{ARGIEF}

Kinders is mal daaroor om iets alleen saam met ‘n ouer te doen en dit sluit beide ouers in. Kwaliteit tyd wat een ouer met kinders deurbring, vergoed nie vir die van ‘n afwesige ouer nie.  Alleentyd met beide ouers is vir ‘n kind baie spesiaal, want daar is so dikwels ander gesinslede of volwassenes, werk en vele ander sake wat ook meeding om aandag.

Kom ons kyk ‘n bietjie meer indringend na wat kwaliteit-tyd is:

  • Dit is om saam met jou kind te doen wat die kind graag wil doen. As die ouer die kind nooi om te gaan fiets ry omdat die ouer daarvan hou, is dit nie kwaliteit tyd nie. As die kind daarvan hou en dit aan die hand doen en die ouer gaan saam met hom ry, is dit wel. As die kleuter graag op die mat wil rondrol en die ouer doen dit saam, is dit vir hom kwaliteit tyd en groot pret en word daar gebou aan ‘n positiewe verhouding. ‘n Mens is so geneig om iets anders aan die hand te doen as die kind met ‘n voorstel vir ‘n aktiwiteit kom soos wanneer die kleutertjie byvoorbeeld vra om wegkruipertjie te speel en die ouer aan die hand doen dat lekkerder sal wees om ‘n bal te skop of ‘n storie te lees. Die geheim is om te doen wat die kind voorstel. ‘n Ouer sou byvoorbeeld: ‘n uitnodiging aanvaar om “Monopoly” te speel (al wil hy dalk die uitgerekte speletjie verdoop na “monotony”); op die kind se versoek saam met hom in die motorhuis timmer, selfs wanneer hy sou verkies om rustig ‘n boek te lees; n uitnodiging aanvaar om op ‘n koelerige dag te gaan swem; dieselfde storie vir die hoeveelste keer lees.
  • Tweedens kan kwaliteit-tyd kan ook beteken dat jy soms saam met jou kind dinge doen wat jy voorstel en waarvan hy baie hou. Die onveilbare toets is dat dit sal deurgaan as kwaliteit tyd as die kind opgewonde is oor jou voorstel.Nooi dus gerus jou kind om saam met jou te gaan tennis speel – jy sal gou agterkom of hy entoesiasties is daaroor.Bied aan om saam met jou kind kleinkoekies te bak of lekkers te maak. Pas op om nie teveel raad te gee nie. Laat die kind toe om self inisiatief te neem. Nooi jou jong kind saam na ‘n konsert of vertoning – dit laat haar moontlik goed voel om na so ‘n grootmens geleentheid saam met jou te gaan. Nooi jou kind om saam te gaan inkopies doen. Verdeel die lysie in twee indien julle kruideniersware koop en vra die kind om een van die lysies se items te soek en in te pak. Julle sal moontlik voel asof julle vennote is. Pa nooi die kind om alleen saam met hom na ‘n wedstryd te gaan kyk. Een pa vertel hoe hy elke Woensdagoggend een van sy kinders nooi om voor skool saam met hom te gaan ontbyt eet. Omdat hulle entoesiasties is daaroor, is dit nooit ‘n kwessie dat die betrokke kind vroeër moet opstaan vir die geleentheid nie.
  • Derdens sluit dit ook die tyd in wat gebruik word vir gevoelskommunikasie tussen ouer en kind is. ‘n Kind beleef dat hy sekuriteit het as hy of sy seker weet dat sy ouers lief is vir hom of haar en dit kommunikeer – deur vir die kind te sê dat jy vir hom lief is (veral wanneer hy dit nie verwag nie) en dit ook nie-verbaal oordra. Jy soen, streel en druk hom. Kinders van alle ouderdomme het ‘n diepgaande behoefte aan liefde en vertroeteling. Wees egter sensitief oor hoe, waar en wanneer jy vasdruk. ‘n Tienerseun wil moontlik nie voor sy maats oorweldig word met drukkies en soentjies nie, maar hy sal dit baie geniet as sy rug gekrap of sy kop gevryf word terwyl julle televisie kyk. Seuns geniet ook ‘n stoeisessie met Pa. ‘n Liefderyke, waarderende briefie of notatjie sal sal moontlik bewaar en gekoester word. ‘n Waarderende glimlaggie in jou kind se rigting, is soms net wat nodig is.

  • Vierdens is daar roetine kwaliteit-tyd. Gedurende die elke dag se roetine handelinge is daar geleenthede vir rituele. Dit is hierdie intieme, herhalende rituele wat kinders onthou nadat hulle lankal groot is. Daar is geleenthede soos slaaptyd met gepaardgaande stories, drukkies en ‘n laaste karnuffel; skool toe gaan saam met Pa terwyl Ma waai tot die kar om die draai is; dieselfde lekker liedjie, versie of gesegde wat elke oggend herhaal word voor die vertrek maak daarvan ‘n okasie; ‘n spesiale skuimbad wat net toelaatbaar is die aand voordat ‘n kind teruggaan koshuis toe, afgerond deur sy geliefkoosde gereg vir ontbyt laat hom spesiaal voel en versag die afskeid. Kwaliteit aandag as ma of pa terugkom van die werk (in plek daarvan dat daar dadelik na die pos gekyk word of begin word met die aandete), word vir kinders tye om na uit te sien. Tyd om te luister as die kind van die skool af kom is gewoonlik daarvoor verantwoordelik dat jou kind vir die res van die dag gekoester voel. ‘n Kind het behoefte om met sy ouer te bind as hy kom of gaan. ‘n Paar minute om te luister, speel of drukkies uit te deel kan wondere verrig sodra die ouer tuis kom of voordat hy die huis verlaat op pad na iewers. Dit help ook as die kind weet waarheen die ouer op pad is en wat hy gaan doen. Dit is ook kwaliteit-aandag wat ‘n ouer bestee wanneer hy of sy ‘n kind entoesiasties maak oor sy werk of gemeenskapsdiens projek. Inligting oor nie-konfidensiële sake wat daarmee verband hou laat hom belangrik voel.
  • Vyfdens is die tyd wat jy spandeer om teenwoordig te wees en te deel in die spesiale okasies in jou kind se lewe ook kwaliteit-tyd. Dit sluit in die bywoning van sportdae, om saam te gaan as jou kind die eerste dag skool toe gaan, die viering van verjaardae op die manier wat hy verkies, ope dae by die skool of kleuterskool en prysuitdelings.

Kinders het kwaliteit tyd nodig.

Soos ‘n blom water nodig het om te groei, so gedy ‘n kind op kwaliteit tyd.

Ouers het gewoonlik nie tyd daarvoor nie en moet dus tyd maak daarvoor.  Dit word gedoen deur ‘n perk te plaas op sosiale verpligtinge, deur  te kies om iets saam met jou kind te doen  eerder as om die kombuisvloer te was, deur op ongestrykte lakens te slaap omdat jy saam met jou kind gaan swem het, deur saam stories te lees eerder as om na die televisie te kyk. Jy sal die vrugte daarvan pluk in die vorm van ‘n positiewe verhouding met jou kind.