{ARGIEF}

Cobus van Wyngaard skryf op sy Blog  die Ander kant interessant oor die onlangse navorsing wat aantoon dat Suid-Afrikaners minder gelowig is. Hy wonder oa hoe dit moontlik is om sulke aannames te maak as net 200 respondente in SA deel was van die steekproef?

‘n Daling in godsdienstigheid het die Suid Afrikaanse koerante aan die gons. Alles van Rapport en Beeld tot by Citypress en Sowetan berig dat Suid Afrika minder godsdienstig is. Of as jy Beeld en Rapport se opskrifte moet glo dat “meer die kerk verlaat” en “heelwat minder glo”.

Min predikante sal ontken dat daar ernstige skuiwe in die Suid Afrikaanse godsdienstige landskap aan die gebeur is. En daar is ook geen tekort aan stemme wat of vir ons vertel dat ons besig is om soos “ongodsdienstige Europa” te word, of soos “fundamentalistiese Amerika”. Of ons egter enige werklike prentjie het oor wat aan die gebeur is twyfel ek al hoe meer. Hierdie vlaag van berigte help ons ook nie so baie soos wat die feit dat dit ‘n “gesagvolle navorsingsliggaam” was dit wil laat klink nie.

Eerstens, daar was ‘n volle 200 respondente uit Suid Afrika wat aan die WIN-Gallup studie deelgeneem het. Die minste van enige land op die lys. My agtergrond in statistiek is nie genoeg om te kan sê presies hoe akkuraat 200 antwoorde uit drie opsies sal wees nie, maar dit is genoeg om te kan sê dat as Kanada 35 miljoen inwoners en 1000 respondente het, en Suid Afrika 50 miljoen en 200 respondente, dan is die syfers oor Kanada heelwat meer akkuraat as die oor Suid Afrika. Wat ek egter nog nie kon opspoor vir hierdie studie nie is daai standaard stukkie oor metodologie en sekerheidsintervalle wat saam met statistiese navorsing moet gaan. Hoe random was die 200, en met hoeveel sekerheid kan ons afleidings uit 200 respondente maak?

Lees die volledige bydrae by http://anderkant.wordpress.com/2012/08/13/suid-afrikaners-nie-godsdienstige-mense-nie/