{ARGIEF}

Ek wou hierdie keer eintlik oor Egipte en mag skryf, maar toe vang my oog die briewekolom in Die Burger: “Is Mandela nou ‘n Christen of nie?” (04/02/2011). Oor die meriete van so ‘n vraag/brief, wil ek my (liewer) nie uitlaat nie.

Alhoewel mnr Mandela nie uitgesproke oor sy Christenskap is nie, merk hy in sy outobiografie (1995) op dat hy nog altyd ‘n Christen was en vir altyd een sal wees. Dit is immers waarin sy optrede en oortuigings gegrond word.

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het mnr Mandela by geleentheid “God’s gift to South Africa” genoem, asook “South Africa’s gift to the world”. Tutu sê dat mnr Mandela ‘n transformasie op Robben Eiland ondergaan het.

Aanvanklik, toe hy gevange geneem is, was hy “forthright and belligerent”, maar die tronkstraf wat hy uitgedien het, “mellowed him”. “He began to discover depths of resilience and spiritual attributes that he would not have known he had. He allowed suffering to ennoble him, and found himself able to be gentle and compassionate towards others”.

Toe mnr Mandela die dag uit die gevangenis stap, was sy waardigheid, selfbeheersing, gees van versoening asook begeerte vir nasionale eenheid só treffend, dat hierdie “weg tot vryheid” miljoene mense regoor die wêreld aangegryp het.

Hy het homself weggegee vir ander – soos ‘n Moeder Teresa, Mahatma Gandhi, Martin Luther King Jnr. Sy ware krag het hy ontdek deur swakkeres te dien. Daarom kon Tutu hom as ‘n “Christusgelykvormige” figuur beskryf wat die vermoë het om die goeie in ander na vore te bring.

Hy het president van ‘n nie-so-indrukwekkende-land op daardie stadium geword – geen werklike militêre mag nie, maar die wêreld het hom vir sy “morele krag” bewonder!