{ARGIEF}

3 Maart 2013 ~ Derde Sondag in Lydenstyd ~ “Vryheid ván” na “vryheid óm”: 1 Korinthiërs 10:1-13

Navolgers van Christus is bereid om vir vryheid hul gemak en aansien op te offer.  Paulus help ons om vryheid reg te verstaan, dit gaan nie net oor ‘n “vryheid ván” nie, maar ook “vryheid óm”. Vryheid is nie leeg nie, dit het ‘n doel (Woord en fees 2012/2013).

Die mens is deur God bedoel om vry te wees. Maar met die gawe van vryheid kom die verantwoordelikheid van keuses maak.  Omdat jy vry is moet jy kies. En die gevolge van jou doen en late dra. Iets hiervan lees ons in een van die skeppingsverhale in die Bybel. Vryheid sou mens kon sê is ’n ander woord vir verantwoordelikheid. Hoe vryer ons is, hoe groter dus ons verantwoordelikheid (PvN, Communitas).

Vryheid ≠verkragting
Liefde het grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie (1 Kor 13 – Die Boodskap)

“Dit gebeur nie net in kroeë en sjebeens nie – dit gebeur in ons skole, jeugklubs, disko’s, kerke… en erger nog binne ons families. Die hartseer deel is dat ons soms weet dit gebeur, maar ons doen niks” Elke vier minute word iemand in Suid-Afrika verkrag. Hoekom laat ons dit toe?” Lynette Francis, RSG (Praat Saam, 14 Februarie 2013)
Uit Stellenbosch:
SA WÊRELD SE ‘VERKRAGTINGSHOOFSTAD’
By Eunice.Visagie
2013-02-15 00:00

LEE ROSSOUW Stellenbosch Safe House
Is dit nie tragies dat in dieselfde week wat ons eintlik die liefde moet vier in dieselfde tyd as wat ons veronderstel is om aan mekaar tekens van ons liefde te toon word daar soveel dade van haat gepleeg, dat ons nou eerder skryf oor verkragtings as liefde.

Tans in Suid-Afrika is geweld teen vroue ’n nasionale krisis wat aanleiding gee dat dié statistieke skerp styg.
As mens slegs fokus op verkragtings is die statistieke skokkend. Navorsing deur Rape Crisis toon dat daar elke agt minute ’n persoon in Suid-Afrika verkrag word. Dié navorsing is gebaseer op slegs die amptelike statistieke, dus slegs die sake aan wat aangemeld is.

Volgens Statistiek Suid-Afrika (2011) word 42,6% van seksuele misdade aan iemand anders as die polisie gerapporteer. Daar word bereken dat een uit elke 9 tot een uit elke 25 gevalle wel aangemeld word. Dit beteken dus dat daar eintlik ’n verkragting elke vier minute plaasvind.

Dit is werklik skokkend om te verneem dat Interpol Suid-Afrika die wêreld se “hoofstad van verkragting” noem. Watter statistiek om jou op te roem!
Daar sal meer gedoen moet word om hierdie krisis aan te spreek. Die NSM (National Shelter Movement of Women Shelters) in Suid-Afrika doen tans ’n beroep op alle staatsdepartemente om op te tree om geweld teen vroue te beëindig.

In die besonder doen ons ’n beroep op die regering om te kyk na die implementering van bestaande wette wat die beskerming van vroue verseker; om te kyk na die herskrywing van die Wet op Seksuele Oortredings asook dat die ergste moontlike vonnis vir oortreders van alle geweld teen vroue en kinders opgelê moet word.

Terselfdertyd doen ons ook ’n beroep op die regering om te verseker dat die hantering van gevalle van huishoudelike geweld en seksuele aanranding vinniger deur die regstelsel afgehandel sal word.
In 2010 was daar reeds ’n BBC-verslag wat bevestig het vroue in Suid-Afrika het ’n groter kans het om verkrag te word as om te leer lees.

Ons gemeenskappe moet meer aktief betrokke raak by die beskerming van alle kinders en vroue. Jou bure se kinders is tog jou kinders se maats. Ons as ’n gemeenskap moet saamstaan en ons kinders en vroue beskerm.

Hoekom streef ons Stellenbossers nie daarna om die voorbeeld te stel aan ons land as mense wat weer omgee vir mekaar nie? Stellenbosch is immers ’n dorp met ’n kultuur van omgee.

Dié vraag stel ek aan ons, navolgers van Christus ! Ons streef daarna om vir ander om te gee en mis nie God se liefdesdoel nie.

Vanuit die opvoedkunde:
“Die kind se gewete met betrekking tot sy geslagtelike gedrag moet op só ‘n wyse deur die opvoeding gevorm word dat hy die doen van die goeie en hoër waardes sal nastreef; dat hy sal kan onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd en dat hy in sy vryheid om keuses te maak, sal kies in ooreenstemming met die behoorlikheidseise, die norms en waardes wat inherent deel  is van die wêreld waarin hy hom bevind (Dekker, 1989:1; Heyns, 1989:4) http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/02/02chapter2.pdf

Dit is dié tyd:
Jesus se vryheid kos Hom ‘n kruisdood. Dit het tyd geword  om ten minste sy vryheid in te sien en bereid te wees om vir vryheid ons gemak of aansien op te offer en te staan waar God staan, teen onreg.

Pieter van Niekerk

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/46-1_Korintiers/1%20Korintiers%2010_1-13.htm

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/700_477b7db71bae88ad1e3bac1e0ff1cdd0