{ARGIEF}

Ons kan deelnemende ouerskap vergelyk met ‘n pad wat tot ‘n eindbestemming lei waar goeie verhoudings en positiewe waardes gevestig is. Elke POSPAR ouer stap met die pad. Langs die pad gee POSPAR noukeurige aanwysings wat gevolg kan word om veilig by die eindbestemming aan te kom. Daar is egter ‘n vangplek: Die pad het ‘n stewige basis of fondament nodig, anders ontstaan daar slaggate wat vordering belemmer of selfs onmoontlik maak. Ouers wat op pad is met deelnemende ouerskap is self vir die instandhouding van die basis verantwoordelik. Hulle doen dit deur kwaliteit aandag aan hulle kinders te gee – kwaliteit tyd ís die fondament van deelnemende ouerskap.

Die waarheid is dat ouers gewoonlik nie tyd het daarvoor nie. Hulle moet dit skep, maar hoe?

  • Eerstens is dit nodig dat ouers hulle lewens sal vereenvoudig en
  • tweedens is dit nodig om te beplan of begroot vir tyd vir aktiwiteite met kinders (oor hierdie een gesels volgende keer).

‘n Eenvoudige(r) leefwyse (ek sukkel daarmee en dit sal my help om saam met u daaroor te besin)

Gordon Mc Donald gebruik in sy boek, ‘n Tyd vir orde, die volgende slagspreuk: “Pasop vir die leegheid van ‘n besige leefwyse”. Willem Nicol sê in sy boek, Rykdom in eenvoud: “Daar is verskeie sake in ons oorvol lewe wat ons nie sal doodmaak as ons minder aandag daaraan gee nie.”

Hoewel dit net ‘n ouer self is wat sal kan vasstel wat die sake is “wat nie sal doodmaak” as hy of sy minder aandag daaraan gee nie, kan ons mekaar aan die dink sit oor moontlikhede. Ek noem daarom voorbeelde van hoe ouers daarin geslaag het om hulle lewens te vereenvoudig om tyd te maak vir kwaliteit tyd met kinders:

Pieter vertel hoe hy sy spogtuin met ‘n inheemse tuin vervang het. Die tuin het nie net ‘n kwart van die aandag nodig wat die vorige tuin geverg het nie, dit benodig ook feitlik geen besproeiing nie. Tot sy verbasing stel sy kinders ook baie meer belang in sy nuwe tuin, raak opgewonde oor elke nuwe blommetjie en soek oral na inheemse plantjies. In die verlede was die baie aandag wat hy aan die tuin gegee het tot nadeel van sy verhouding met sy kinders, nou bring hulle daar kwaliteit tyd deur.

Anida vertel dat sy haar huishouding vereenvoudig het om meer tyd vir haar kinders te maak deur op te hou om ure lank te stryk. Sy probeer om klere te koop wat nie te sleg lyk as dit nie gestryk word nie en het opgehou om te wonder : “Wat sal die mense sê?” Klere word nou net netjies opgevou en weggepak. Sy stryk ook nie meer lakens en slope nie, want sy weet van niemand wat iets oorgekom het as hulle op ongestrykte lakens slaap nie.

Jeanne kon nooit nee sê nie en het aan tien verskillende organisasies behoort, almal voortreflike sake. Sy het dit verminder tot twee en het nou meer tyd vir haar gesin.

Liewe ouers, help asseblief met nog voorbeelde!