Verder Geluister: Jeremia 2:1–13

Written by Jurgen Hendriks on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

1 SEPTEMBER 2013 ~ Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd  ~ Jeremia 2:1–13

 As jy na http://en.wikipedia.org/wiki/Chinua_Achebe gaan, kan jy lees van een van Afrika se beste skrywers wie se boek “When things fall apart” die wêreld se mees gelese boek uit Afrika is.

When things fall apart. Dit is nie moeilik om waar ook al jou gemeente is, ʼn lysie te maak en instemming te kry oor alles wat tans aan die uitmekaarval is nie. Jy sal waarskynlik by die plaaslike munisipaliteit se gebreke kan begin en by die land se president se vergrype eindig. Die gemeente sal met jou saamstem.

Maar hoekom gebeur dit? Hoekom val samelewings uitmekaar?

Jeremia 2 is ʼn ongelooflike stuk literatuur. Lees dit byvoorbeeld in die Message vertaling. Jeremia gebruik die metafoor van ʼn egskeidingsaak om met talle voorbeelde vir sy volk te waarsku dat alles gaan uitmekaarval as hulle volhard om aan te gaan soos hulle tans lewe, as hulle gaan volhard in die dom-dom keuses wat hulle maak. Die geskiedenis het hom natuurlik reg bewys. Die ballingskap het gevolg.

Jy kan Jeremia 2 gebruik om te verduidelik hoekom dinge in ons dag en samelewing uitmekaarval. Dit sal nie moeilik wees om dit in gesinsverband, gemeenteverband, gemeenskapsverband, landsverband en globaal met voorbeelde te verduidelik nie.

ʼn Eenvoudige indeling van die hoofpunte is soos volg: Verse 1–3: God se liefde vir sy volk (jy kan die NT perspektief met Joh. 3:16 byvoeg om God se liefde en uitreik na die hele wêreld aan te toon). God is vir ons lief soos ʼn bruidegom vir sy bruid. Vers 4–5 is die vraag en die aanklag van die bruidegom. Vers 6–7 is die bewyse van sy liefde en sorg vir sy bruid wat Hy aanvoer. Vers 8 is die kern van die klag. Dit wys die belangrikste skuldiges aan, hulle wat die verval sou kon keer. Mens is nie verras om te lees dat dit verwys na leierskap wat op alle fronte vaal nie (hoe waar was dit nie oor al die eeue tot vandag toe nie). Vers 10–12 roep God getuies op wat sal kan getuig van die stommiteite wat sy bruid begaan.  In die res van die hoofstuk is nog baie voorbeelde hiervan. Die oorwegende metafoor is een van seksuele vergrype. Ook dit is letterlik en metafories niks nuuts nie. Vers 1–12 roep getuies op: spesifieke lande en die ganse hemelruim word gevra of hulle al ooit iets so dwaas gesien het.

Vers 13 som die eerste rondte van die hofsaak op. Dinge sal uitmekaar as mense die fontein van lewende water verlaat en hulle hoop vestig op ʼn lekkende waterbak en dink dit sal hulle dors kan les. Dit is amper of mens nie kan glo dat so iets kan gebeur nie, dat mense so dom-onnosel kan wees nie.

En tog doen ons dit almal. Ons het elkeen ons eie afgode en koninkryke en ons is blind om te kan insien dat dit geen vrede, voorspoed, seën en geregtigheid en ware versorgende en vervullende liefdesnetwerke tot stand kan bring nie.

Enige hoop? Jeremia 31–33 is ewe aangrypend as hy teen alle logika en ondervinding in nog kan hoop (kyk byvoorbeeld na 31:31–33). Hoop se oorsprong is in die drie-enige God se trou. Net by God self en in sy teenwoordheid kry mense hoop, bring die Gees bekering en lei gehoorsaam daartoe dat sy genade en seën stukkies hemel begin ontsluit.

Jurgens Hendriks

Geen verdere Preekriglyn in Argief

 

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment