Verder Geluister: Hand 9:1-6 (7-20)

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Derde Sondag van Paastyd~ 18 April 2010

MENSE MET GEESTELIKE ORE EN OË ERVAAR GOD SE ONTFERMENDE GENADE EN BAL GEEN VUIS

Paul's encounter Paul’s encounter with the risen Christ on the road to Damascus geskilder deur die Engelse skilder Norman Adams lees meer hieroor in “Theology on the Road to Damascus” deur Ben Quash, University of Cambridge

http://etext.lib.virginia.edu/journals/ssr/issues/volume7/number1/ssr07_01_e01.html

Innerlike oë
“’Ons het ore meer as oë nodig. Al was visie in die 20ste eeu die belangrikste woord in leierskap en die bestuurswetenskap, het dit nie juis ‘n veel beter wêreld die lig laat sien nie. Leierskap het baie meer met hoor as met sien te doen. Ons moet eerder ons roeping beter hoor. Mense in leierskapposisies moet dalk vir ‘n slag net stil raak en beter luister’, sê Nelus Niemandt. Paulus moes op die bekeringspad na Damaskus tot stilstand gebring word. Drie dae lank het hy met oopoë nie gesien nie. Waarskynlik was dit nodig sodat hy gefokus na God kon luister en só God-wat-mens-geword-het met innerlike oë kon raaksien. Eers toe Paulus ongesteurd na binne kon kyk, was hy gereed om God se wil buite homself te ontdek en te sien” (PvN in Christen Leiers). Hy kon nou God se genade en vergifnis in sy lewe ervaar (Van Houwelingen). Paulus getuig:  “Ek is oorlaai met liefde en geloof van Jesus Christus” (1 Tim. 1:14).

Nuwe lewe

Paulus het ‘n nuwe lewensoriëntasie. Hy is deur Christus bemagtig en betroubaar geag om in sy diens te staan, al het hy Hom voorheen belaster, vervolg en beledig (1Tim. 1:12-13).  God se onverdiende goedheid het hom ‘n voorbeeld van sy geduld met sondaars gemaak (NLV).

Paulus ondergaan boonop ‘n transformasie uit sy gewelddadigheid (Van Aarde). Hy laat sy boosheid staan en skryf oor God se liefde.

Johan Swarts skryf ‘n paar dae gelede:
Laat ons boosheid haat, nie mekaar
http://www.nuus24.com/Rubrieke/JohanSwarts/Laat-ons-boosheid-haat-nie-mekaar-20100409
Dit seker te wagte dat rubriekskrywers vandeesweek iets oor dood sal kwytraak.

Ek het reeds my misnoë daaroor te kenne gegee en verskeie goeie skrywes is reeds oor die ongelukkige gebeurtenis neergepen. Veral Jonathan Jansen (Ten minste was ET ’n eerlike vuurvreter), Khaya Dlanga (Terre’Blanche death a wake-up call) en Tinyiko Sam Maluleke (Mourning Eugene Terre’Blanche) se woorde is myns insiens die moeite werd om te lees.

Wat ek oor Terre’Blanche se dood sou wou sê, is dus reeds in die breë kwytgeraak. Niemand wil ‘n parafrasering van ou rubrieke lees nie, so ek kan seker nie ook versoek dat Suid-Afrika nou moet kalm bly en nader aan mekaar moet beweeg nie. Of dat Terreblanche se moord ten diepste gaan oor twee mense wat ’n ander een doodgemaak het, en dat dit – politieke oortuigings tersyde – verkeerd bly.

Dit help seker nie ek herhaal die wekroep om saam te staan teen misdaad of die waarskuwing dat ons veel meer verdeeld is in Suid-Afrika as wat ons dikwels sal wil toegee nie.

Tog.

