{ARGIEF}

Sondag 12 Mei 2013 ~ Sewende Sondag van Paastyd: Ons wag op die Môrester ~ Openbaring 22:16

 Ek het eendag ‘n slegte boek gelees. Dit was ‘n slegte boek, gewoon omdat dit sleg geskryf was. Eintlik het ‘n mens gewonder waarom die boek ooit gepubliseer is. Maar toe spring daar skielik ‘n pragtige storie uit die boek. Die storie was so mooi, dat nie eers ‘n slegte skrywer ‘n gemors daarvan kon maak nie. Dit was ‘n storie, ‘n ware verhaal, van ‘n vrou wie se man ‘n bywoner was, en ook nie eintlik ‘n goeie een nie. So het hulle maar van plaas tot plaas aangetrek, tot hulle maar weer weggejaag is. En elke keer moes sy maar weer vir hulle ‘n nuwe tuiste skep tussen watter vier mure ookal vir hulle gegee is.

Maar elke keer, waar sy ookal was, het die vrou haar bed getrek sodat sy die môrester kon sien opkom. Dit is wat haar aan die lewe gehou het. Dit is wat haar laat opstaan het. Dit is wat haar woordeloos deur die dag gekry het. Die koms van die môrester.

Sy het so min beheer oor haar lot gehad. Maar elke dag het sy saam met die môrester opgestaan. Niemand kon dit van haar wegvat nie.

En hier in Johannes se laaste, grootse visioen, noem Christus homself die Môrester. “Ek is die helder Môrester” (Openbaring 22:16).

‘n Mens sou hier iets kon sê oor Jesus se “Ek is…”-uitsprake in die Bybel. Dis veral Johannes wat ons daarvan vertel. In die Evangelie van Johannes sê Jesus sewe keer: Ek is… Ek is die brood wat lewe gee. Ek is die lig vir die wêreld. Ek die ingang, die goeie herder, die opstanding en die lewe, die weg en die waarheid, die ware wingerdstok. En dis elke keer wanneer Jesus in uiters moeilike omstandighede is, wanneer sy lewe en sy leer bedreig word, dat hy sê: Ek is… En homself name gee wat heelmaak en laat opstaan.

En ook hier in Openbaring 22 gee Jesus vir homself luistteryke name, name waarmee hy ‘n kontra-kultuur vestig, om dit nou maar so grênd te noem. Vir mense wat vervolg en gemartel word, wat moedeloos sou kon word en sonder hoop, sê hy: Ek is… die alfa en die omega, die nakomeling van Dawid. Die helder môrester.

‘n Mens sou hier ook kon praat oor wat ‘n môrester alles vir die gelowiges van daardie tyd beteken het. Lucifer is mos eintlik die “ligdraer”. Maar hy het geval. Sy lig het dof geword. So sal die vervolgers en die afvalliges ook hulle lig verloor. Die ware Môrester is Jesus Christus, die helder Môrester.

Maar wat sou die feit dat daar ‘n Môrester in ons lewens is, vandag vir ons beteken? Kom ons dink sommer aan drie dinge:

Een. Die Môrester herinner ons aan ons kreatiwiteit. Die Môrester laat ons ontwaak. Ons is nie maar mense wat net deur die dag strompel omdat daar niks anders is om te doen nie. Ons kan elke dag met die hoop begin dat ons iets van die dag kan maak. Menswees is vir Jesus Christus belangrik. En boonop staan hy vir hoopvolle menswees. Ons lewe met hoop, omdat hy ons kreatief gemaak het. Omdat hy ons met kreatiwiteit geseën het, en die mag om dinge te laat gebeur aan ons gegee het.

Twee. Die Môrester verbind ons aan die skepping. Die Môrester herinner ons gedurig aan God se skepping, en dat ons deel daarvan is, en daarna moet omsien. Eerder, dit herinner ons aan daardie heerlike feit dat ons deel is van iets groots en pragtigs, iets wat ‘n ritme van sy eie het, iets wat ons nie in die steek sal laat nie. Soos die tannie wat geweet het: watookal met haar sal gebeur, waarnatoe sy ookal geskop en verstoot sal word, die môrester sal elke dag opkom.

Drie. Die Môrester bring genesing. Waar daar donkerte is, sal daar lig kom. En eintlik is dit maar net uit ons eie pyn, wat ons leer hoe die lig lyk. Iemand het eenkeer gesê vandag se jong dokters verstaan nie die pyn van hulle pasiënte nie, omdat hulleself die kinders van die antibiotika is en nooit self regtig siek was of word nie. Dis lyding wat jou die lig laat soek, en vir jou die gesig van die Môrester wys.

En dit is Johannes se boodskap aan ons. Die Môrester is daar. Hy kom elke dag. En hy is helder lig. Die donker is nie teen hom bestand nie.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/05/Openbaring%2022_12-21.doc

Seisoen van Luister powerPoint:  http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/754_2539eb5c79906fcdcb8bee3119d89ac1