{ARGIEF}

Laat ons realisties wees: Konflik in gesinne is onvermydelik selfs in Jesus se gesin was konflik toe hy in die tempel agtergebly het. Konflik op sigself is nie noodwendig sleg nie.  Dit gaan eerder oor hoe die konflik hanteer word. Konflik kan lei tot groei of tot die vernietiging van verhoudings. Ons weet ook almal dat dit nie gesond is om konflik te onderdruk nie – bring dit eerder na die oppervlak en spreek dit aan.

Earl H. Gaulke noem sy kostelike boekie oor Christen ouerskap: “You Can Have a Family Where Everybody Wins”. Dit impliseer dat daar ook gesinne is waar almal nie wenners is nie.  Inteendeel! Daar is gesinne waar die ouers meesal as oorwinnaars uit die stryd (konflik) tree – dan is die ouers die wenners en die kinders die verloorders. Daar is ook gesinne waar die kinders meesal die oorwinnaars is – dan is die kinders die wenners en die ouers die verloorders.

Kom ons kyk na die drie moontlikhede:

Sannie:  Totsiens Mamma.  Ek gaan by Sannie speel.

Mamma: Dit is koud. Trek gou vir jou ‘n trui aan.

Sannie:  Ek wil nie ‘n trui aantrek nie.

Mamma:  Maar dit is koud.

Sannie:  Ek kry nie koud nie.

Mamma:  Natuurlik is dit koud.  Jy sal siek word as jy nie ‘n trui aantrek nie.

Sannie:  Ek haat dit om ‘n trui te dra.  Dit laat my sweet.

Mamma:  Jy verbeel jou.  Jy sal verkluim sonder ‘n trui.

Sannie:  Ek sal dit nie aantrek nie.  Ek HAAT dit!

Mamma:  Gaan dadelik terug en trek jou trui aan.  Ek sal nie toelaat dat jy op so ‘n koue dag sonder ‘n trui uitgaan nie.

Sannie:  ( tranerig) Maar ek hou nie daarvan nie.

Mamma:  Hou op met teëpraat of jy kry met my te make.

Sannie: Dan sal ek tog maar die simpel ding aantrek.

Hier het ons te make met ‘n wen-verloor oplossing – Mamma wen en Sannie verloor). Mamma kry haar sin maar Sannie is nie gelukkig nie en gee net in omdat Mamma dreig en sy het mag aan haar kant. Dit bevorder nie Mamma se verhouding met Sannie nie. Sannie voel veronreg en is nie gemotiveer om Mamma se opdrag uit te voer nie. Mamma sal moet polisieman speel om toe te sien dat sy nie die trui om die eerste draai uittrek nie. Sannie, aan die ander kant, leer nie selfdissipline nie.  Sy sal moontlik gehoorsaam wees omdat sy die gevolge van ongehoorsaamheid vrees

Die tweede Moontlikheid:

Sannie: Totsiens Mamma, ek gaan speel by  Annie.

Mamma: Dit is koud. Trek gou vir jou ‘n trui aan.

Sannie:  Ek wil nie ‘n trui aantrek nie.

Mamma:  Maar dit is koud.

Sannie:  Ek kry nie koud nie.

Mamma:  Natuurlik is dit koud.  Jy sal siek word as jy nie ‘n trui aantrek nie.

Sannie:  Ek haat dit om ‘n trui te dra.  Dit laat my sweet.

Mamma:  Dis nie so erg nie.  Jy sal verkluim sonder ‘n trui.

Sannie:  Ek sal dit nie aantrek nie.  Ek HAAT dit en ek haat  Mamma as Mamma so kerm.

Mamma: Ek gooi handdoek in. Jy kry nou jou sin en  ek was my hande in onskuld.

Hier is die konflik op ‘n toegeeflike, verloor – wen manier hanteer. Mamma het verloor en Sannie het gewen. As dit die patroon word is die moontlikheid dat Sannie in die gewoonte sal kom om impulsief op te tree, moeilik hanteerbaar sal raak, ongeskik sal wees en moontlik haar mag oor ander sal gebruik.  Sy sal dan gebruik maak van humeuruitbarstings (“tantrums”), sal ander “bully” en nukkerig wees.  Sulke kinders sal “ontvangers” wees eerder as “gewers”.  Hulle sal nie gewild wees by maats en onderwysers nie.  Die ouers aan die ander kant sal moontlik hulself jammer kry en ‘n “arme-ek” houding ontwikkel.

Gelukkig is daar ‘n derde moontlikheid:

Sannie: Totsiens Mamma, ek gaan speel by  Annie.

Mamma: Dit is koud. Trek gou vir jou ‘n trui aan.

Sannie:  Ek wil nie ‘n trui aantrek nie.

Mamma: Dit is regtig koud en ek is bekommerd dat jy ‘n verkoue sal kry en ons wil volgende week vir Ouma gaan kuier. (ek-boodskap)

Sannie:  Maar ek is nie lus om my trui aan te trek nie.

Mamma:  Verstaan ek jou reg?  Dit klink asof jy regtig nie jou trui wil aantrek nie. (Maak seker dat jy weet wat die kind voel en bedoel)

Sannie:  Ja, ek haat ‘n trui.

Mamma:  Jy sê jy haat ‘n trui. (eggo)

Sannie:  Ja. Truie laat my sweet en dan krap dit my.

Mamma:  Ek sien. Ons het nou regtig ‘n probleem.  Jy wil nie jou trui aantrek nie, want dit laat jou sweet en dan krap dit jou, maar ek is bekommerd dat jy sal siek word en dan kan ons nie vir Ouma gaan kuier nie.  Kom ons sit ons koppe bymekaar en kyk of ons ‘n oplossing kan kry wat vir beide van ons sal werk (Ouer som die situasie op)

Sannie:  Ek sal  Pietie se sweetpakbaadjie  leen.

Mamma:  Sal dit nie krap nie?

Sannie:  Nee, dit is van gladde materiaal gemaak.

Mamma:  Dink jy hy sal dit vir jou leen?

Sannie:  Ek sal hom vra. (Sy kom na ‘n rukkie terug met ‘n te groot sweetpakbaadjie aan.)  Hy sê ek kan dit kry as hy Sondag die helfte van my nagereg vir hom sal gee.

Mamma:  Is jy seker jy voel gerieflik in die baadjie?

Sannie:  Ja, dis O.K.

Mamma:  Nouja, ek is seker jy sal nie koud kry nie.  Lekker speel.

Hierdie wen-wen manier is ‘n beter manier om konflik op te los. Die ouer wen omdat die kind iets warm aantrek en Sannie wen omdat sy iets aantrek wat sy self kies. Hulle verhouding bly ook goed.