IS LIBERALE EN DEELNEMENDE OUERSKAP DIESELFDE DING?

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Interessant
dat Jan noem dat hy en Amelia aanvanklik skepties was omdat dit op die
oog af gelyk het asof Frederick en Anita, wat POSPAR beoefen, hulle
kinders baie “liberaal” grootmaak, waarskynlik omdat die kinders van
kleins af die reg gehad het om hulle mening oor sake te gee en om wat
hulle ouers sê te bevraagteken.

Ek
gaan my bes probeer om die verskille en gepaardgaande voor- en nadele
van liberale ouerskap (in POSPAR gebruik ons die term “toegeeflike” of “good parents”) en deelnemende ouers uit te lig. Laat weet maar as dit nie duidelik genoeg is nie, of as julle anders daaroor voel:

  • Ons definisie vir toegeeflike ouers
    is: Ouers wat aan kinders vrye teuels gee om te doen wat hulle wil en
    om te kom en te gaan soos hulle wil. Sulke ouers vermy dit om grense te
    stel, en as daar enkele grense is, om te sien dat dit eerbiedig word.

Ouers met dié siening gee nie aan kinders leiding nie, en dit laat hulle onseker en
verward voel oor wat reg en wat verkeerd is. Hulle leer ook nie nie wat
aanvaarbare gedrag is en wat ongewens is nie. Daar gebeur dikwels ‘n
eienaardige ding met die kinders van toegeeflike ouers: As die ouers
toegeeflik is, word die kinders outokraties (hulle sit op die ouers se
koppe). Hulle skryf vir die ouers voor en het nie ontsag vir
gesagspersone soos onderwysers nie. Teenoor maats tree hulle dominerend
en selfsugtig op, met die gevolg dat hulle nie gewild is nie.

  • Deelnemende ouers,
    daarenteen, is ouers wat hulle verantwoordelikheid ernstig opneem. Dit
    is ouers wat in hulle kinders se vermoëns glo (wie sal as hulle dit nie
    doen nie?) en daarom met oorgawe luister, terwyl ‘n kind geleentheid
    kry om sy of haar saak te stel, sonder om af te kraak .

Hulle
bevorder ook hulle kinders se selfstandigheid deur keuses soos:
“Jannie, wil jy ‘n vol of ‘n halwe glas koeldrank hê? Of: “Wil jy voor
of na ete musiek oefen? Hierdie en ander geleenthede
om self besluite te neem, gee aan ‘n kind geleentheid om
verantwoordelik te wees vir die gevolge van hulle keuses en besluite.
Jannie sal waarskynlik ‘n vol glas kies, maar dan weet hy gewoonlik uit
ervaring dat hy nie iets anders sal kry voordat hy alles gedrink het
nie. Die kind van ‘n deelnemende ouer wat kies om na ete musiek te
oefen, sal weet dat sy nie eers “Sewende Laan” kan kyk voordat sy oefen
nie. Die keuse is die kind s’n, maar ook die gevolge.

Omdat
deelnemende ouers hulle kinders se sienings en gevoelens respekteer,
leer die kinders ook om ander mense en hulle benaderings en gevoelens
te respekteer. Die gevolg is gewoonlik dat hulle gewild is by
gesagspersone en maats en dat hulle ‘n positiewe selfbeeld ontwikkel.
Miskien is die grootste voordeel dat hulle nie eendag, as hulle groot
is, besluiteloos sal wees of ondeurdenkte besluite sal neem nie. Om ‘n deelnemende ouer te wees is nie die maklike uitweg nie; dit vra harde werk en baie tyd, maar glo my, ek het deur die jare gesien hierdie kinders ontwikkel en presteer. Wat ‘n belegging!

Trackback from your site.

Leave a comment