{ARGIEF}

8 September 2013 ~ Sestiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Gelukkig is ons klei in ‘n genadige God se hande ~ Jeremia 18:1-10
 Ons is die klei. En God is die Pottebakker. Dit is die tema van liedere en preke en kinderbybelverhale.
Dis ongelukkig dat hierdie beeld van God wat so intiem en kreatief met die klei omgaan, dikwels gebruik word om te sê ons moet geen wil hê nie. Ons moet onsself net oorgee aan hoe God ons lewens wil vorm, word gesê, en dis net só maklik om so willoos deur die lewe te gaan terwyl God als doen. Miskien moet ons hierdie beeld ook ’n slag anders lees.
Daar is baie verwysings in die Bybel na God wat die aarde vorm en ons vorm. Maar hier in Jeremia 18:1-10 is die enigste plek waar God die Pottebakker so heelhuids met die klei uitgebeeld word.
Wanneer Jeremia hierdie beeld van die Pottebakker gebruik, staan Jerusalem nog.  Jerusalem en die Tempel sou in 586 vC heeltemal met die grond gelyk gemaak word deur die Babiloniërs. Maar nou staan die Tempel nog. En dis dié dat ’n mens kan sê die Pottebakker wat Jeremia hier sien, is ’n God van genade. Daar is altyd nog ’n kans. Die Pottebakker vorm nie die klei sodat dit ’n mislukking gaan wees nie. Onderliggend aan die komende ramp, die vernietiging van Jerusalem en die Tempel, is die God van genade wat die klei ’n kans nie om te oorlewe, om keuses vir die lewe te neem.
En dis die tweede ding van die Pottebakker en die klei wat ons opval. Daar is ’n verhouding van samewerking tussen die Pottebakker en die klei. ”Divine sovereignity and human responsibility“ is hier in samewerking soos ons ons dit nooit kan voorstel nie, soos ‘n outeur dit iewers so mooi stel. En almal wat al met klei gewerk het, weet dat die klei ‘n wil van sy eie het. Net, hier in ons beeld neem God die leiding. God neem leiding, gee vorm – maar vat nie die wil weg nie.
In Jeremia 16:1-10 lees ons dat God vir Jeremia na die dorp se pottebakker stuur. Elke dorp het ’n pottebakker gehad. Want potte was die basis van alles. Water, kos, wyn, alles is in potte gestoor. En alle soorte houers is van klei gemaak. Olielampe, wynkanne, als. So, daar sit Jeremia af na die pottebkker. En wat sien hy daar?  Die pottebakker is besig om op ’n vinnige wiel ’n pot te draai. Die woord wat in die Hebreeus gebruik word, dui daarop dat die wiel wat die pottebakker gebruik, nie die stadige wiel was wat hy met sy een hand draai nie, maar die gevorderde, vinnige wiel wat hy met ’n pedaal laat draai. En wat sien Jeremia dan?  Die klei draai ’n gemors uit.
Dis die derde ding wat ons opval uit hierdie Pottebakker-en-klei-beeld. Die Pottebakker se eerste poging met die klei misluk. Hoekom sou dit wees?  Miskien was die klei te nat. Te nat klei maak nie ’n pot nie, maar stort inmekaar. Miskien was die klei te min, en kon die Pottebakker nie die pot maak wat hy in gedagte gehad het of ’n opdrag voor gehad het nie. Of miskien het die Pottebakker te vinnig probeer werk, en het die klei uit sy hand gespin. Of dalk het die Pottebakker nie al die vaardighede gehad om ’n pot te maak nie. Al hierdie verduidelikings gee vir die Pottebakker die skuld vir die mislukking van hierdie eerste probeerslag om van die klei ’n pot te maak.
Miskien was daar iets fout met die klei. Klei kry partykeer goed in en by wat dit nie wil hê nie. Partykeer is daar gras in die klei, of stukkies droë grond, of watookal. Die klei is dan onbruikbaar. Maar die Pottebakker kan dan onderneem, en die leiding neem, om die klei skoon te maak.
Nou, dit kan ’n mens nogal op jouself trek. Hierdie klei wat onbruikbaar is omdat daar vreemde goed in is, kan ’n mens tog oorreed om ’n bietjie selfondersoek te doen. Wat maak jou en my onbruikbaar om ’n goeie uitkoms in die lewe te hê? Miskien is dit korrupsie. Of miskien is dit luiheid, of ’n onwilligheid om saam te werk. Of miskien is dit te veel hartseer, of onopgeloste woede, of onverwerkte pyn. Weer eens is dit nogal lekker om te dink die Pottebakker neem die leiding om jou te herstel.
Die Pottebakker doen nog iets, die vierde ding waaraan hierdie beeld ons herinner. Oftewel, daar is iets wat die Pottebakker nie doen nie. Hy gooi nie die klei weg nie. Hy probeer weer met die klei ’n nuwe pot maak.
Die beeld van die Pottebakker met die klei is ’n goeie – ag, sommer ook ’n vertroostende en bemoedigende beeld – om ons lewe en werk hier met God in sy koninkryk uit te beeld. Hier in God se koninkryk wat Jesus Christus hier op aarde kom vestig het, werk ons saam met God. Ons kan gedurig bewus en verseker wees van God se genade en sy goedwillige ondersteuning. Ons kan God gerus vertrou om die leiding te neem om ons te help met ons swakhede en die uitdagings wat in ons pad staan om die koninkryk van God hier ten volle te vestig. En uiteindelik kan ons hier leef en werk met die wete dat God ons nooit uit sy hand sal laat val nie. Hy sal ons nie weggooi nie. Hy werk weer en weer saam met ons om te bereik wat ons moet bereik.
Dis die lewe in Koninkrykstyd.
Christina Landman
Preekriglyn in argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/24-Jeremia/Jeremia%2018_1-11.doc