Verder Geluister: Gen 17: 1-7, 15-16

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 4 Maart 2012 ~ Tweede Sondag in Lydenstyd ~  Genesis 17: 1-7, 15-16

Die fokusteks vir hierdie Sondag bied weereens die geleentheid om oor die betekenis van Lydenstyd na te dink deur die lens van die verbond. Genesis 17:1-7, 15-16 vertel van die verbondsmoment wat afspeel as God op ‘n besondere manier in Abraham en Sarah se lewe ingryp. Mary-Anne Plaatjies van Huffel se preekskets in die 2011/12 bundel is besonder volledig en bring die belangrikste temas goed na die oppervlak. Die verbond is tweesydig. God se belofte van sorg en nabyheid wat versinnebeeld word in die belofte van land en nageslag, verg van Abraham en Sarah gehoorsaamheid. Weereens geld die refrein: “Ek wil vir jou ‘n God wees (Ek wil vir jou sorg, jou beskerm, jou naby wees), wees jy vir my ‘n kind (soek My, roep My aan in jou nood, leef in afhanklikheid van My ).” Die belofte van die verbond impliseer ‘n verhouding. Tog blyk die inisiatief vir die verbond ‘n eensydige daad te wees. Dit is God wat in beweging kom. God wat neerbuig. God wat betrokke raak.

Abraham en Sarah se verhaal is ryk en beslaan ‘n hele aantal episodes. Dit sou sinvol wees om die episode soos ons dit in die fokusteks kry, in te bed in die groter verhaal wat oor tyd ontwikkel rondom Abraham en Sarah. Die belofte van ‘n land en nageslag staan sentraal in die plot ontwikkeling van hierdie verhaal. Met Abraham en Sarah se roeping word die belofte van ‘n land en en nageslag reeds aangekondig. Elke episode van hierdie verhaal wentel rondom hierdie belofte of dalk eerder oor hoe die realiteit van hulle situasie verskil van die belofte. Tyd verloop en die reeds bejaarde Abraham en Sarah wat ons ontmoet in die roepingsverhaal verouder net verder. Die belofte van land en nageslag raak by die moment minder realisties, minder moontlik, meer verregaande.  Abraham en Sarah, bewus van hulle eie brose menslikheid, twyfel, knoei, beraam planne, verloor moed en lag. Die hartseer episode met Hagar en Ismael dien as die hoogtepunt van hierdie stryd tussen belofte en deurleefde werklikheid.

In die fokusteks lees ons dan weer van God wat ‘inmeng’ in Sarah en Abraham se hopelose en uitsiglose lewe en nog ‘n keer die belofte aan hulle herhaal. Abraham lag. Kan enige iemand hom kwalik neem? Die teks is so besonder toeganklik omdat dit ons brose menslikheid so goed blootlê. Dit is dan juis hierin wat die wonderlike misterie van die narratiewe teks lê. Ons leer en begryp vanuit stories – want stories is aan ons bekend. Ons sal goed doen in die erediens as ons die storie vertrou en toelaat om bloot te ontvou in die gemeente se samekoms.

‘n Besondere alternatiewe lyn wat in die prediking verder verken kan word, is die posisie van Sarah in die ontwikkeling van die verhaal. In ag genome die sosio-kulturele wêreld waarin die teks afspeel, is Sarah se posisie besonder broos en weerloos. Sy is ‘n vrou wat onder die beskerming van haar man leef, maar wat kinderloos is. Haar posisie is onseker, sy is blootgestel.

Haar onvermoë om kinders te hê laat haar sonder waardigheid. Sy is niemand, verskraal tot ‘n niksheid. Tog noem God haar in hierdie gedeelte ‘n prinses, die moeder van die nasie. In God se belofte word Sarah se menswaardigheid herstel. God sien haar raak en bevestig haar waardigheid as skepsel, as mens, as vrou. In die lig van die verontmensliking van soveel in ons samelewing, sou hierdie belofte aan Sarah dalk vir ander ook hoop inhou.

Charlene van der Walt

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment