Verder Geluister: 2 Kor 5:16-21 ~ Versoening

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

10 Maart 2013 ~ Vierdie Sondag in Lydenstyd: 2 Kor 5:16-21

Versoening behoort deur ons geleef en deur ander beleef te word.

Leon Wessels, ’n gewese menseregtekommissaris, het gesê die begrip versoening is “moeg en oorwerk”. Suid-Afrikaners moet volgens hom nie meer daaroor praat nie, maar dit leef.
Versoening nie deel van NGK se woordeskat’.

Moet Suid-Afrikaanse kerke nie hul eie waarheids-en-versoeningsproses aan die gang sit nie?
Dít is die “moedswillig ernstige” vraag wat dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, Maandag in Pretoria gevra het. Versoening was een van die temas wat Gerber aangeroer het tydens ’n besinning oor waar die NG Kerk nou staan, ’n kwarteeu ná die aanvaarding van die beleidsdokument “Kerk en Samelewing”. Hoewel die NG Kerk daarmee van apartheid begin wegstap het, het Gerber gesê die groot hartseer is dat versoening nie destyds omvangryke aandag in die beleidstuk gekry het nie. Hy het gewonder of dit gebeur het “omdat ’n deurgronde uiteensetting en standpunt-inname oor versoening ’n baie duur rekening op die tafel van die NG Kerk, die familie van NG Kerke en die samelewing sou plaas”. Gerber het gesê een van die gevolge was dat ware versoening met die koste daaraan verbonde nie deel van die dink- en praatwoordeskat van die NG Kerk geword het nie. ’n Groot struikelblok in die huidige gesprek oor kerkeenheid is dat dit nie versoende gemeenskappe is wat met mekaar praat nie.

“Ons verledes is nie uitgesorteer nie. En dis ongelukkig nie so maklik as om te sê ‘kom ons vergeet en gaan aan’ nie.” Gerber wou weet of ’n kerklike waarheids-en-versoeningsproses nie die eerste stap is voor daar verder oor kerkhereniging gepraat kan word nie. “Moet ons nie waag om mekaar se stories te hoor nie? Van townships en necklaces en bosoorlog en menseregtevergrype en plaasmoorde en haat en …” Berig deur Neels Jackson, Beeld 2011-02-15.

Hoe lyk ‘n versoende gemeenskap na buite – ‘n inspeksie? Hoe hoor, sien, dink en beleef mense/buitekerklikes/agnostici en ateïste die versoende gemeenskap? Hoeveel van die evangelie van versoening vertoon ons? Die menings op webblaaie en in die media kan hier getuig (PvN Woord en Fees).

Die Rooms-Katolieke kerk se donkerwolk en Afrikaner-Calvinisme se swartsmeerdery plaas druk op die kerk se kernbediening van versoening:

RK Kerk

http://mg.co.za/cartoon/2013-03-01-holy-indiscretions

Lulu Calvinisme

Hierdie week het onder andere vrouedominees, en dominees se vrouens ons manlike chauvinisme op RSG betreur.

ie brug tussen God en mense is herstel, en die mure wat mense skei, is afgebreek. ‘n Versoeningsleefstyl veronderstel uitdagende kopskuiwe en selfprysgawe vir Paulus en al die dienaars van versoening (PvN, Woord en Fees)

’n Kas is vir klere, ’n kerk is vir almal
Ná jare van swye oor homoseksualiteit het Pieter Cilliers besluit om weer sy stem te laat hoor. Neels Jackson, Beeld 2010-09-20 het met hom gesels.
Daar is ’n onderliggende seer in die gesprek met Pieter Cilliers. Vandag is hy die hoogs suksesvolle vervaardiger van KykNET se Kwêla. Vroeër het hy gesorg vir Pasella en Carte Blanche.
Maar die gesprek gaan oor iets wat baie dieper onder Cilliers se vel lê as TV-produksies. Dit gaan oor homoseksualiteit. Cilliers, dalk meer as enigiemand anders, het die Afrikaanse kerklike wêreld uitgedaag om nuut te dink oor homoseksualiteit. Dit is 13 jaar gelede dat sy boek ’n Kas is vir klere die lig gesien het. Dis die boek waarmee hy self uit die kas geklim het, waarin hy vertel het van sy worsteling met sy eie homoseksualiteit, eers as kind, later as student en as predikant van die Hervormde Kerk.

