{ARGIEF}

 Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Die afgelope week was ‘n hartseer tyd. Dit gons in ons land en die moord op  Eugene Terreblanche is ‘n gespreksonderwerp in bykans elke huis. Mense soek na  ‘n simplistiese oorsaak daarvoor: Is hy vermoor  omdat ‘n leier ‘n liedjie gesing het wat ruimte skep vir die minagting van mense se lewens? Het dit gebeur omdat mense wat betaal moes word, nie betaal is nie?  Was alkohol die oorsaak van die tragedie? 

Ouers se bespiegelinge en uitsprake oor die aangeleentheid sal ‘n blywende indruk op hulle kinders maak. Afhangende van wat hulle sê, sal hulle bydra tot die skep van óf ‘n versoenende óf ‘n haatdraende gesindheid in hulle gesinne. Die gesindheid wat geskep word sal ook soos suurdeeg verder versprei, want elke gesin beïnvloed ook ander mense en gesinne.  Wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid het ouers.

‘n Ontstellende berig soos die moord op Eugene Terreblanche kan egter ook ‘n geleentheid wees om saam met ons gesinne introspeksie te doen binne ons godsdienstige perspektief. In ons gesin het ons geworstel en gepraat en ons eie gesindheid onder die vergrootglas geplaas. Om sin te maak uit  die ontstellende gebeure was ent-ent ‘n pynlike proses. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n gebrek aan respek teenoor mekaar moontlik een van die oorsake van die tragedie was: As ‘n mens nie respek vir ander het nie, sing jy liedjies soos  “Kill the boer, kill the farmer” en “Bobbejaan klim die berg” om mekaar te tart. Ons het die hand in eie boesem gesteek en erken dat ons ook nie altyd genoeg respek teenoor alle ander mense betoon nie. Eindelik het  ons by die punt gekom waar ons ooreengekom het dat ons graag ‘n klein bydrae tot die voorkoming van geweld in die land wil maak. Ons  het twee voornemens vir onsself geformuleer:

1. Ons gaan daarna streef om alle mense met respek te behandel – selfs al handhaaf ons verskillende standpunte.

2. Ons gaan mense respekteer deur nie onsself hoër as enige ander mens te ag nie.