Verder Geluister: Lukas 17:5-10 – Die geloof van klein treetjies

Written by Christina Landman on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

6 Oktober 2013 ~ Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

 Lukas 17:5-10 ~ Die geloof van klein treetjies

 Ons gemeente praat nou die dag oor mosterdsaadjies. Nie een van ons weet eintlik hoe dit lyk nie. Nie een van ons weet ook eintlik veel van mosterd af nie, behalwe dat ons nou en dan ‘n bietjie mosterd op ‘n hot dog kry. Die mense het nie regtig ‘n kultuur van wegneem-etes nie, en hulle het ook nie eintlik mosterd in die huis nie. Om die waarheid te sê, toe ons Jesus se gelykenis in Lukas 17:5 en 6 oor die mosterdsaad lees, vind ons uit dat Zoeloe die Griekse woord vir mosterd, “sinapi”, gebruik. Ek weet nie of dit is dat plaaslike mense nie eintlik mosterd ken en nog nooit ‘n eie woord daarvoor gehad het nie.

Dit lyk ook nie vir my of dit vreeslik in Suid-Afrika verbou word nie. Ek was eenkeer in Skotland vir werk, en toe sien ek mosterd op die rakke, iets vreesliks. Daar was selfs sjokolade-mosterd.

Ek weet nie presies wat Jesus met die simbool van die mosterdsaad bedoel het, en hoe sy dissipels dit sou verstaan het nie. Dit lyk vir my Jesus wil aan die een kant sê dat ‘n klein bietjie geloof, groot dinge kan vermag. Aan die ander kant, lyk dit my, wil hy (in verse 7-10) sê dat ons nie groter as onsself moet wees nie, en ook nie hoef te wees nie. Die treetjies wat ons in geloof gee, is genoeg. Daar word nie van ons verwag om in die naam van geloof skouspelagtige wonderwerke te verrig nie. As gelowiges moet ons doen wat ons kan doen.

Maar hoe kan ons vandag in die gemeente praat oor geloof soos ‘n mosterdsaad, sonder dat ons onsself verbeel ons kan te veel doen, maar ook so dat ons wel as gelowiges ‘n verskil maak?

Kom ons kyk weer na die mosterdsaad. Dis ‘n simbool wat – al ken ons nie ‘n mosterdsaad “face to face” nie – tog met ons praat. Dis een wat ons bemoedig en vertroos. En sterk maak. Ek dink sommer hier aan vyf dinge waarmee ons as gelowiges ons geloofslewe aan ‘n mosterdsaad kan bind.

 Een. ‘n Mosterdsaad groei waar hy val. Of dit nou in goed-voorbereide aarde val, en of dit nou tussen rotse en klippe val, of op die kale, harde grond… die mosterdsaad groei net daar. En dit is ‘n belangrike voorbeeld vir ons geloofslewe en sommer ook vir ons lewe in die algemeen. Partykeer wag ons dat dinge volmaak moet wees, en of dat ons ‘n teken van iewers af moet kry, voordat ons begin groei. Maar wat daarvan ons maak soos die mosterdsaad – en groei waar ons ookal te lande kom. Miskien is ons huislike omstandighede swaar, miskien is ons werk ‘n teelaarde vir bossies. Net daar waar ons val, daar moet ons groei. Dit leer ons van die mosterdsaad.

Twee. ‘n Mosterdplant is moeilik om uit te roei. As hy eers begin groei het, hou hy nie op nie. Hy hou aan groei. Jy kan aan hom pluk en hom probeer uittrek. Hy kry altyd iets om verder mee te groei. En dit kan ons tog ook onthou. Ons moet nie ander mense oorheers en bo-oor hulle groei nie. Maar ons het die reg om te groei. Die reg op ‘n eie plekkie. Die reg om te bestaan. As ons in ander mense se pad is, het ons nog daardie reg. Om te bestaan en te groei.

Drie. Die mosterdsaad groei nie net op moeilike plekke nie, dit groei GOED op moeilike plekke. Die mosterdplant bestaan nie net nie, dit bestaan GOED.

Vier. Die mosterdsaad is gesond. Dis nie net gesond om mosterd te eet nie, die mosterdsaad het medisinale waarde. Dus, die mosterdsaad is voedend, en dit is genesend. So, aan die een kant moet ons so lewe dat ons ‘n gesonde en helende invloed op ander mense het. Dis waarskynlik waarom Jesus hierdie simbool van die mosterdsaad gebruik, want Jesus is tog ons geneser. Aan die ander kant kan ons gewoon onthou: eet mosterd, dis gesond!  My gemeente het hulle verbasing daaroor uitgespreek. Hulle het gewoon nie geweet mosterd is gesond nie.

Vyf. Jesus verwys na die mosterdsaad omdat dit so klein is. En daarmee sê Jesus iets oor klein dingetjies, en die waarde daarvan. Oor die klein treetjies wat ons almal kan gee, en dat dit ‘n verskil kan maak.

Ons gemeente het toe lank gepraat oor die klein treetjies wat ons kan gee. Ons kan nie groot-geld-dinge in ons gemeente doen nie. Ons kan nie elkeen op ons eie reuse projekte op die tafel sit nie. Maar saam kan ons klein treetjies gee. En ons kan dit gee omdat ons glo. Omdat ons glo dat God ons geplant het waar ons is, en saam met ons die pad stap.

 Christina Landman

Geen Preekriglyn in Argief

 

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Johan van Rooyen

    |

    Baie dankie Christina vir die skitterende praktiese toepassing van geloof in alledaagse konteks!

    Reply

Leave a comment