{ARGIEF}

11 Augustus 2013 ~ Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd ~ Hebreërs 11:1-3; 8-16

geskryf deur: Jurgens Hendriks

ʼn Illustrasie kan help om die oproep van Hebreërs 11 beter te verstaan.
Julius Malema is geen onbekende by ons nie en sy uitsprake en nuwe politieke party se beleid grens aan die absurde. Dit berus op ʼn groot leuen, dit is ekonomiese selfmoord. Tog glo ʼn baie groot groep mense hom asof hy die Messias self is. Dit was duidelik by Marikana. Politieke ontleders toon aan dat sy beleid, sy beloftes, op ʼn bepaalde groepering mense gerig is: die werklose jong mense met swak opleiding en groepe soos die mynbouwerkers. Hierdie mense wil glo wat Malema vir hulle sê. Vanuit hulle konteks en swaarkry, vanuit hulle ervaring van die lewe en harde werklikhede, is Malema se woorde evangelie. In die teologie praat ons van meta-narratief. Malema se storie is ʼn meta-narratief, dit vertel van ʼn nuwe stad met wonderlike fondamente en nog wonderliker vooruitsigte vir sy bewoners. Dus koop mense die storie en hulle bou hulle hoop en verwagting daarop. “Ons sal lewe, ons sal sterwe…” vir die storie, sê hulle agter Malema aan.
Alle politieke partye en elke staatsbestel het sy meta-narratief, sy ideologie, sy storie wat hy aan mense verkoop. Dis ʼn droom oor die skatte van Egipte en mense word opgeroep om met geloof en hoop en volharding daarvoor te leef.
Abraham en die reeks geloofshelde wat Hebreërs 11 noem, het egter ʼn alternatiewe verhaal leer glo. Dit is die verhaal van, in Nuwe Testament terme, die Koninkryk van God. Abraham was ʼn stadsvader in Ur van die Chaldeërs toe hy met die meta-narratief van sy tyd gebreek het, deur die leuens daarvan gesien het en op reis gegaan het. Hoekom? Hy het God gesien. Elke altaar wat Abraham gebou het, was ʼn herinnering aan God en ʼn nuwe / ander toekoms en stad, ʼn alternatiewe meta-narratief.
Die brief aan die Hebreërs is geskryf vir tweede geslag Christene. Die eerste geslag het tot bekering gekom omdat hulle Jesus gesien en leer ken het. Bekering is ʼn radikale breuk met ou stories, met vals meta-narratiewe. Onthou, daar is selfs in godsdiens telkens vals meta-narratiewe soos in die Fariseërs se storie en soos in die drome van apartheid.
As dit swaar gaan met die Marikana-myners soek hulle vir ʼn Messias met ʼn beter evangelie, een wat hoop kan gee. As mens Hebreërs in sy geheel lees, maar veral die gedeelte net voor Heb 11, kom jy agter dat die gelowiges “suffer.” Kyk as prediker na jou eie gemeenskap en mense se swaar, probeer dit verstaan. Alle mense soek iets om in te glo, iets om voor te hoop, iets wat jou kan help om te volhard in jou omstandighede in die geloof dat dinge uiteindelik beter sal wees.
Wat maak dan die Bybel se verhaal anders, sy meta-narratief geloofwaardiger as dié van die wêreld? Die lang galery van geloofsfoto’s in Hebreërs 11 wys vir jou oor die geskiedenis heen hoe standhoudend en geloofwaardig die evangelie is. In die laaste instansie sal jy altyd twyfel tensy jy, soos in enige liefdesverhouding, in die teenwoordigheid van die een wat jou tot die dood toe liefgehad het, kom. God, as Vader, as Seun, as Gees.
Mens is maklik sinies oor Malema. Dis so ʼn deursigtige speletjie wat hy speel, so ooglopend vals. Min besef ons dat die waardes en norme, dat die groter kultuurpatroon waarin ons almal in die sogenaamde Westerse liberaal-kapitalistiese sisteem vasgevang is, ewe vals is, nie ʼn tree vir Malema terugstaan nie. Dis ʼn variasie op die skatte van Egipte.
Ons word opgeroep om op reis te gaan met Abraham, om iets te verstaan van die stad met fondamente. Dis ʼn missionale reis. Jy moet uittrek en oor jou grense gaan om God te kan leer ken. Ur se stadsvader moes kenosis leer, selfontlediging (Filippense 2). Geloof begin daar.
Preekskets in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/58-Hebreers/Hebreers%2011_1-3.doc
Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/794_95cab96bfff9ce826953d25b5852b542