Wat laat mense in verandering vassteek by die bekende?

Written by Besoeker on . Posted in Transformasie

  • Ek dink die “hulle” is hier eintlik ons almal.  Is dit nie waar dat ons almal instinktief versigtig raak as ons voor die onbekende te staan kom nie?  Laat iemand maar net vir jou blinddoek en oor ‘n hindernisbaan begelei  Almal raak stadig, bang en selfs angstig, want ons weet nie waarheen ons geneem word nie.  Wat mense soos my vriend en ekself moet onthou, is dat ons meestal in prosesse in beheer wil bly.  Ons voorstelle word die pad wat ander moet loop.
  • Om te verlang na die bekende het baie keer te make met die spoed en intensiteit van die proses.  Hoe vinniger en dieper die proses loop, hoe groter is die kans dat ons transformasie-moeg sal raak, en dan is die bekende eenvoudig die maklikste of selfs die enigste manier om te oorleef.  Ek was onlangs verstom oor my eie reaksie toe ek na ‘n flim gekyk het oor apartheidskuld.  Daar het ‘n diep moegheid en moedeloosheid oor my gekom – net nie nog ‘n keer nie – was my gevoel.  Dit terwyl ek gewoonlik die een is wat mense sal aanmoedig om met ‘n oop gemoed en onbedreigd na die verlede te kyk! Die punt is eenvoudig, ek was emosioneel te moeg om die pad weer te loop. As mense seer gekry het – emosioneel seergekry het – en dit word nie geheel nie, is die emosionele energie net nie genoeg om weer oop te maak nie.
  • Van myself weet ek dat ek gewoonlik eenvoudig te vinnig is, en dit maak dat ek nie genoeg na mense luister nie. As mense dan nie inval nie, doen ek die onvergeeflike ding om mense wat nie met my saamstem nie te beskaam. Hoe kan jy nie die verandering steun nie, sal my lyftaal en stemtoon wees. Van mense naby aan my, hoor ek dat ek dan ‘n blindekol het en sonder dat ek dit weet dikwels geneig is om dan mense te laat voel hulle is net nie gehoorsaam genoeg, slim genoeg, gelowig genoeg of wat ookal is nie. Dit is dan wat ek begin preek, en hoe meer ek preek in so ‘n sitausie, hoe meer beskaam ek hulle!!! En hoe meer bou die “resenment” op in hulle, hoe onveiliger word dit om ons broosheid teenoor mekaar te wys. Morele hoë grond en die gepaardgaande beskaming is ‘n sonde wat ons as gemeenteleiers maklik in die naam van die HERE pleeg. Om mense te beskaam – hoe reg jy ookal mag wees – is nie van God nie, maar eerder gebore in eiegeregtigheid.

Dit help my ontdek dat die probleem nie met “hulle” te make het nie, maar met myself, wat nie genoeg luister nie, myself te ernstig opneem, en deur my ongeduld op ‘n subtiele manier in beheer wil bly. Ja, ek weet dit is nie die hele storie nie, maar kom ek vertel vir jou nog ‘n storie:

Ek is onlangs in ‘n klas, ‘n student vra ‘n vraag, ietwat lomp. Hy het die saak duidelik nie heeltemal deurdink nie. Ek sien die gat is sy argument en slaan toe. Binne enkele sinne sien ek hom reg. ‘n Vriend reageer gelukkig rustiger. Ek dink nie ons het alles gehoor wat jy wil sê nie, vra hy aan die student. Luisterend begelei hy die student verder, dieper.  Hy raak vrymoedig en begin voel-voel die eintlike saak wat hy op die tafel wil sit, oopmaak. Dit word ‘n wonderlike, lewensveranderende gesprek. Ek kon hom nie begelei nie, want ek was te gou met my antwoord, en te stadig om te luister …

Maar, ek ken hierdie moedeloosheid waarvan jy praat baie goed, en om die waarheid te sê, as ek eerlik moet wees, my moedeloosheid is dikwels ‘n vrees om te misluk wat ek projekteer op die “hulle” wat halstarrig is. Ek kan hulle nie verander nie, maar ek kan rustiger word, dieper luister, meer bevestig as beskaam, veilige ruimtes skep, sonder om op enige manier prys te gee op my visie. Dit is dan wat ek deur skade en skande leer, waar die teenwoordigheid van die Gees beleef word, waar die Koninkryk inbreek.

Soms breek die genade deur, ten spyte van myself, en lei ek nie vanuit vrees nie, maar vanuit die onvoorwaarlike beloftes van God, kry ek my ego oorwin en regtig gefokus op die ander in my teenwoordigheid. Dit is dan wat ek verstom is oor alles wat tussen mense kan gebeur. Dit is hierdie oomblikke van verwondering wat my ‘n volgende keer weer laat probeer.

{jcomments on}

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment