{ARGIEF}

Dit help ouers ook om hulself daaraan te herinner dat stadiums verbygaan – hierdie een sal ook.  Ouers kan ook saamwerk om die stadium gouer te laat verbygaan. As die ouer verstaan waarom sy kind nou weer geneig is tot uitbarstings, is dit makliker om met begrip op te tree. En onthou dat om begrip te openbaar nie beteken dat reëls opgehef word nie. Die onbegrypende ouer sal gewoonlik sy humeur verloor en sê: “Kom dadelik bad of jy kry met my te make.” As die ouer sy humeur verloor, sal die kind se weerstand vermeerder. Die begrypende ouer, wat in staat is om hom- of haarself in die kind se skoene te plaas, sal sê: “Ek verstaan dat dit ‘n groot prestasie is dat jy geleer het om fiets te ry en dat jy graag nog ‘n bietjie wil oefen, maar dit is nou badtyd. Jy kan môre weer ry.”

Die kind sal dikwels, maar nie altyd nie, positief reageer op sy ouer se empatiese response. Dit mag ook wees dat dit nie gebeur nie en dan kan dit help om hom heel kalm aan te sê om kamer of badkamer toe te gaan totdat hy “reg” (kalm) is. Dit is nie nodig om te reageer as hy uit sy plek van afsondering skree: “Ek haat jou,” nie. Dit is moontlik om terselfdertyd lief te wees vir iemand en hom te haat en dit is beter dat jou kind uitdrukking gee aan sy tydelike haat, anders krop hy dit op en word dit ‘n permanente wrewel. As die storm uitgewoed is, sal hy gewoonlik terugkom en gereed wees om te gaan bad. Ontvang hom met liefde en dit is beslis nie dan tyd vir ‘n prekie nie. Mettertyd sal u kind die humeuruitbarstings ontgroei en sy ouers se hoflike manier van doen en praat oorneem.

Volgende keer gesels ons weer oor hierdie baie aktuele onderwerp.