{ARGIEF}

10 November 2013 ~ 25ste Sondag in Koninkrykstyd ~ 2 Tessalonisense 2:1-5 en 13-17
Die prediker sou verskillende invalshoeke kon gebruik na aanleiding van die preekvoorstelle van die Preekstudies, bv. gebed, die rol van ʼn geloofsgemeenskap, ens.
Hier waar ons byna aan die einde van die kerklike jaar en Koninkrykstyd is, lei die teks ons dalk juis om na te dink oor “the method in our madness”. Wat is die verband en die verhouding tussen eendag en nou? Het dit enigsins iets met mekaar te doen.
Mens sou inleidend baie kon maak van die vraag: Hoe lyk ons wederkomsverwagting in vergelyking met die eerste Christene sʼn?
Dit is duidelik uit hierdie teks dat hulle ʼn probleem gehad het, wat Paulus wou adresseer. Dan sou mens kon uitbrei oor in watter mate hierdie wederkomsverwagting hulle verhinder het, of dalk selfs ʼn ontvlugting geword het, om in die werklikheid geloof as gestuurdes uit te leef.
Trek dit dan deur na ons eie lewe toe. Is daar ooreenstemmings? Hoe lyk dit in ons geval?
Hoe beïnvloed die verwagting dat Jesus weer kom NOU my gedrag?
Is dit vir ons ʼn uitgemaakte saak dat Jesus weer kom?
Is dit dalk ʼn aspek van ons geloofsbelydenis wat nie werklik aandag kry in my nadenke en my gedrag nie?
Is ons besig om aktief voor te berei vir die bruilofsfees van die Lam?
Weet ons wat dit behels?
Is daar ander oortuigings met betrekking tot die wederkoms? Wat van die verskillende voorspellings? Wat van al die verskriklike gebeure? Hoe beïnvloed dit ons eie verwagtings?
Wat bely ons eie geloofstradisie met betrekking tot die wederkoms?
Paulus wil juis die gelowiges maan om raak te sien dat hulle nie bekommerd hoef te wees oor die wederkoms en wanneer of hoe dit gaan plaasvind nie, maar eerder moet fokus op die getuieniskrag van hulle lewe, hulle optrede teenoor diegene wat nie glo nie en daarom nie gereed is nie.
In die tweede deel kan daar dan uitgebrei word op die vraag: Hoe lyk gelowiges se gedrag wat besig is om voor te berei op die wederkoms?
Hoe lyk hierdie leer? Daar kan verwys word na die gedeeltes in die Profetiese redes van Jesus. Dit gaan hier oor ʼn bewuswording dat gelowiges se gedrag, bv. dat hulle vir mekaar bid, mekaar bemoedig, vir mekaar lief is, dat hulle hoop en glo, dat dit alles sigbare tekens is van hoe God se nuwe wêreld sal lyk. Die manier waarop gelowiges met mekaar en met ander omgaan dra groot krag as getuienis van dit wat God reeds besig is om te doen en van die belofte dat Hy dit sal vervolmaak met die wederkoms.
Is ons gedrag vir ander ʼn uitnodiging om deel te word, of sluit dit ander uit? Of is dit eerder afstootlik?
Jampie Nel
Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/53-2_Tessalonisense/2%20Tessalonisense%2002_1-5%2013-17.doc
Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/833_b21e033168e3cc61abca53e1a0f9dbcb