{ARGIEF}

1 September 2013 ~ Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Jer 4:11 -12, 22-28
Ons leer uit Jeremia 4 die volgende:
Verse 11 en 12, benadruk die onbetwisbare waarheid en realiteit van God se oordeel wat vasstaan. God se oordeel oor ons godsdienstigheid en hoe dit in verband staan met alles wat in en rondom ons gebeur – ons begrip, persepsies, verstaan en interpretasie van God. Kan ons werklik daarop roem om God ten volle, geheel en volkome te ken – ons sosiale en ekonomiese verantwoordelikhede wat ons as individue, as groepe, maar ook as kerk en gelowiges of aanvaar en uitdra, of vermy en selfs verwaarloos. Wat doen ons omtrent die ekonomiese en sosiale ongelykhede, ons morele karakter wat ons ten toon stel in ons onderskeie verhoudinge, standpunte wat ons huldig en die voorspraak wat ons doen of nie doen ten opsigte van die randfigure in ons samelewing. Bereken ons die morele koste verbonde aan kerkwees, leierskap en menswees?
 Verse 22-28 bring die volgende gedagtes na vore:
a)       Verval, agteruitgang, uitbuiting en vernietiging van ons aardsbronne blyk natuurlik en realisties te wees. Dit kan wees deur selfverryking, korrupsie, gierigheid en gebrek aan ontsag vir God, die profete en owerhede wat in ons dag roep om ekonomiese geregtigheid, menswaardigheid en gelyke behandeling van alle mense (gays, geskeides, enkellopendes ens.). Die dreigende stakings om beter lone, spreek boekdele. Dink aan direkteure wat persentasiegewys baie meer as die werkers kry, dink ook aan die 24 jarige sokkerspeler Gareth Bale wat R19 miljoen per maand verdien.
 b)       Dit skets baie duidelik God se afkeer aan slegte verhoudinge – eerstens tussen God en mens. In dié verhouding is God die Skepper, vormer en transformeerder; dié een wat uitreik en sy ontevredenheid demonstreer in sy wil om te verwoes en herstel te bring. In dié verhouding is die mens die skepsel, aanbidder, gehoorsame, toegewyde en dienstige onderdaan. Maar God het ook ‘n afkeer in ons slegte intermenslike verhoudinge, want hier in is ons gelykes – almal behoeftiges met tekortkominge asook potensiaal vir sorg, omgee, om te troos en vredemakers te wees. Die spanning in die Midde-Ooste rondom Sirië, die stigting van die EFF-party van Malema en die verdwyning van kinders – die jongste voorval, Shaskia Michaels van Mitchells Plein – is voorbeelde. 

  1. Die profeet wat dien as God se mondstuk en spreek wat sekerlik nie lekker is om te spreek nie (veral oordeel of straf van God). Die kerk is God se spreekbuis en het daarom ‘n kritiese rol om as profetiese stem gehoor te word. Hierdie stem moet veral gehoor word in sake soos geweld, bendegeweld, die sluiting van skole as gevolg van bendebedrywighede (in ‘n sin as gevolg van gemeenskaps-passiwiteit), armoede, verkragting en vele ander sake waaroor God se Woord moet help rigting gee.

Donald Katts
Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/24-Jeremia/Jeremia%2004_11-12%2022-28.doc 

Jeremia4 11-28 Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/809_4a6c8759449aa27a017b29700c7c0bd6