Dis die boek waarmee hy vertel het hoe hy sy seksualiteit aanvaar het en gemaklik in sy eie vel geraak het. Hy het geweet die boek gaan opslae maak, maar die reaksie was oorweldigend, sê hy. Hy was ’n hele paar jaar lank betrokke by die debatte en dit het sy energie getap.

Hy onthou byvoorbeeld ’n byeenkoms van die Hervormde Teologiese Kollege waar hy gepraat het en wat vir hom baie moeilik was. Vir hom as introvert, vertel Cilliers, was dit baie moeilik om die blootstelling te bestuur. Dit het baie inbreuk op sy private lewe gemaak. Daarom dat hy vyf, ses jaar gelede besluit het om hom aan die debat te onttrek.

Hy het nee gesê vir alle onderhoude. Hy moes aangaan met sy lewe, sy batterye herlaai. Hy moes homself net laat asem skep. Maar die saak het hom nie gelos nie. Die boek is vier keer herdruk en deur die jare het hy steeds briewe in reaksie daarop gekry. Baie daarvan, vertel Cilliers, het gekom van gays van alle ouderdomme.

Hulle wou hul verhale met hom deel, vertel hoe hulle met dieselfde vrae moes worstel as hy. Daar was briewe van ouers van gays wat nie weet hoe om die saak te hanteer nie. Teoloë het vir hom geskryf en heteroseksuele mense wat aanklank gevind het by Cilliers se worsteling met die kerk.

Daar was briewe van gay mans, onder wie dominees, wat met vroue getroud is. En dan was daar ook briewe van mense wat hom eenvoudig warm plek toe wou stuur. Terselfdertyd het hy verwikkelinge in die kerke, maar ook oor die wêreld heen, bly dophou. En dit ontstel hom.

Cilliers praat van “’n nuwe golf van homofobie wat die wêreld oorspoel”. Hy noem die gevalle op wat hom dié indruk gee. Dit wissel van pogings om die doodstraf vir homoseksualiteit in Uganda in te stel, tot ’n vrou wat in Suid-Afrika tussen die bene geskop word omdat sy lesbies is.

Daar is gay paartjies wat hier sukkel dat die departement van binnelandse sake hul kinders in hul name registreer en in 76 lande word gays nog strafregtelik vervolg. En so dikwels sit kerke en kerkmense agter dit alles. Intussen het taakgroepe van kerke aan die saak gewerk, maar mettertyd het dit aan Cilliers duidelik geword dat dit net ’n vorm van vermyding is.

Besluite word net telkens uitgestel. Daar was mense, sê Cilliers, wat die besluit van die NG Kerk se algemene sinode in 2007 as ’n deurbraak vir gays bestempel het. Hy kan dit egter nie sien nie. Alles bly voorwaardelik. Jy mag gay wees, mits jy nie gay leef nie. Gays mag predikante word, mits hulle selibaat bly. Die sinode laat die versorging van gay lidmate aan gemeentes oor, maar vir hom lyk dit net weer of die sinode nie verantwoordelikheid aanvaar nie. En in die Gereformeerde Kerke is die saak nie eens op die agenda nie. Voordat vroue nie daar op die kansel toegelaat word nie, sal die gay gesprek ook nie begin nie, sê Cilliers.

