{ARGIEF}

29 September 2013 ~ 19de Sondag in Koninkrykstyd ~ Jer 32: 1–3, 6–15
Die Bybelstorie van Noag en die ark het vir my kleintyd baie ongemaklik gemaak. Die prentjie van Noag wat op droë grond ‘n reuse skip bou terwyl al die mense vir hom lag en spot, was vir my brose gemoed baie sleg. Dit is vir niemand lekker om so gekoggel te word nie en hoekom hou Noag daarmee aan. Is hy dalk soos Doors (fiktiewe naam) wat in die spesiale klas is? (In vandag se terme die “village fool”).
Dit is ook so amper die storie van Jeremia 32 ook. Om ‘n stuk grond te koop waarop die vyandelike magte kamp opslaan en dit ook nog terwyl jy self in die tronk sit, is nie baie slim nie en totaal onprakties! Die mense sal vir jou lag!
Wat pla, is om oënskynlik te kies om belaglik te wees. Om uit voeling met die werklikheid en gedrag van al die ander mense om jou te wees. Die lewe is tog prakties. En prakties is dikwels dit wat vir die groep werk en deur die groep goedgekeur word.
So hier het ons die dilemma. Om aan die een kant jouself/uniek te wees of aan die ander kant deel van die trop te wees. Aan die een kant “weird” aan die ander kant middelmatig.
Wat die situasie in die geval van beide Noag en Jeremia nog ingewikkelder maak is dat hulle optrede nie voorgeskryf word deur hulle persoonlikhede nie, maar deur ‘n opdrag wat hulle van God ontvang het. En dat die mense om hulle wel ook met hierdie God bekend is, maar net nie die logika van hulle optrede (Noag en Jeremia) kan verstaan nie, en dan by implikasie ook nie God se logika nie. In die proses word die verklaring dat die boodskap/opdrag van God kom, net nie deur die mense “gehoor” nie.
Dit lyk my ons sal as gelowiges voortdurend aan hierdie spanning onderworpe wees. Om te kan weet wanneer is dit maar net ons en wanneer is dit God. Wanneer is dit absurd en wanneer is dit regtig prakties.
Om soos Jeremia te leef, uit die geloof en hoop op iets beters en groters wat aan die kom is al lyk dit op die oomblik totaal vergesog.  
Om te kan hoop op ‘n nuwe dag, nuwe toekoms, nuwe verhoudinge; ou situasies nuut te bekyk en dan te gaan doen. Maar dan nie hoop soos in wens nie, maar hoop soos in glo. Om vanuit die Hoop te leef en op te tree, sal die toets van alle praktyke deurstaan.
Wat vir die wêreld onsin is, is van groot waarde by God.
Pierre Goosen
Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/24-Jeremia/Jeremia%2032_1-3a%206-15.doc

Jeremia32 1-15 http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/815_477ee52b5a96e45b4200dbd54e7ce754