deel van hierdie generasie, kom ons se maar ontnugterde Boomers om die generasie-taal te gebruik. In baie opsigte het ons te veel mee gemaak vir een generasie. Ons is oorlog toe gestuur as ons wit is, of was in die struggle as ons bruin of swart is. Ons was nie die leiers nie, maar is deur die leiers gebruik om die oorlog te gaan veg of teen Apartheid op te staan. Toe die stuggle tot ‘n einde kom in 1990 was ons net besig om onsself te vestig in ons eerste gemeentes. Ons het almal geglo en gehoop dat dit vinig baie beter sal gaan met die kerke en gemeentes in ons land. Die stuggle kerke het gehoop dat daar vinnige ekonomiese bemagtiging sal kom, die wit kerke het gehoop dat die albatros van Apartheid nou verby is en dat ons mekaar vinig sal vind, eenheid vind en saamwerk in die Nuwe Land.

Dit is nou 20 jaar later. Die hoop het nie gerealiseer nie. Gemeentes oor ‘n bree spektrum het begin swaarkry. Soos wat die ge-sekulariseerde samelweing beslag gegkry het, is kerke al hoe meer na die rand van die samelewing geskuif. Interne konflik het verhoog soos wat gemeentelede hulle stemme laat hoor het in die gees van demokrasie en menseregte. Ons predikante was nie daarop voorberei nie. Erger nog, ons het in baie gevalle onseker geraak oor ons roeping. Die sake waarteen of waarvoor ons gestry het, het in baie gevalle irrelevant geword- ons kinders kyk nie eers op as ons daaroor praat nie. Ons teologie en ons bedienings vaardighede maak nie eintlik ‘n duik in die samelewing nie. En boonop is ons nou al so lank in die kerk, ons sal seker maar klaarmaak, in elk geval waar gaan ons elders brood op die plank vandaan kry!

So, ons daag op, bly stil, doen die minimum, eet die koekies en gaan huis toe en kyk Supersport…of lees die Weg en beplan ons volgende vakansie in Botswana of by die see of ‘n kuier by die kinders in Canada. More gaan ons weer ons werk doen, maar as ons eerlik moet wees het ons opgegee, ons weet al by voorbaat niks gaan tog verander nie.

Ek skryf nie net oor dominees nie, maar ook oor baie van die huidige generasie leiers waarmee ek te doen kry in gemeentes.

Wel (gelukkig) is dit die een helfte van die storie soos ek die afgelope tyd beleef het. “Toevallig” het al die verhale ook ‘n ander kant, daar was ook jonger mense in die gesprekke. Dit is OK as jy voel jy het nie geslaaag nie, se ‘n bloedjong vrouepredikant vir my en my generasie, ons verwag nie van julle om perfek te wees nie, inteendeel dit help ons as julle eerlik is. Ons wil graag by julle leer oor dinge wat ons nog nie weet of ervaring van het nie. Maar dit help ons nie as julle sommer net boedel oorgee nie. Ja alles gaan nie perfek wees nie, maar daar gaan ook dinge gebeur wat reg is, wat hoop gee. Soos jou bediening van die afgelope 20jaar- alles het nie uitgeloop soos wat jy gehoop het nie, maar daar het ook in moeilike omstandighede wonderlike dinge gebeur. Ons is vir ‘n oomblik almal stil, haar sagte jong stem het soos ‘n donderslag geklief deur die vertrek- sy het ons woorde gegee waarmee ons weer kan begin hoop, besef ek na die tyd.

Wat my help se ‘n ander boomer-kollega saam met wie ek groot geword het, is my jonger kollega- ek moet se hy doen dinge op ‘n vreemde manier, maar ek het geleer ek kan baie by hom leer. Ek moet ruimte vir hom gee al dink hy in baie opsigte totaal anders as ek ( as ek eerlik moet wees dink ek soms hy dink eintlik nie reg oor baie dinge nie, maar ek het darem al geleer dat ek ook nie altyd reg is nie). Ek sien hoe daar hoop in sy oe is as hy oor sy jonger kollega preek, hoe sy lyftaal verader van ‘n slagoffer na versigtige hoop.

‘n Paar dae gelede sit ek weer in ‘n proses waar daar baie konflik is. Ek het onlangs ‘n bydrae geskryf oor konflik wat geknak kan word maar hierdie keer is ons omkant gevang deur die aakligheid van konflik wat ‘n kerkraad verskeur en wantroue skeinbaar die oorhand laat kry. Die verwyte slinger van een kant na die ander- sommige loop ander dreig om te loop. Ons keer, praat mooi, luister weer, onderdruk die woede en begin stadigaan ‘n pad kry. Soos gewoonlik sit die jonger klomp agter in die saal en kyk hoe die ouer garde mekaar takel. En toe skielik is dit asof hulle genoeg gekry het, een na die ander staan hulle op eers verskonend en toe later sommer met selfvertroue. Wat hier aan die gebeur is, is nie hoekom ons aan die kerk behoort nie, ons wil graag ‘n verskil maak in ons dorp en ons dink dit begin gebeur, maar wat julle vanaand aanvang dra glad nie ons goedkeuring weg nie. ons sien onverdraagsaamheid, kwade bedoelings, ego’s en ons dink nie dit hoort op ‘n kerkraad nie. Ons ander word stil want ons weet hulle praat die waarheid. Dit word stil in die kerksaal, die strydendes is almal omkant gevang. Ek sien profete opstaan in die jong mense, in hulle dapperheid, maar verstom my aan die manier waarop hulle die saak volwasse hanteer, nie kant kies nie, maar tog ferm hulle afkeur laat blyk vir gedrag wat nie die evangelie waardig is nie. Eenparig kies die kerkraad twee van hulle op die komitee wat die konflik moet besleg.

Is jy dapper genoeg om te erken dat jy ontnugter is? gaan maak vriende met die jong mense in jou gemeente of jonger kollegas in die Ring, luister mooi na hulle en jy sal weer hoop kry.