{ARGIEF}

As jou kind weerstand bied en nie sekere kossoorte wil eet of die klere wil aantrek wat sy ouer gekies het nie, of as hy nie ‘n voorwerp wat hy beet kry wil afgee nie, het die ouer twee keuses: Dwing hom om te doen wat van hom verwag word. Dit sal erger weerstand uitlok, maar nou ja, as die kind klein is, kàn die ouer hom nog forseer, want hy beskik oor mag. Die ander moontlkheid is om jouself in jou kind se skoene te plaas en deur sy oë te kyk en waardering te kry vir sy poging tot: “Ek wíl sélf.” As dit nogtans nodig om op te tree, kan die ouer ferm maar vriendelik  wees. Die weerstandige kind sal gewoonlik opdragte respekteer as die ouer die probleem aanspreek en nie die kind nie. Wag net ‘n oomblik en skei eers die probleem van die kind. Sê vir jouself: “Jannie is goed, maar wat hy doen is nie reg nie.“ Verwoord dit dan: “Jannie, die probleem is dat as die bekertjie val sal dit breek, kom ons gee vir jou ‘n ander bekertjie wat nie sal breek nie.”

Om ‘n positiewe verhouding te bou en jou kind se samewerking te verkry is die mikpunt eerder as om ‘n antagonistiese verhouding te skep en ontwikkel. Daar is ongelukkig nie kortpaadjies nie. Dit neem TYD en is ‘n stadige en dikwels vermoeiende proses vir die ouer.

Selfs tydens ‘n humeuruitbarsting help dit dikwels om op ‘n rustige manier die klein kind se aandag op iets anders te vestig waarin hy belangstel – hom te help om sy aandag te verplaas. Dit help ook om sy omgewing te verander. Neem hom na ‘n ander vertrek, bly by hom en kry hom geïnteresseerd in iets nuuts.

Die klein kind met ‘n gebrek aan sekuriteit is geneig tot uitbarstings. Hy het ‘n begrypende volwassene nodig wat altyd binne bereik is. Straf is geneig om die gevoel van onveiligheid te vererger, ook woorde soos “jy is stout”, wat die boodskap oordra dat die kind nie goed genoeg is nie..

Om humeuruitbarstings te voorkom is ‘n veel beter opsie as om dit behandel. Die kind wat honger of moeg is sal makliker uitbarstings kry. Dit help om te sorg dat kinders op gereelde tye eet en genoeg slaap kry. ‘n Kind het ook maatjies nodig en speelgoed wat pas by sy ontwikkelingsfase (dit hoef nie duur te wees nie).

Ons gaan volgende keer voort met humeuruitbarstings by groter kinders.