Maandelikse fokus: Verbeeldingryk

Written by Admin on . Posted in Preekstudies

Maandelikse fokus: Verbeeldingryk



Die verrassende van die verbeelding


Almal het seker al die film “Life is Beautiful” gesien.  Ek het onlangs weer daarna gekyk en my weer verwonder oor die krag van verbeelding en die genieting om daardeur meegesleur te word en te ervaar hoe die werklikheid ‘n gans ander ‘kleur’ kan kry.  


Dit het my ook weer laat dink aan die verhaal van die twee bejaarde bed-gekluisterde mans wat heeldag in hul kamertjie gelê het, die een by die venster en die ander teen die muur.  Elke dag kon die een by die venster vir ‘n uur bietjie regop sit en dan het hy by die venster uitgekyk en al die wonderlike dinge wat hy gesien het, aan sy vriend vertel sodat hulle saam kon wonder en gesels oor die mense en die lewe daarbuite.  Op ‘n dag sterf die man by die venster en die ander een vra om na die venster geskuif te word.  Met moeite beur hy hom op om by die venster uit te kyk na die wêreld wat sy oorlede vriend hom elke dag aan blootgestel het, net om te ontdek dat daar niks buiten ‘n soliede muur is om teen vas te kyk nie. 


Waar vind ons dit?

Om te sien wat nie daar is nie en om te weet wat nie bekend is nie, dit is die moontlikhede wat verbeelding ons bied.  So gestel klink dit na ‘n vermoë wat ons as mens het.  ‘n Eienskap wat deel van menswees is.  Daarom sê Winnicott dat verbeeldingrykheid en kreatiwiteit is the doing that arises from being.  Dit is in ons.  Of jy ‘n man of vrou is, of ‘n kunstenaar of ‘n onderhandelaar, dit is daar.  Kyk maar net weer hoe kinders kommunikeer en word ‘n keer self soos “een van hulle” en jy sal verbaas wees om te ontdek hoe eg en werklik en skeppend verbeelding is.  Om verbeeldingryk te leef, is nie (net) om kunstig skeppend te wees nie, maar om op ‘n bepaalde manier na die lewe te kyk en betekenis daarin raak te sien.  Byoorbeeld, “die wat eerste is, sal laaste wees en die wat laaste is, eerste” en “geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” en “julle is die sout van die aarde en die lig van die wêreld” en “laat julle ja eenvoudig ja wees en julle nee eenvoudig nee” en “waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees”.

Wat het daarvan geword?


Die gevaar vir ons (predikante) is dat ons verbeelding nie meer gaande gemaak word deur uitsprake soos dié hierbo nie.  Erger nog, dat ons nie meer verwonderd staan voor die Een wat dit uitgespreek het nie.  Redes is seker legio.  Ons het dalk te gewoond geraak aan Hom en daaraan.  Ons is dalk te ingestel daarop om alles te wil verstaan en te verklaar.  Ons is te taakgerig en voel eers gemaklik as ons die regmerkie kan maak.  Ons is te juridies, te teologies, te polities, te sinies.  Só verloor ons ons kinderlikheid en ons afhanklikheid en wil ons nie meer soos ‘n kind by sy/haar Vader wees en kan ons nie meer speel en oorgee om saam met God-Drie-Enig te dans nie.



Wat nou?


Ons moet ons verbeelding ‘oefen’.  Ons moet weer die plek vind waar ons onsself nie te ernstig neem nie en waar die ‘buite’-wêreld nie so ‘n ernstige houvas op ons kry nie.  Ons moet weer kom waar God is.  Daar waar Hy nie ‘n skepping van my grille is of objektief verklaar en verduidelik word nie, maar daar waar Hy Is wie Hy Is.  Ek moet weer by die plek kom waar ek aan Sy voete is, in Sy hand, aan Sy bors, op Sy skoot, in Sy altyd alle teenwoordigheid.  Stilte en ‘n rustige omgewing is sekerlik bevorderlik hiervoor, maar so ook verwondering en aktiwiteit, blootstelling en oorgange, onsekerheid en ontdekkinge, verwagtinge en afhanklikheid.


Hoe nou?


Daar is vier praktiese stappe wat ons sal help om in afhanklikheid van God en as verbeeldingryke mense te leef. 



  1. staan elke dag op met die verwagting dat God Hom aan jou in hierdie dag sal openbaar
  2. leef dan in die onmiddellike, bewus dat hier waar ek nou is, ek in Sy teenwoordigheid en genade is
  3. gee aandag en ondersoek daardie vlietende gedagtes wat soms soos van nêrens by ons opkom
  4. vanaand, voordat ek boeke toemaak, blaai ek weer deur die dag wat verby is en herroep ek weer die momente van die dag en verbaas ek my vir God se betrokkenheid in my lewe.

En dan?


En dan leef ek in geloof, hoop, liefde, gebed, preke, musiek, omgee, onderskeiding, Bybelstudie, empatie, vergifnis, genesing, reg en geregtigheid, versoening en al die ander verbeeldingryke geleenthede van predikantwees.


 


Ns.  Met die deurlees ontdek ek ek gebruik reaktiewe taal en nie proaktiewe taal nie (Covey se onderskeiding).  So, verander al die “moet’s” met “wil” en “sal” en kyk wat dit vir jou doen.


 


Pierre Goosen

Trackback from your site.

Leave a comment