Verder geluister – Hebreërs 11:29-12:2

Written by Hugo Biermann on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

18 Augustus 2013 ~Dertiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Heb 11:29–12:2

geskryf deur Hugo Bierman

Vir my beteken die Christelike geloof, onder andere, om in ’n soort spanningsveld te leef. Dít is iets wat ek meen Heb. 11:29-12:2 duidelik bevestig. Ons leef in ’n spanningsveld en dit behels dat daar aan die een kant oorwinnings in en deur die geloof behaal word, en dat beloftes van die Here vervul word, en dat gebede beantwoord word. Vers 29 tot vers 35 van ons fokusteks belig hierdie kant van ons geloofservaring op ’n besondere manier en som dit in vers 33 só op: “Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het …”  Daar is oorwinning in en deur ons geloof!

Maar dan is daar ook ’n ander kant aan ons geloofservaring, nl. dat daar nie noodwendig altyd verkry word “wat beloof is nie” (vers 39). En dis vir my merkwaardig, en ook baie aktueel vir ons tyd, dat één Skrifgedeelte (Heb. 11) hierdie twee kante van die saak so onomwonde stel. Nie al die beloftes waaraan ek vashou, word noodwendig vervul nie en nie al my gebede word positief verhoor nie. En vir hierdie werklikheid kan ek nie maar net my oë toemaak asof dit nie bestaan nie. Ek kan nie maak soos daar in sommige Christelike kringe gemaak word en op ’n triomfalistiese manier oor die Christelike geloof dink nie. Dan is oorwinning die enigste opsie – in ons denke en gebede. Alles minder as oorwinning en vervulling van God se beloftes sou dan op kleingeloof of ongeloof neerkom. Maar vir my gevoel word sulke triomfalisme duidelik deur vers 35 tot 39 van ons fokusteks verwerp. En ek meen dat ons eerder in die spanning moet bly leef van vers 29 tot 35 aan die een kant en vers 36 tot 39 aan die ander kant. Hierdie spanning mag nie opgehef word nie, want dit hou juis die Christelike hoop in ons lewend. Dit bly strek hom uit na die vervulling van God se beloftes, al is dit sonder twyfel so dat ons nie hier en nou reeds die vervulling van al die beloftes sal ervaar nie.

’n Verdere aktuele tema in ons fokusteks is vir my die verwysings na die vervolging van gelowiges, in sommige gevalle tot die dood toe. Om te glo, beteken dus ook om teen vervolging of teenkanting in aan Jesus Christus te bly vashou en op Hom te bly vertrou. In ons eie tyd is daar ook berigte van Christene wat in sekere lande van die wêreld vir hulle lewe vrees en soms ook hulle lewens verloor. In ons eie land is hierdie ekstreme vorms van fisiese vervolging gelukkig nie aan die orde van die dag nie en voel dit amper ondenkbaar dat dit in 2013 nog iewers op die aardbol kan gebeur. Maar dit beteken sekerlik nie dat gelowiges in Suid-Afrika nie ook ly ter wille van hulle geloof nie. Dalk word bespotting of verguising of verkleinering ter wille van Christus in ’n huwelik of huisgesin beleef, of by ’n werkplek, of in ’n vriendekring, of in die media.

Soms word gelowiges mos afgemaak as idiote wat dom genoeg sou wees om nog te glo aan die boodskap van die Bybel in ’n tyd van die hoogbloei van die natuurwetenskappe. Piet Naudé het op ’n keer met ’n baie treffende brief gereageer op ’n rubriek in een van ons koerante. (Ek gee die brief hieronder volledig weer, hoewel ek net die rubriekskrywer se voorletters gebruik en nie sy volle naam en van nie. Ongelukkig onthou ek nie die jaartal waarin die brief gepubliseer is nie.) Hierdie brief verwoord iets van die verkleinering wat gelowiges soms aan die hand van ongelowiges kan ervaar en ook iets van die gees van die tyd waarbinne ons in ons geloofswedloop moet bly volhard, “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:2). En ek is so dankbaar dat Jesus self sy werk in ons sal voltooi, en vir die ondersteuning van die “groot skare geloofsgetuies rondom ons”! (Heb. 12:1) Anders sou die geloofswedloop sekerlik een te veel vir ons gewees het.

(Brief van Piet Naudé, met die titel “Nuwe belydenis van wetenskap”:

“Ek geniet gewoonlik G.C. se rubriek ‘Wetenskap Vandag.’ Hy is wyd belese en bring interessante gebeure uit die geskiedenis van die wetenskap in verband met vandag se gebeure.

Sy sterk bewoorde rubriek van 3 April getuig egter van ’n byna snedige afkeer van almal wat dit nog sou waag om religieus te glo.

Gelowiges is – volgens sy eksegese van 1 Kor. 13 – ‘soos die arme Paulus’ nog vasgevang in raaisels en dowwe beelde en leef ‘in die waan van ’n ewige lewe en ’n hiernamaals.’

Meer as dit: hulle verkies die raaiselagtige en die magiese, want dit ontbreek hulle aan moed om ‘onkunde en onnoselheid’ prys te gee ter wille van ware wetenskaplike kennis.

Dis inderdaad sterk taal wat wys dat C. baie sterk hieroor voel.

Behalwe dat C. hiermee ’n verouderde en idealistiese wetenskapsbeeld voorhou, word sy rubriek presies dit waarvan hy ander beskuldig. Dit word – miskien teen sy bedoeling in? – ’n belydenis wat van ’n religieuse grondverbintenis tot die bevryding van die wetenskap getuig:
Ek glo in god, die Wetenskap, verklaarder van hemel en aarde,
en in Wetenskap se enigste seuns, Galileo, Copernicus en Darwin,
wat gely het onder kerklike dogmas, gesterwe en begrawe is,
maar ná dekades in waarheid opgestaan het, opgeneem is by Wetenskap, en nou oordeel oor dié wat weet en dié wat niks wil verstaan nie.

Ek glo in die gees van sciëntisme.
Ek glo aan een, heilige, algemene, wetenskaplike gemeenskap.
Ek glo dat geen vergifnis moontlik is vir die sonde van onkundiges nie.
Ek glo in die wederopstanding van die outonome rede.
En ek glo aan die empiristiese lewe.
Eureka.”)

Preekskets in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/58-Hebreers/Hebreers%2011_29%2012_2.doc

 Seisoen van Luister: 

Trackback from your site.