Verder Geluister: Lukas 18:9-14 ~ Hervormingsondag – nooi weer die Here in

Written by Christina Landman on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

27 Oktober 2013 ~ 23ste Sondag in Koninkrykstyd ~Lukas 18:9-14

Nooi met Hervormingsondag weer die Here in

 Die Fariseër en die Tollenaar. Ja, hoeveel preke van “goeie” en “slegte” gelowiges het dit nie al uitgelok nie. Die Fariseër dink hy is ‘n vername man. Maar hy is dit nie regtig nie. Fariseërs was maar randfigure in die godsdienstige wêreld, en het gewoonlik maar uit die middelklas van die samelewing gekom.

Die verhaal van die Fariseër en die Tollenaar is die verhaal van twee verskillende soorte gebede, en twee verskillende soorte verhoudings met God. Die Fariseër strek sy hande uit na die hemel, kyk op – en vertel God hoe goed hy wat die Fariseër is in terme van goeie dade en die nakom van die wet, en hoe hopeloos die Tollenaar is.

Ek en my gemeente het ‘n ruk gelede lank oor die Fariseër gepraat. En ons besef toe, eintlik bid die Fariseër gladnie. Syne is nie ‘n gebed nie. Dis ‘n geskinder. Hy skinder oor ander mense by God. Dis amper soos Adam en Eva, wat in die Bybelse verhaal nooit met mekaar praat nie!  Hulle skinder net oor mekaar by God.

Sien, ons het net daarvoor ‘n opname in die gemeente gemaak – oftewel, die gemeente het ‘n opname onder hulleself gemaak – oor wat lekker en wat sleg is by die kerk. Die meeste hou van alles in die kerk, veral die sang en dans – en dankietog die prediking ook, waarvan hulle baie self doen. Maar die ding in die kerk waarvan mense die minste hou, is dat mense wat saam in die kerk sing en dans, soms buite op straat ook van mekaar skinder.

En daar het jy dit nou. Jesus keur die skindergebed van die Fariseër af. Nee, dis nie waarvoor die verhouding tussen ons en God daar is nie… om oor mekaar te skinder nie.

En dan die Tollenaar. Wat maak hy? Hy slaan op sy bors … soos die vroue by ‘n begrafnis gedoen het om hulle intense smart te wys. Hy kyk nie eers op nie, maar af. Hy sê gewoon: “O God, wees my, sondaar, genadig.” En daarmee nooi die Tollenaar vir God in sy lewe in.

Wat ‘n wonderlike vers om op Hervormingsondag na te kyk. O God, wees my, sondaar, genadig. Een van die basiese spreuke van die Hervorming was tog dit: sola gratia. Alleen genade. Op grond van genade, en genade alleen, laat God hom in ons lewens innooi. Ons kan nie God in ons lewens innooi op grond van goeie werke nie. Vertonerigheid werk nie by God nie.

Dis genade alleen.

Miskien kan ons ons op Hervormingsondag weer vra: Waarvoor moet ons alles vir God innooi?  Miskien het ons ‘n renons in iemand. Miskien het ons woede by die werk. Miskien is ons in ‘n persoonlike verhouding met ons maat of ons kinders wat giftig geword het. Dan maak God ons vry om God in te nooi en ons met hierdie moeilike situasies te help.

Hoe lyk ‘n lewe, en ‘n kerk, waar God ingenooi is? Kom ons gaan dink vandag daaroor. Is dit ‘n lewe en ‘n kerk wat ander mense met waarde behandel? Menswaardig, soos God ‘n tollenaar behandel?

God se genade is daar. Nooi dit in. Om ‘n sondaar te wees, iemand wat nie hoop het nie, iemand wat nie hom-of haarself kan help nie – dis nooit die laaste woord nie. Want God is genadig.

Christina Landman

Preekriglynb in Argief: Lukas 18:9-14:      http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/42-Lukas/Lukas%2018_9-14.doc

Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/827_bc5b0a3bf9cd94380a9388917de74dc8

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment