{ARGIEF}

Tweede Sondag in Lydenstyd ~ 24 Februarie 2013  Filippense 3:17-4:1

Wat ʼn week in die nuus! Anene Booysen se grusame verkragting in Bredasdorp word geëggo met die begin van ʼn ontluikende drama in Pretoria. Reeva Steenkamp se verhaal moet nog ontvou, maar die tekens is aan die muur. In dieselfde week kyk ons na die staatsrede van ʼn Staatspresident wat vir verkragting aangekla is met ʼn Nkandla paleis vol vroue en kinders waarvoor hy nie betaal het nie. Dis ʼn man met soveel skaduwees dat net een gevolgtrekking moontlik is: dis nag. As dit die man is wat voorstap in ons land, as ons sy voorbeeld moet navolg, waarheen gaan ons?

Filippense is die blydskap brief. Ook in Filippense 4:1 sê Paulus dit weer: “Julle is my blydskap …” As Paulus nou vir Suid-Afrika moet skryf, sal hy waarskynlik nie veel rede vir blydskap hê nie. Net droefheid.

Navolgers is die sleutelwoord. Paulus roep hulle op om sy navolgers te wees. Paulus volg Jesus se voorbeeld. Lees die aangrypende Filippense 2. In vers 6 sê Paulus: “Dieselfde gesindheid moet daar ook in julle wees wat daar in Christus Jesus was.”

Paulus kontrasteer twee paaie, twee roetes, twee einddoele. Kyk na die Leesrooster se goeie eksegese. Jy identifiseer met een van hulle. As ons na die nuus kyk, moet ons vra: wie is ons identifikasiefigure? Wat en wie beïnvloed mense se lewens en keuses dat die gruwelresultaat dit is wat ons op die voorblaaie van die koerante en in elke ander vorm van nuusdekking sien en hoor? Ons het die week drie voorbeelde: Anene se geval speel af onder die armstes van ons land, Reeva onder die bevoorregtes, die wat in sekuriteitskomplekse kan woon en ons President is die simbool van wat in die hoogste leierskap van ons land aan die gang is.

Is ons dan so blind dat ons nie kan sien ons woon in ʼn geweldsamelewing nie? Grens dit nie aan iets soos medepligtigheid as ons sonder om iets te doen net gewoonweg aan leef nie?
Daar is al hoe meer mense wat profeties roep dat ons iets moet doen. Aan die een kant is daar die vrouegroepe wat tereg teen die mishandeling van vroue en kinders te velde trek. Aan die ander kant is daar verskillende voorbeelde. Angus Buchan is miskien omstrede en Mighty Men se naam speel, onbewustelik miskien, tot die probleem mee, maar hulle doen iets reg. Kyk hoeveel mans stroom na die byeenkomste. Doen moeite en gaan praat met hulle, LUISTER na al die hartseer en gebrokenheid wat jy daar hoor. Dit is ʼn noodroep. Hoor die kerk dit? The world needs a Father (http://theworldneedsafather.com/ ) se webblad haal aan dat 85% van kinders met aanpassingsprobleme uit vaderlose huise kom.

Van een saak is ek baie oortuig. Die Here roep uit soos ʼn Vader wie se hart “met verdriet” breek, soos ʼn Moeder wie se kinders verkrag is. Sy kinders is wankelend. God roep tot ons om vas te staan en getrou te bly want Hy / Sy is baie lief vir ons en verlang na ons. Daar kan min blydskap in die hemel wees as God kyk wat hier by ons op aarde aan die gebeur is.

Wat sê die Gees vir gemeentes? Die kerk se “seisoen van luister” is nooit afgesluit nie. In my werk is daar ʼn goue reël: “As jy die probleem nie kan definieer nie, kan jy dit nie oplos nie. Probeer die probleem in een sin verwoord.” Bid dan en soek leiding. Filippense vertel van die krag waarmee God alles aan homself kan onderwerp. Die kerk wat luister en dan gehoorsaam is, is nooit sonder krag en hoop nie, is altyd goeie nuus vir ʼn stukkende wêreld.

http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/02/seksuele-geweld.pdf

Jurgens Hendriks

Preekriglyn in Argief:  http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/02/Filippense%2003_17%204_1.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/700_477b7db71bae88ad1e3bac1e0ff1cdd0