Al dié dinge wat gebeur, die briewe wat hy kry, die mense wat worstel met hul homoseksualiteit – dit alles het Pieter Cilliers laat wonder of hy hom regtig kan losmaak van die debat. “ Kan ek my rug daarop draai?” het hy gewonder. “Het ek nog iets om te sê?” Toe het die gedagte begin posvat om iets by te skryf by ’n Kas is vir klere vir ’n volgende uitgawe. Hy het deur die briewe gegaan wat hy oor jare gekry het en die briefskrywers gekontak om te hoor of hy dit – met of sonder hul name – kan gebruik. Toe het hy gaan sit en skryf.

Die verhale van die briefskrywers het verweef geraak met sy eie verhaal en mettertyd het ’n nuwe manuskrip vorm begin aanneem. Dit begin by die bekendstelling van ’n Kas is vir klere en vertel die storie van daar af. Van die impak wat die boek op sy familie gehad het, tot waar hy vandag is. Dit gaan oor meer as seksualiteit, sê Cilliers. Dit gaan ook oor die kerk en oor tradisionele sienings. In ’n sin het dit ’n dokumentering geword van wat in die laaste 13 jaar gebeur het.

Die boek verskyn vroeg volgende jaar en word deur Protea Boekhuis in een band met ’n heruitgawe van Kas gepubliseer. Cilliers sê een van die talle briewe wat hy gekry het, het vroeër vanjaar gekom van mnr. Mark le Roux, ’n teologiestudent in sy vyfde jaar. Dit het hom aangegryp.

Hier is ’n jong man van die platteland wat in die Hervormde Kerk grootgeword het en wat kom studeer het om ’n predikant te word. Hy het van jongs af geweet hy is gay. Maar die roeping na die teologie is vir hom ’n ernstige saak. Nou sit hy met dié dilemma: omdat hy gay is, is daar nie plek vir hom op die kansels van die Hervormde Kerk nie.

Hy het behoeftes soos enige mens. Hy wil ’n lewensmaat van sy eie geslag hê. Hy wil ’n monogame verbintenis met hom aangaan. Maar hy wil ook predikant wees. Dan vat Cilliers die storie 30 jaar en verder terug die geskiedenis in, toe ’n soortgelyke verhaal hom in die Hervormde Kerk afgespeel het. Toe was daar ’n jong teologiestudent met die naam me. Yolanda Dreyer.

Toe sy haar teologiese studie begin het, het sy geweet sy wil ’n dominee wees, maar die kerk het nie ruimte vir vroue op die preekstoel gehad nie. Maar toe neem die kerk die besluit. “Iets wat ons gedink het nooit sou gebeur het nie, gebeur toe,” sê Cilliers. “Sy word die eerste vroulike predikant en niks het inmekaar getuimel nie.”

Nou staan die kerk weer voor ’n algemene kerkvergadering. Daar is weer ’n student met ’n naam en ’n gesig. “Hier is ’n kans om vir die gay Christen te sê: ‘Ons aanvaar jou. Ons sluit jou in’,” sê Cilliers. Dit gaan oor alles wat aan die hart van die kerk behoort te lê, sê Cilliers: dinge soos liefde, aanvaarding, verdraagsaamheid, meelewing. Dit gaan oor die besef dat andersheid nie ’n bedreiging inhou nie.
“Ek kyk nog soms na mense met my ou blik. Intussen wil ek hê dat God na my deur Jesus se oë moet kyk” (Janson). Die kerk van die Here is ‘n nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ‘n nuwe blik – met die oë van Jesus na ander mense behoort te kyk. Dit transendeer eie belange en word deur ander se eie unieke menswees en kultuurverskille verryk. Ons is ‘n versoende gemeenskap in Christus (PvN, Woord en Fees).

Lidmate kan nie geloofwaardig die boodskap van versoening uitdra indien die kerk self onversoend leef nie. Die onverdraagsaamheid van onder andere ras, klas, gender, en seksuele oriëntasie in die gemeente en konflik onder gelowiges, belemmer nasionale versoening en verskraal die krag van die evangelie.

Pieter van Niekerk

Preekriglyn in Argief: geen riglyn in Argief

Seisoen van Luister Powerpoint: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/03/2Korintiers5_16-21.jpg

 

Tags: , , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment