{ARGIEF}

13 Oktober 2013 – 21ste Sondag in Koninkrykstyd: Lukas 17:11-19
Vandag, soos ek hier skryf, lê die week van die NGK se Algemene Sinode (AS) voor ons. As jy oor die gedeelte preek, sal jy kan terugkyk op die gebeure.
Tussen ons teksgedeelte en die AS se agenda is daar natuurlik ʼn ooreenkoms. In gister se suidelike koerant staan daar: ‘NGK wil stille revolusie uitbou.’ Nelus Niemandt, die moderator, word aangehaal dat die sinode in die teken van die missionale beweging staan. As jy meer hieroor wil weet, kyk op die internet na die verslag daaroor http://www.ngkerk.org.za/AS2013/wp-content/uploads/2013/09/A.12.7-Missionale-Aaard-en-Roeping-van-die-NG-Kerk.pdf
Om die ooreenkoms helderder uit te lig, wil ek vra dat jy Luk 17:20-21 saamlees met die voorgeskrewe gedeelte. Jesus sê onder andere: “want die koninkryk van God is hier by julle…”
Die missionale beweging is wêreldwyd, en ook in die NGK, eintlik ʼn bekering. Dit is gebore in die besef dat die doel van die kerk en sy sinodes die toekoms die Koninkryk van God moet wees (dit is hul “mission”). In Lukas 17 begin vers 11 met die woorde dat Jesus op reis was na Jerusalem, na die plek waar Hy die prys sou betaal vir die Koninkryk van God se deurbreek in die gebroke, melaatse wêreld. Dis geen toeval dat die gedeelte afspeel “op die grens” tussen Galilea en Samaria nie. Jesus het sy dissipels die hele tyd oor grense gevat om te ontsnap uit die apartheid van die eie groep en sy geslote kerk ruimtes. As melaatses in grenssituasies genees word, is dit ʼn klein teken van die deurbraak van die Koninkryk van God. Die Samaritaan was immers anders, soos vers 18 dit stel, “ uitlander” (sien die preekstudie).
Verduidelik vir die gemeente dat hulle kerk, soos die dissipels van ouds, so bevoorreg is om met Jesus op ʼn reis oor grense te beweeg. Verwag wonderwerke. Eintlik is die kuns om dit te sien gebeur, want dit is oral aan die gebeur (die preekstudie skryf oulik oor die “sien” tema). Wys die gemeente daarop dat daar ʼn identiteitskuif in die NGK, en talle “ou” kerke wêreldwyd, aan die gebeur is. Die kerke los hul apartheid, hul selfbeheptheid, hul fokus op hul eie voortbestaan, geboue, wette (kerkordes) en besef dat Jesus hulle daarvan wil verlos om in die wêreld ʼn verskil te gaan maak. Die eindresultaat van hierdie Koninkryk is vrede en verlossing in sy wydste betekenis!
Die preekstudie lê baie klem op die dankbaarheid tema. Ten regte. Nege vat wat hulle van Jesus kry en is net in hulleself geïnteresseerd, hulle eie verlossing, hul eie genesing. Net een draai om en dank God vir die verlossing. Gewoonlik vat 90% van ons uit die kerk wat ons uit die kerk en van God kan kry vir onsself. Dis in wese apartheid, dit gaan net om myself, my gesin, my groep. Jy vergeet dan dat God Abraham, vader van die gelowiges, geroep het om ʼn seën vir die wêreld te wees. Die kerk vergeet so maklik dat dankbaarheid beteken om om te draai na Jesus toe. Dit beteken om weg te draai van jou eie belange en om die pad Jerusalem toe te vat, dis die kruispad. Dis die pad wat jou op plekke gaan bring waar jy nooit anders sou kom nie. Op jou agenda staan dinge geskryf wat jy nie self daarop sou plaas nie. Die “ander” se goed is nou op jou agenda, ongemaklike goed! As dit gebeur is die koninkryk hier by julle!
Ek wil glo en bid dat ons oor ʼn week met die gemeentes iets van hierdie reis sal kan vier. Verduidelik dat die lewe ʼn reisverhaal is en dat gemeentes daarop kan gaan. Vier dit deur in die erediens na Jesus te kom en vir Hom daar dankie te sê vir ons eie genesing.
Jurgens Hendriks
Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/42-Lukas/Lukas%2017_11-19.doc
http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/821_1318a8dcf9430218ca940fdde04264c7
 Lukas17 11-19