{ARGIEF}

17 November 2013 ~ Ses en twintigste Sondag in Koninkrykstyd: 2 Tess 3:6-13
Die gedeelte gaan hoofsaaklik oor die dissipline om te werk, of te wel, om jou te bepaal by dit waarmee jy besig is. Paulus het met sy stelling in vers 10 – “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie”– dit as ’n waarskuwing bedoel teen mense wat net wil sit en wag op die wederkoms van Christus, wat soos hy dit noem, leeglê. Dit is daarom teen dié agtergrond dat dit nie verstaan moet word dat as iemand nie werk het, hy nie geregtig is om te eet nie. Dit moet verstaan word dat as iemand verkies om nie te werk, die logiese is dat hy ook moet kies om nie te eet nie. Dié siniese argument wat Paulus gebruik is om sy lesers daarop te wys dat ons nie kan sit en niks doen en so verkies om op die koms van Christus te wag nie. Hoe naby Sy wederkoms ook al is, ons moet met ons lewe en ons verantwoordelikhede aangaan. Dit is die wyse manier om op Christus se koms te wag. Anders gestel, ons uitleef van ons werksaamhede moet die koms van Christus help realiseer en sy koninkryk werklik maak.
Met ons werkloosheidsyfer van byna 25,6%, sou die reël van wie nie werk nie, eet nie, baie onredelik, onmenslik en ongoddelik wees. Dus belig Paulus se stelling die belangrikheid van besig wees met dit wat ons hand vind om te doen.  Dit kan ons ambag wees, ons roeping of bloot net ons belangstelling in die uitleef van ons verantwoordelikhede as man, ouer, arbeider, burger en gelowige.
Die skokkende werkloosheidsyfer kan ook gelees word as teken of oproep om met ons werk voort te gaan – om hard en gefokus te werk sodat ek/ons hulle kan help wat nie werk het nie en daarom nie kos het nie. Ons moet werk sodat werk geskep kan word. Ons werk moet eintlik werk kan voortbring. Met SA wat die 53ste plek uit 150 op die ranglys van korrupte lande beklee; waar 40% van elke 1000 pasgebore babas jaarliks sterf; waar die grootste gaping tussen publieke en private gesondheidsorg bestaan (om maar net ‘n paar te noem), moet juis dié gedagte ons motiveer om verantwoordelik te werk sodat ander gehelp kan word. Dit is veel rede tot anti-leeglêery, anti-betrokkenheid en anti-werk.
Die tweede koms van Christus of dat ons wagtend is op Sy wederkoms, is geen rede om passief, onaktief, apaties te lewe nie. Dit is geen rede om ‘n soort roekelose en onverantwoordelike lewensbenadering te volg wat maak dat ons onttrek, alles verkoop, ons werk opgee om te sit en wag vir die wederkoms om te gebeur nie. Dit moet ons juis aanspoor om te werk, hard te werk, so te werk dat ons bydraes ander kan help. Ons moet ondersteun en werk skep sodat ander nie net kan werk en eet nie, maar inderdaad met hoop en geloof geïnspireer kan word om werkend wagtend te bly – werkend koninkryk georiënteerd te kan wees, werkend en versorgend veral teenoor die noodlydendes te bly.
Die probleme soos plaasmoorde, armoede, korrupsie, die vergroting van die ekonomiese gaping tussen ryk en arm, sieke- en gesondheidsorg en vele ander, dwing en roep ons inderdaad tot aktiewe betrokkenheid en ‘n lewensbeskouing van daadwerklike en beslis verantwoordelike optrede. So word ons werksaamheid nie maar net ‘n manier om positief wagtend op Christus se koms te wees nie, maar help ons die koninkryk in mense se lewe vandag realiseer.
Donald Katts
Geen Preekriglyn in Argief