{ARGIEF}

17 Maart 2013 ~ Vyfde Sondag in Lydenstyd: Filippense 3:4b-14 ~ Gevra:  ‘n Nuwe kultuur/waardestelsel

Waarde- en doelgerig teenoor volk- en selfgerig.

Meeste  mense het oogklappe van vooroordeel en stereotipering.  Die opmerking oor die Calvinistiese Afrikaner mans en dr. Mamphele se seën van haar voorvaders laat my wonder en stil word.

Paulus moes op die bekeringspad na Damaskus stilstaan. Drie dae lank was hy siende blind. Waarskynlik was dit nodig sodat hy kon transformeer en ‘n nuwe lewensoriëntasie aanneem. Hy laat sy boosheid teenoor die navolgers van Christus staan en skryf ‘n aantal verrykende briewe aan geloofsgemeenskappe. Hy breek deur rasgrense heen, skryf ‘n bekende gedig oor God se liefde en praat ‘n geloofstaal van eenheid, geregtigheid en versoening. Hy kom met ‘n nuwe waardestelsel – ‘n omkering van alle bekende waardes.

Daar bestaan disfunksionele kante in alle kulture. Daarom is dit belangrik om te weet kulture is nie staties nie, dit kan transformeer as dit die demokratiese gees verrinneweer, en vrede en voorspoed beduiwel. Kultuur kan volgens die teoloog Albert Nolan soos ‘n tweede natuur aangeleer, afgeleer, ontwikkel en verander word. Kulturele waardes kan totaal omkeer.

Om ’n nuwe kultuur te kweek
Die anargie van stakers en ontevredenes ontstel mense só dat “innerlike emigrasie” (J. Moltmann) ’n uitkoms vir talle word. Kan ons te midde van dié vernietigende kragte saam aan ’n beter samelewing werk?

Dalk help die onderskeid tussen tegniese en aanpassingsprobleme in organisasies, soos wat die Harvard-dosente Ronald Heifetz en Marty Linsky voorstel. “Tegniese probleme” het ’n duidelike omskrywing en beskikbare oplossings. Mense met gesag moet dit veral deur organisatoriese reëlings toepas.

In ons land sou ’n mens probleme soos die swak onderwys, lae produktiwiteit, korrupte praktyke en werkloosheid as sulke probleme kan hanteer. Die nasionale ontwikkelingsplan van minister Trevor Manuel spreek met ’n duidelike tydlyn en doelwitte hierdie probleme pragmaties en nie-ideologies aan. Dit verdien gelowiges se steun.

“Aanpassingsprobleme” daarenteen het egter nie duidelike oplossings nie. Dit gaan oor hoe om mense se waardes, houdings en gedrag te verander.
’n Mens maak dit nie “reg” deur organisasie nie. Dit vra waagmoed, eksperimentering, die regstel van persepsies en beter kommunikasie. Ook ’n leerbare gesindheid. Vir Calvyn was dit deel van sy bekering.

In Suid-Afrika beteken dit onder meer die skep van ’n kultuur waarin die leiers op alle vlakke die langtermynbelange van die land – sy mense, diere en plante – op hul harte sal dra.

Die gawe van saambindende drome oor hoe ons land kan wees, is daarvoor deurslaggewend. Met ’n visie kan gelowiges help. Ons storie is immers van ’n kinderlose Abraham wat die vader van gelowiges word, ’n hakkelende Moses wat die volk na vryheid lei en ’n oudvervolger, Paulus, wat die evangelie oor grense heen neem. Ons durf nie onttrek nie. Ons weet God kan drome verwesenlik. Selfs deur ons. – André van Niekerk, Beeld 2013-01-25 23

Ons lewe doelgerig met ‘n nuwe sig en ‘n uitsig vol belofte.

Pieter van Niekerk 

in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/03/Filippense%2003_4b-13.doc

Seisoen van Luister Powerpoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/709_f70737d2e374e58083763621ed961538