{ARGIEF}

Kom ons sit Christus terug op sy troon

Blaai ‘n bietjie deur Johannes se evangelie.  Nee, ons is nog nie by Matteus se evangelie nie.  Blaai eers deur Johannes.  En wat sal jy daar sien?  Jy sal sien dat die hele evangelie van Johannes eintlik gerangskik is rondom ses feeste wat Jesus bygewoon het.  En dit is nou lekker:  Johannes se evangelie is ‘n feeste-boek!  Die feeste waarna verwys word, was die Joodse feeste van die tyd.  Maar wat merkwaardig is, is dat Jesus elke keer iets nuuts doen wanneer hy ‘n fees bywoon.  Iets helends, iets wat daarop dui dat Hy ‘n goeie boodskap vir die mensdom bring.

Kom ons stap gou saam met Jesus deur hierdie ses feeste, want dit bring ons dalk net by die fees uit waarvan ons teksgedeelte praat.

In Johannes 2:13 lees ons Jesus gaan na die Paasfees in Jerusalem.  En wat doen hy daar?  Hy maak die tempel skoon!  In Johannes 5:1 gaan Jesus na ‘n fees waarvan ons die naam nie ken nie.  En wat doen hy daar?  Hy maak ‘n man gesond wat 38 jaar lank siek langs die bad van Betesda gelê het.  Johannes 6:4 vertel ons van ‘n derde fees waarheen Jesus gegaan het.  Dis ‘n jaar later en Jesus gaan weer na die Paasfees.  En wat maak hy daar?  Hy vermeerder kos vir die mense.  Die vierde fees waarheen Jesus gaan (Joh 7:2), is die fees waarop dankie gesê word vir die oes (die huttefees).  En Jesus leer terselfdertyd sommer sy broers iets oor geloof.  Die vyfde fees is die fees van die tempelwyding (Joh 10:22-23).  By hierdie fees het die Jode elke jaar weer vir God op sy troon gesit.  Oftewel, die Jode het eenmaal per jaar by die tempel bymekaargekom om te erken:  God sit op sy troon.  En nou ja, die sesde fees waarvan Johannes (11:55) praat, is die derde Paasfees waarheen Jesus gaan.  En nou word hy gekruisig.  Maar Jesus doen nou die unieke en nuwe ding waaroor ons vandag nog duiselig voel van opgewondenheid:  Hy staan op!

En nou kom ons by ons teksgedeelte in Matteus (25:31-46).  En dit praat van ‘n sewende fees!  Daar sal weer ‘n fees wees, sê hierdie verse, wanneer Jesus terug gaan kom en die gelowiges gaan beloon vir hulle sorg aan die samelewing!

Maar hoe kan ‘n mens nou hierdie gedeelte preek?  Dit vertel van die Seun van die Mens wat gaan kom, op sy troon gaan sit en die mense in skape en bokke gaan verdeel.  Die skape is hulle wat God se wil gedoen het.  Vir hulle kan die Een op die Troon sê (:35,36):  “ Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet;  Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink;  Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves;  Ek was sonder klere, en julle het vir My klere geee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.”

Hiervan sou ‘n mens ‘n wederkoms-preek kon maak, om mense lus te maak vir wanneer Jesus weer kom.  Of ‘n oordeelspreek, om mense bang te maak vir wanneer Jesus weer kom.  Of ‘n prekerige preek, om mense aan te moedig om vir die kerk by te dra.

Maar al hierdie soort preke is al soveel keer gepreek.  So, kom ons doen iets anders met hierdie stuk.  Kom ons preek dit met hierdie tema:  Sit Christus terug op die troon.

Ek wou al so lankal juis dit preek.  Vandat ek gelees het in Johannes 10:22-23 van die fees waarheen Jesus gegaan het waar die Jode God elke jaar weer teruggesit het op sy troon in die tempel.  Van daardie tyd af wens ek dat Christene ook so ‘n fees kan hê, waar hulle Christus weer en weer, elke jaar, troon. Plaas ek net my oë oopgemaak het:  want hier staan die fees dan reg voor ons in Matteus 25:31-46!  Die wonderlikste van alle feeste:  om Christus te troon.

Maar nee, sal julle sê, hoe kan ons Christus nou troon?  Die teksgedeelte sê dan hy kom self en kom sit op sy troon.  En hoe troon ‘n mens dan nou ook vir Christus?

Ek sal sê die teksgedeelte gee ons ‘n clue hoe om Christus te troon:  deur hoop te doen.  Ja, deur te sorg vir mense wat honger en dors en eensaam is, doen jy hoop – en troon jy Christus.

Ons teksgedeelte is amper iets soos ‘n gelykenis.  Dit vertel ons hoe die koninkryk van God is.  Die koninkryk van God is daar waar mense vir mekaar sorg, waar hulle uitreik na mekaar se pyn en behoeftes.  Ons kan nou al die koninkryk van God hier op aarde sien waar daar liefde en sorg en omgee is.  Maar die koninkryk van God sal eers heeltemal hier op aarde gekom het wanneer omgee en sorg vir mense belangriker geword het as eiebelang en wegkyk.

Die 23ste November is die Sondag waarop ons Christus se koningskap oor die hele aarde vier.  Dis die Sondag waarop ons Hom weer op sy troon gaan sit, soos hy in ons teksgedeelte ons vra om te doen.  En ons kan dit doen, deur die liefde en die respek en die sorg wat ons aan die mense om ons kan betoon.  Waar ons dit aan die minste van mense doen, doen ons dit aan Christus – en troon ons hom elke keer wanneer ons liefhet en omgee.

So, ons kan op hierdie Sondag feesvier, want Christus is op sy troon.  Maar ons moet nog iets op hierdie Sondag doen.  Ons moet kans maak om met mekaar oor ons pyn vandag te praat.  So gee ons vir ons teksgedeelte vandag se gesig.  Kom ons praat oor hoe mense se honger vandag lyk.  Waarna dors hulle?  Hoekom kry hulle koud?  En waarvan is hulle siek?  Hoe lyk die tronke waarin hulle vasgevang sit? 

En hoe lyk die goeddoen, die sorg, wat ons vandag aan mekaar verskuldig is?  Miskien is dit die luister na iemand se pyn.  Miskien is dit die gaping wat jy iemand moet gee om te sê watter pyn jy hom of haar aangedoen het.  Miskien is dit die kans wat jy soek om iemand om verskoning te vra. 

So, kom ons troon Christus hierdie Sondag weer.  En word so die community of care wat die koninkryk van God naby sal bring.

Christina Landman

PowerPoint van die Seisoen van Luister