DIE OUER HET OOK BEHOEFTE OM SY SÊ TE SÊ.

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Ons het gesien dat dit belangrik is dat ouers met volle aandag luister na wat kinders sê, dat kinders gereeld genoeg kwaliteit aandag kry en dat dit nodig is dat ouers hulself in hulle kinders se skoene plaas voordat hulle dissiplineer. ‘n Bekommerde ouer vra tereg: “Wat van my? Is dit billik dat ek altyd my kind in ag moet neem terwyl hy nie dieselfde aan my doen nie? Ek het ook behoefte om te sê hoe ek oor ‘n saak dink en voel en is van mening dat dit reg is om te verwag dat  my kind my ook  in ag sal neem.”

Natuurlik is ouers ook maar mense met behoeftes, gevoelens en probleme. Daar is tye wanneer ‘n kind se gedrag vir jou onaanvaarbaar is en jou irriteer of woedend maak:
Kobus luister na ‘n program op die televisie terwyl jy besig is om ‘n belangrike staat op te stel in die studeerkamer. Die volume is so hoog gestel dat jy nie kan konsentreer nie
Chris gebruik jou gereedskap om sy fiets te herstel en laat dit buite in die reën lê.
Anna het nie die skottelgoed gewas nie.

In bogenoemde gevalle behoort die probleem aan die ouer: Sy of haar behoeftes is nie bevredig nie en hy mag voel dat hy die “reg” het om die kind “by te kom”. Meesal reageer die beproefde ouer met iets soos die volgende:
“Skakel onmiddellik die televisie af.”
“Kan jy nie meer bedagsaam wees nie?”
“As jy nie nou die televisie afskakel nie, kom ek dit vir jou doen!”
“Hoe sou jy daarvan hou as ek dit aan jou doen wanneer jy met iets belangrik besig is?”

Hierdie is almal outokratiese response wat die kind afkraak – dit word ook “jy boodskappe” genoem. Die boodskappe het gewoonlik nie ‘n goeie nadraai nie. Dit gee gewoonlik aanleiding tot ‘n magstryd. “Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Ek kan nie die televisie verskuif nie, hoekom kan Ma nie op ‘n ander plek gaan sit nie.” Die kind beleef dat hy in sy ouer se oë nie goed genoeg is nie – dat daar ‘n fout met hom is en hy voel magteloos, skuldig en moontlik opstandig. Die ouer voel ook moedeloos en ontoereikend.
Dit sou ook nie help om na die ander uiterste te gaan en permissief op te tree nie: “Kobus, my liewe seun, jy is altyd so goeie kind. Pappa sal baie daarvan hou as jy die televisie se volume sal afdraai.”

Die effektiewe manier om die probleem te hanteer is om ‘n boodskap te gee wat direk maar nie veroordelend is nie: :
•    Sê eerlik hoe jy voel.
•    Beskryf die probleem.
•    Beskryf die gevolge wat die probleem inhou.

“Kobus, ek raak nou paniekerig, want ek moet hierdie staat voor vanmiddag afhandel en TV wat so hard praat trek my aandag af.”
“Chris, dit maak my woedend as die gereedskap in die reën lê, want dit roes.”
“Anna, as die skottelgoed nie gewas is nie, is ek teleurgesteld, want dit is onnet en nie higiënies  nie.”

Wanneer ‘n ouer ‘n “jy Boodskap” gee voel die kind gewoonlik jammer vir homself.
In teenstelling daarmee voel die kind jammer oor sy gedrag die ouer ‘n “ek boodskap” gee. Volgende keer gesels ons weer oor ek boodskappe,

Trackback from your site.

Leave a comment