{ARGIEF}

Beleef jy dat jou kind dikwels nie met respek teenoor jou optree nie?

Moet jy baiekeer herhaal en dreig voordat jou kind reageer?

Gee jy dikwels uit moedeloosheid toe aan jou kind se geneul oor iets wat sy wil hê?

Is daar dikwels nie  vrede in die huis nie?

AS jy “ja” antwoord op een of meer van die vrae, het jy POSPAR nodig om jou te bemagtig om verantwoordelike te dissiplineer. 

POSPAR se definisie vir suksesvolle dissiplinering is dat die kind iets daaruit  sal leer; dat die dissiplinering die kind sal help om te groei en dat dit die atmosfeer in die huis sal verbeter. Dit stel ook die ouer in staat om net een keer te praat.

Voordat ons aandag gee aan hoe om te dissiplineer, is dit nodig om kennis te neem van wat Stephen Covey sê:

“One of the biggest mistakes people make is trying to teach (or influence or warn or discipline) before they have the relationshop to sustain it.” 

Ons bou ‘n verhouding met ons kinders deur eerstens genoeg tyd en kwaliteit aandag aan hulle te spandeer (lees weer die gedeelte oor kwaliteit tyd op die blog is). Soms het ons nie tyd vir ons kinders nie, omdat óns te besig is. ‘n Ouer wat baie ontsteld is omdat haar tiener seun van die huis weggeloop het, vertel dat sy baie gemeenskapsbetrokke is en behalwe dat sy ‘n voltydse werk het, behoort sy nog aan tien organisasies! Dit kan ook wees dat die kind se program te vol is. Dit is nie nodig dat sy aan min of meer al die buitemuurse aktiwiteite deelneem nie.

Tweedens bou ons ‘n verhouding deur empaties te wees. Dit beteken om jouself telkens in die kind se skoene sal plaas om te probeer ervaar hoe die kind oor ‘n saak voel en om dit dan te verwoord.  Jannie kom met ‘n swak rapport by die huis en Pa sê: “So lyk ‘n rapport as ‘n mens nie leer nie.” Jannie bars in trane uit en gaan sluit homself in die kamer toe. Indien Pa homself in Jannie se skoene geplaas het, sou sy reaksie, terwyl hy sy arm om Jannie se skouers gesit het, waarskynlik gewees het: “Jy voel seker baie teleurgesteld”. So ‘n reaksie sou die deur oopgemaak het vir verdere kommunikasie oor hoe  die saak hanteer kan word om ‘n herhaling te vermy.

Ons gesels volgende keer verder oor dissipline.