‘n POSPAR MA STAAN HAAR ONTLUIKENDE TIENER BY

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Ek vertel vandag, soos ek beloof het, wat ‘n jong tiener se ma vertel oor wat sy doen om dié fase die hoof te bied. En ja, POSPAR-opleiding vrywaar nie jou kind van tipiese tienergedrag nie. Dit help jou wel om ‘n ‘n siening te ontwikkel oor hoe dit hanteer kan word en gee vir jou “gereedskap” daarvoor.

Sy vind dat Elmien meteens begin het om anders op te tree as voorheen.

Eerstens het sy periodiek onbeheerste emosionele uitbarstings. Ma Christa tree dan empaties, maar beslis op: “Ek weet dat jy ‘n behoefte het om te skree, maar ek wil dit nie in my ruimte hê nie. Jy is welkom om na jou kamer te gaan om te skree.” Sy het ook, by ‘n ander geleentheid, toe daar ‘n goeie oomblik tussen hulle was, haar begrip vir die uitbarstings uitgespreek en met Elmien ooreengekom dat sy enige tyd, as sy voel dat sy haarself nie kan beheer nie, na haar kamer mag gaan en dat niemand haar sal aanspreek as sy daar raas en te kere gaan nie. Sy vind dat dit nodig is om aan haar kind ruimte te gee om uitbarstings te hê.

Sy deel ook haar wenke in dié verband met ons: “Moenie met die kind wat ‘n uitbarsting het in ‘n gesprek of redenasie gaan nie. Die kind is nie op daardie stadium in staat om logies te dink nie. Dit is onnodig om jou eie emosionele energie te vermors op die situasie nie. Sien eerder die uitbarsting vir wat dit is, naamlik die reaksie van ‘n kind wat verwar word deur al die veranderinge wat in haar plaasvind. Dit gaan verby.”

Tweedens vind ma Christa dat Elmien skielik vergeetagtig en verstrooid is – veel meer as ooit tevore. Sy sê ook dat dagdroom op die oomblik vir haar die heel lekkerste aktiwiteit is. Elmien vergeet skielik haar sportklere of boeke by die huis en dit is vir haar ‘n verleentheid.

Christa het Elmien met POSPAR dissipline grootgemaak: Sy het vir haar keuses met logiese gevolge gegee en het haar laat ervaar dat gedrag gevolge het en dat as jy onverstandig optree, jy verantwoordelikheid moet aanvaar vir die gevolge van jou gedrag. As sy byvoorbeeld haar kosblik tuis vergeet het, moes sy die gevolge dra – Ma het nie huis toe gery om die kosblik te gaan haal nie. Hier aan die begin van Elmien se puberteit vind sy egter dat dit nodig is om ‘n bietjie skiet te gee, haar kind meer te ondersteun en om nie rigied te wees nie. Sy verstaan dat die vergeetagtigheid deel van haar huidige verwarring is en het aan ‘n manier gedink om haar kind te help “to save face”. Sy vra nou elke oggend as hulle ontbyt eet vir Elmien wat sy alles by die skool aan het: As sy netbal speel en die klere daarvoor vergeet het, kan sy dit gou gaan haal. Voordat sy by die deur uitgaan vra sy ook vrae soos: Het jy tande geborsel? Het jy jou kosblik? Het jy jou hare gekam? ensovoorts. Hulle het ook ooreengekom dat sy Elmien soggens 15 minute vroeër wakker maak sodat sy ‘n bietjie kan dagdroom.

Derdens het Elmien meer bewus geraak van haar voorkoms. Sy wou byvoorbeeld vir haar ‘n lipstiffie koop. Hulle is toe op ‘n inkopietog en by die eerste plek het die lipstiffie R60 gekos. Wetende dat Elmien nog glad reg was vir die lipstiffie-fase nie en waarskynlik net sou eksperimenteer, is hulle na ‘n volgende winkel waar hulle een vir R10 gekoop het. Toe sy na twee probeerslae belang verloor het, was die skade nie te groot nie. Die reël bly staan dat sulke luukses uit haar sakgeld gekoop word. Sy wou ook graag vir massering gaan en Christa masseer nou self elke aand die lyfie laventelolie te masseer. Dit maak Elmien rustig en verstewig hulle verhouding.

Trackback from your site.

Leave a comment