{ARGIEF}

Gedurende die laaste week of twee het 3 verskillende ouers met my gepraat oor hulle kinders, toevallig almal dogters, wat skielik “anders” is as voorheen. Hoewel nog ‘n bietjie jonk daarvoor, vermoed hulle dat dit “tienergedrag” is.

Hulle is waarskynlik reg, want volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie begin puberteit vandag vroeër as ooit tevore, en wel rondom 10 jaar. Waarom? Ons het nog nie al die antwoorde nie. Onlangs het iemand genoem dat hulle vermoed al die hormone wat kinders saam met hulle kos inkry, ‘n rol kan speel. Dink maar aan waarmee hoenders deesdae gevoer word (ek neem egter nie verantwoordelikheid vir die uitspraak nie). Feit bly dat kinders “beroof” is van ‘n  latente fase tussen kind wees en puberteit waar die puberteit nog sluimerend was. Dit sal egter nie help om die hoenderboere of wie ook al te beskuldig nie. Die hedendaagse ouer staan voor die uitdaging om die situasie te hanteer.

Hoekom verander liewe kinders meteens in vreemde, moeilike wesens? Kom ons kyk waar puberteit en adolessensie vandaan kom:

  • Puberteit verwys na die fisiese veranderinge wat plaasvind om die kind te verander in ‘n seksueel ontwikkelde wese. Die brein en die pituïtêre klier stel hormone vry wat die voortplantingsorgane van seuns en dogters reguleer. Die proses se aanvang verskil van persoon tot persoon en dit kan van een tot ses jaar duur.
  • Adolessensie verwys na al die ander veranderinge- emosioneel, sielkundig, sosiaal en kognitief wat kort op aanvang van die puberteit volg.

Die effek van hierdie gebeure op die ontluikende tiener kan vergelyk word met ‘n serebrale sikloon. Die adolessent struikel te midde van die sikloon voort op sy of haar ontwikkelingspad, sonder ‘n kaart of kompas. Daar ontstaan konflik met ouers, broers en susters en hulle is besorg oor “peers”, die skool, hulle voorkoms en veiligheid. Drukgroepe speel ‘n belangrike rol.

‘n Groot komplikasie vir beide ouer en tiener is dat die brein nie teen dieselfde tempo verander as die liggaam nie. Die ouer ervaar dat die adolessent nie noodwendig na rede luister nie en  buie verander teen die spoed van lig. ‘n Emosionele uitbarsting kan gevolg word deur ‘n periode waarin hy of sy hulle “ou self” is. Hoe verwarrend!

Ouers weet dikwels nie vorentoe of agtertoe nie, maar kan ook nie anders as om simpatie te hê met die dilemma waarin die kind ongevraag as gevolg van al die liggaamlike veranderinge beland nie. Ons weet nou ten minste dat hulle “abnormale” gedrag, “normaal” is vir hulle ouderdom.

Volgende keer gesels ons met die drie gemelde ouerpare en met ander ouers wat wil saam gesels oor hoe hulle die saak die hoof bied.