Verder Geluister: Kol 1:11-20

Written by Marius Nel on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

24 November 2013 ~ Sewe en twintigste Sondag in Koninkrykstyd: Kolossense 1:11–20

 Die Kolossensebrief is geskryf aan gelowiges woonagtig in Kolosse wat in die provinsie Klein-Asië geleë was (vandag Turkye). Paulus, wat gewoonlik op die groter handelsentra gekonsentreer het, het nie self die gemeente daar gestig nie. Dit het blykbaar geskiet danksy die prediking van Epafras wat ‘n inwoner van Kolosse was (4:12). Hy was volgens Filemon 23 in hierdie stadium saam met Paulus in die tronk. Paulus skryf dus aan ‘n gemeente wat deur ‘n medegevangene gestig en bedien is. Daar was egter erge probleme in die gemeente met dwaalleraars en Paulus is vermoedelik versoek om aan hulle te skryf ten einde hulle met raad en die suiwer leer van die evangelie te bedien. Hy begin om dit te doen deur vir hulle te bid.

Waar Paulus vanaf 1:3-7 die redes uitgespel het waaroor hy vir God oor sy werk in die gemeente in Kolosse bid, gee hy vanaf vers 9 tot 14 die inhoud van sy voorbidding vir die gemeente weer. Paulus bid dat hulle kennis, wysheid en insig sal ontvang (vers 9). Die kennis waarom Paulus vir die gemeente bid was ingestel op die wil van God. Dit was nie ‘n gnostiese of spekulatiewe vorm van kennis nie. Die passiewe vorm van die werkwoord dui daarop dat dit God is wat die kennis in hulle sou bewerk. Die kennis van God se wil moet in gelowiges se alledaagse lewens neerslag vind en daarom bid Paulus dat die kennis aangevul sal word met wysheid en insig. Hierdie drie vorme van kennis hoort volgens die Ou Testament bymekaar (vgl. Eks 31:3 – “Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen”). Wysheid en insig moet gesien word as praktiese bekwaamheid om reg en verkeerd te onderskei en gaan dus om die kennis van wat God se wil (sy etiese eise) is.

 Die belangrike van die gedeelte is hoedat Paulus nie kan raad gee anders as in ‘n konteks van gebed nie. Ten diepste is die heiligmaking van die gemeente immers God se werk. Paulus bid in vers 10 dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke en dat hulle sal toeneem in hul kennis van God. Ten einde dit te bereik bid Paulus dat God deur sy wonderbare krag aan hulle die sterkte sal gee sodat hulle nie moed verloor nie, maar in alle omstandighede geduldig kan volhard. Hy vra ook dat hulle dit met blydskap sal doen. Blydskap was dan ook ‘n wesenskenmerk van die vroeë kerk (vgl. Hand. 2:46; Fil. 4:4-6; 1 Tess. 5:16-18).

 Saam met verse 13-14 vorm vers 12 ‘n oorgang van Paulus se gebed vir die gemeente in Kolosse na die lied wat in verse 15-20 volg. Vir Paulus is gemeenteteologie – hoe ons as gelowiges saam leef -altyd ‘n saak van reg bid en reg sing. In antwoord op die dwaalleraars wat hulle verwar verwys Paulus die Kolossense na ‘n Vroeë Christelike lied, waarmee hulle moontlik bekend was, om die reikwydte van die heilswerk van Jesus bekend te maak.

 Ons moet dus vra hoe ons bid en sing as gemeenskap van God?  Getuig ons gebede van ‘n verwagting dat Jesus steeds in ons en die kerk werksaam is?  Dat dit net Hy is wat ons nuut kan maak?  Getuig ons liedere verder oor die volle omvang van God se heilswerk – of net van ons verlange na persoonlike vergifnis en versorging?

 Die lied waarna Paulus verwys getuig van veel meer as dit. Let op die volgende:

 ● Vers 15a – Die Seun is die beeld van God. Waar die OT leer dat God onsigbaar is maak Kolossense dit duidelik dat ons in Jesus vir God kan sien. Jesus het naamlik dieselfde identiteit as God en daarom kan Hy Hom volmaak voorstel.

 ● Vers 15b – Die Seun is die Eerste. Nie in terme van volgorde nie, maar in rangorde. Hy is dus nie geskep nie. Trouens God het juis deur Hom alles geskep (vers 16). Jesus is voor die skepping en hy onderhou dit (vers 17). Jesus en die natuur is dus nie gelyk nie. Baie mense praat van Jesus in die natuur ontmoet asof die natuur en Hy dieselfde is. Kolossense leer ons dat Jesus is nie geskape nie. Hy is eerder die skepper van alles.

 ● In vers 18 verskuif die fokus van die heelal na die kerk om Jesus se verhouding met die kerk duidelik te maak. Ook hier is dit duidelik dat Jesus nie alleen die Hoof van die kerk nie, maar ook die oorsprong daarvan.

 ● Vers 19 verwys na die werk van Jesus. Let op die uitdrukking dat alles in Jesus met God versoen is (vers 20).

 In kort leer Paulus die gemeente en ons om weer daaroor te sing dat God sy ganse skepping gaan nuut maak soos wat Hy ons nuut maak. Net soos Hy ons nie afskryf nie, maar nuut maak en verheerlik, sal God die aarde nuut maak en verheerlik. Jesus wat met die skepping van alles betrokke was sal ook by die herskepping van alles betrokke wees. Dis waarvoor ons moet bid en waaroor ons moet sing met blydskap.

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: GEEN

Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/839_c6c68ae0c46e239ab740706d1c69de63

Trackback from your site.

Leave a comment