{ARGIEF}

Daar is niks wat vergelyk kan word met die vreugde van ouerskap nie. In ons familie ervaar ons dit op die oomblik in oorvloed. Ons eerste agterkleinkind is pas gebore en natuurlik is klein Cobus die pragtigste, slimste en voorspoedigste baba ooit. Hy is nog ongeskonde en sonder die letsels van die lewe wat geen kind misloop nie, selfs al het hy ouers wat hom wil toevou in hulle liefdevolle beskerming. Om doeltreffende ouers te wees sal hulle ongetwyfeld ‘n hele reeks vaardighede bemeester. Ek kan egter onthou dat ek soms net aan ‘n reddingstou in die vorm van een of ander wenk wou vashou as alles nie volgens plan verloop het nie. Vanaand dink ek aan wenke wat moontlik jong ouers (en ander ouers) kan help:

• 1 Gee liefde
 

Vertel vir hom en vir haar hoe spesiaal en uniek elkeen is. Wees kwistig met drukkies en soentjies. Wees “daar” as jou kind jou nodig het.

• 2 Spandeer tyd saam met elkeen afsonderlik.

Doen saam met jou kind dié dinge wat hy of sy graag wil doen (dit sal nie altyd die aktiwiteit wees waarvoor jy lus is nie). Dit kan wees om saam wegkruipertjie of Monopoly te speel. Dalk wil hy gaan fietsry of wil sy ‘n musiekkonsert bywoon. Kinders floreer op ouers se aandag en as daar twee ouers is, benodig hulle beide se tyd en aandag.

• 3 Praat minder en luister met volle aandag

As ouers empaties luister; met oë, ore en hart, help dit hulle om begrip te ontwikkel vir hul kinders se gevoelens en ervarings. Dit is vir die kind makliker om te vertel wat haar kwel wanneer die ouer die aktiwiteit waarmee hy besig is staak en regtig luister. Ouers wat met volle aandag luister dra sy twee boodskappe oor: “Jy is belangrik genoeg” en “ek gee om”. ‘n Kind se grootste behoefte is nie dat sy ouer vir hom moet raad gee nie, maar dat sy ouer sal hoor wat hy sê.

• 4 Skep struktuur
 
‘n Kind voel geborge as daar gereelde eet- en slaaptye is, selfs al skop hulle soms daarteen. Dit skakel konflik uit as daar roetine handelinge is soos dat skoolklere uitgetrek word as hulle van die skool af kom en dat huiswerk afgehandel word voordat hulle gaan speel. Waak terselfdertyd daarteen om rigied te wees

• 5 Laat kinders toe om keuses te maak

Die blote kans om ‘n keuse uit te oefen verminder by ‘n kind weerstand om ‘n taak uit te oefen, want dit laat hom in beheer en belangrik voel: “Wil jy jou blou broek of jou groen broek aantrek?” of “wil jy Weet Bix of Post Toasties hê?” of “wil jy jou medisyne met koeldrank of ‘n lekkertjie afsluk”.

• 6 Probeer om nie uit gewoonte “nee” te sê nie

Nee is vir ‘n kind soos ‘n rooi doek vir ‘n bul. Sy vra: “Kan ek gaan speel?” Sê eerder: “Ons eet oor 5 minute” as “nee, ons eet oor 5 minute”.

• 7 Behou hoop

Kinders het dikwels ‘n droom van wat hulle wil word en bereik. Jou kind wil ‘n sanger, dokter, polisieman, onderwyser of beroemde sportman word. Droom saam eerder as om hom wreed te ontnugter. Hy sal wel mettertyd realisties word en ontdek wat sy werklike aanleg is.

• 8 Moenie blameer nie

Wanneer ‘n kind ‘n fout maak en jy blameer of verkleineer hom, voel hy vir homself jammer. Verduidelik eerder waarom dit ‘n fout was en wat ‘n beter opsie sou wees. Spreek die fout aan en nie op die kind nie.

• 9 Moenie dreig nie.

Ouers is geneig om baie keer te dreig voordat hulle optree. Dit maak kinders ouerdoof. ‘n Kind weet dat hy byvoorbeeld maar met sy voete op die bank kan sit, want ma en pa dreig, maar tree nie regtig op nie. Gee liewer ‘n keuse met ‘n logiese gevolg: “As jy aanhou om met jou voete op die tannie se bank te sit, sal jy op die vloer moet sit”.
Wenke help baie, maar ‘n mens kan ook verstrik raak in al die wenke as jy nie oor ‘n ‘n goed-gedefinieerde ouerskapsiening beskik nie. Gelukkig is daar kursusse, soos POSPAR wat daarmee help. Vir meer inligting gaan na “Positiewe ouerskkap” op die Communitas webblad.