{ARGIEF}

Daar word beweer dat gemiddeld 80 tot 90% van die daaglikse kommunikasie van ouers met hulle kinders, negatief is: “Vee jou hare uit jou oë, moenie so snuif nie, hou dadelik op om jou klein sussie te terg” en so kan ons voortgaan. So probeer ouers om hulle kinders te leer om aanvaarbaar op te tree.

Ouers aanvaar aan die ander kant dat kinders veronderstel is om reg te doen en is geneig om nie erkenning te gee, aan te moedig of waardering uit te spreek vir die alledaagse dingetjies wat hulle reg doen nie.

Die volgende gesprek ten opsigte van Jannie, wat bekend is as die “stoutste” seuntjie in die familie, is tussen sy moeder en haar suster gehoor:  “Jy weet ek en die kinders het onlangs ‘n week by Lettie (hulle oudste suster) gekuier. In die tyd was Jannie nie een keer stout nie. Lettie het hom so geprys vir wat hy kan doen en soveel waardering teenoor hom uitgespreek dat hy homself net eenvoudig nie kon swak gedra nie.” Dit laat ‘n mens dink: Lettie het die wysheid gehad om waardering uit te spreek vir die dinge wat hy reg gedoen het, en het so daarin geslaag om sy gedrag ten goede te verander.

Daar is ook die mooi verhaal van die ma wat na ‘n kinderpartytjie om die eerste hoek stilgehou het en kommentaar gelewer het:: “Ek het julle dopgehou en is regtig trots op julle. Julle het nie teveel geëet nie, maar julle het die eetgoed geniet en dankie gesê daarvoor, julle was nie luidrugtig nie, maar het tog heerlik saamgespeel”, en so het sy voortgegaan. Natuurlik het die kinders goed gevoel oor hulself en sou hulle sekerlik by ‘n volgende geleentheid weer goed gedra. Dit is moontlik dat die moeder by geleentheid met die kinders gesels het oor wat aanvaarbare gedrag by partytjies is.

Verwoord ons waardering as Sannie haar bed opgemaak het, of lewer ons net kommentaar as sy dit nie gedoen het nie? Sal dit nie meer waarde hê as ons gereeld waardering uitspreek as sy dit gedoen het, selfs al was dit nie perfek nie? Sê ons vir tiener wat saam met maats uitgaan: “Ek weet dat ek jou kan vertrou”,of demonstreer ons dat ons bang is hy of sy doen verkeerd deur ‘n prekie te gee oor wat hy behoort te doen en nie behoort te doen nie?

Probeer gerus om die bewering wat aan die begin gemaak is, om te draai. Beklemtoon wat u kinders reg doen, bemoedig hulle en spreek vertroue in hulle uit (as ouers nie in hulle glo nie, wie sal?) sodat 80 – 90% van wat u sê positief is en net 10 – 20% negatief en kyk wat gebeur!