Asof die noodlot dit so bestem het, het ek besluit om die afgelope langnaweek deur NP van Wyk Louw se versamelde gedigte te werk. Die volgende gedig (uit die bundel Die Halwe Kring), tref my toe:

Moet ons ook toorn hê
Moet ons ook toorn hê, moet die donker haat
saam in gelid naas ons wit liefde loop,
naas ons trots vreugde en wapenblink hoop,
en langs ons hoë erns gaan in die raad?
dit sal ons dan haat: óu magte wat ons krenk
met die smaad van hulle jare, omdat hul oud
en vol onmenslike hunkerings is, die goud
meer liefhet as mooi-lewe, en ons deurdrenk
gestadiglik met woorde wat geen sin het
van ‘breedheid’ en ‘gelykheid’, dat ons ras
kan wegsmelt in die donkerbloedige plas,
en woorde klaarmaak wat geweld begin het.
Dié sal ons haat, en ‘haat’ naas ‘liefde’ sê
dat ons weer mense menslik lief kan hê.

In retrospek is dit nommerpas vir die hele sage.

Die gedig is die vyfde vers in ’n afdeling getiteld: ‘Gedagtes, liedere en gebede van ’n soldaat’ en het vanselfsprekend nie enige direkte verbande met Eugene Terre’Blanche se dood en Suid-Afrika se huidige toestand nie. Tog kan ’n mens nie anders as om ’n boodskap van hoop daarin te vind wat toepaslik is op die hele onsmaaklike gebeurtenis nie.

Mag Suid-Afrika dus na afloop van Terre’Blanche se moord nie toenemend woede koester teenoor strooipoppe van ‘wit’ en ‘swart’ nie, maar eerder ‘die magte van vervreemding en verdeeldheid’ verafsku. Mag die nuttelose konsep van ras stadig uit ons kollektiewe geheue begin ‘wegsmelt in die donkerbloedige plas’ van Terreblanche se ontslape liggaam. Mag ons praat eerder as skiet; mag woorde klaarmaak ‘wat geweld begin het’ op die 3de April.

Al sit ons met politici wat dikwels ‘die goud / meer liefhet as mooi-lewe’, al dikteer massahisterie en emotiewe irrasionaliteit juis dat ons na afloop van Terre’Blanche se dood vir mekaar moet kwaad raak en al sou ’n mens kon argumenteer dat ons die afgelope 16 jaar deur ons leiers uitverkoop is aan ’n hol refrein van ‘gelykheid’ wat in die praktyk dikwels ’n hersenskim is, is dit steeds moontlik om nie mekaar nie, maar boosheid te háát.

En mekaar menslik liefhê.

Dit, dink ek, is al wat ek oor Terre’Blance wil (her)skryf.

(Sorrie, Nicholaas.)

Geweld móét gestop word
Dr Braam Hanekom – Moderator NGK Kerk Wes-en-Suid-Kaapland
Ds Lucas Luxolo Plaatjie – Moderator VGK Kaapland

As mede-gelowiges in Christus voel ons geroepe om hiermee die volgende ernstige oproep op ons mede Suid-Afrikaners te doen.
Ons doen dit gesamentlik omdat ons met hierdie simboliese gebaar duidelik wil sê dat ons glo dat  die meerderheid swart en wit Suid-Afrikaners graag in vrede en harmonie met mekaar wil saamleef en glo dat die land  wel `n gelukkige toekoms het.

Ons versoek ons mede-landgenote om, al is dit in hierdie dae om verstaanbare redes hoe moeilik, hulle self  te weerhou van enige rassistiese optrede en gesindheid. Dit sluit alle optrede in wat deur ander groepe as rassisties ervaar kan word. Laat ons die woorde van oud pres. Nelson Mandela in die verband onthou en `n  gees van versoening en verdraagsaamheid uitleef  ter wille van ons geliefde land en mede-Suid-Afrikaners.

Ons wil in die Naam van Christus pleit dat mede-landgenote nie teen mekaar sal opstaan nie, maar wel teen alle vorme van geweld en in die besonder die gruwel-moorde in ons midde. Dit moet eenvoudig gestop word. 

Ons wil alle lidmate versoek om in hierdie dae selfs verder te gaan deur konkrete dade van wedersydse respek, aanvaarding en versoening teenoor mekaar, in die gees van Paasfees,  uit te leef.

Ons doen die oproep in nederigheid omdat ons met pyn maar al te bewus is van ons eie geskiedenis van verdeeldheid. Juis daarom wil ons hierdie oproep in  hierdie dae gesamentlik doen.

Dis dan enkele ekstra gedagtes vir Sondag se teks. Sterkte met jou preek maak.

Pieter van Niekerk

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment