{ARGIEF}

Sondag 11 April 2010 ~ Tweede Sondag in Paastyd ~ Handelinge 5:27-32

Wees stil en luister na God se wil

Op 22 September 1963 lewer Oom Bey (dr. C.F. Beyers Naudé) sy afskeidspreek in Aasvoëlkop op die vooraand van sy aanvaarding van die direkteurskap van die Christelike Instituut. Sy teks kom uit die Handelinge 5:27-32, ons teksgedeelte vir eerskomende Sondag.

Oom Bey moes kies om predikant van die NG kerk te wees wat nie die wil van God gedoen het nie en sy strewe na die uitvoering van God se wil.

Gedeeltes uit sy preek:
“Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense” (Handelinge 5:29). Om te verstaan wat hierdie woorde vir Kerk en maatskappy, maar ook vir u en my beteken, moet ons eers ‘n duidelike begrip hê van alles wat hier plaasgevind het. Hier het ons ‘n groep manne en vroue besig om Jesus Christus te verkondig. Hulle verkondiging is nie net ‘n oorvertelling van die geskiedenis nie. Dit is geskiedenis, ja, opstandingsgeskiedenis, maar dit is baie meer. Dit is eerstens ‘n getuienis van Jesus Christus as Opgestane Here, dit wil sê as die lewende in hulle midde…

 “Wanneer die wil van die mens te staan kom teen die wil en weg van God, dan moet die mens weet dat hy aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense, want die kerk se eerste gehoorsaamheid en hoogste trou is aan Christus.

“Hoe moet ek weet wanneer dit God is wat spreek? Deur ons gewete? Hoe weet ons of ons gewete altyd reg is? Hoe het Petrus dit geweet? Hoe sou hy dit kon bewys? Die feit is: Hy kon nie, hy staan weerloos voor sy regters en voor die volk. Al wat hy as anker het, is die innerlike geloofsekerheid wat God deur sy Gees aan hom gegee het en wat Hy aan almal gee wat bereid is om deur voorafgaande worsteling in totale afhanklikheid voor God te staan te kom met volkome gewilligheid om van God oortuig te word oor die gehoorsaamheid wat Hy van ons verwag”.
 
Dis dertig jaar later, 10 April1993 – Stil Saterdag – ek deel Oom Bey tydens die opening van ‘n diakonale dienssentrum op Venterstad in die Noordoos-Kaap die nuus mee dat Chris Hani vermoor is. Die versoeningsproses wat tot die opbou van die eerste demokratiese verkiesing lei, word ernstig bedreig. Die moordenaars is twee wit regse politici.

Die verkiesing het met God se genade en goeie leierskap vlot verloop. Oom Bey aanvaar die NG kerk se hand van versoening. Op 16 Augustus 1995 ontvang ek ‘n faks van hom met sy preek wat hy in die NG Gemeente Aasvoëlkop 13 Augustus 1995, 32 jaar na sy afskeidspreek in dié gemeente, gelewer het. Die faks het ek steeds… 

Aug. 16 ’95 12:05 pm Ecumenical Advice Bureau                                                                
.

Die pleidooi om versoening
(2 Korintiërs 5 vers 11 – 20)
NG Kerk Aasvoëlkop
13 Augustus 1995

Gedeeltes uit sy preek:
“So baie het met ons almal in die afgelope 32 jaar gebeur, nie net persoonlik nie, nie net in die land nie, maar ook in die familie van die NG Kerke. Watter genade geskenk van God is dit dat daar sommige van ons is wat hierdie bewoë en betekenisvolle tydperk in ons land en in ons Suid-Afrikaanse Kerke se geskiedenis kon deurmaak!

“Op feitlik elke vlak van ons samelewing is ‘n proses van versoening aan die gang, of word daar positief beplan … As Christene moet ons dankbaar wees vir sulke pogings en prosesse van versoening, deur wie hulle ook beplan en uitgevoer word, mits die bedoeling daarvan opreg is. Want die kernboodskap van die Evangelie, soos Christus dit deur sy koms na hierdie wêreld, sy getuienis, sy dood en sy opstanding verkondig het, die kernboodskap van sy hele lewe is versoening.”

Oom Bey is reeds ‘n paar jaar oorlede. Op politieke, sosiaal- ekonomiese en kerklike vlakke het dinge woes geskommel. Die jongste nuus laat my maag draai.
 
Sewentien jaar na Chris Hani se moord ook op Stil Saterdag word Eugene Terre’Blanche deur twee swart jongmanne vermoor. “Skokgolwe kring uit oor gru-moord” lui ‘n opskrif in Die Burger (05/04). Die AWB sweer wraak. Julius Malema se “skiet die boer” haatspraak word aan die moord gekoppel. Dit laat sommer die oranje (net voor die rooie) lig van rassepolarisering aangaan.

Die laaste paar weke het hierdie blog telkemale na Malema verwys. So asof dit iets meer ingehou het …?

Ek wonder of ek (ons?) nie te veel op Malema fokus en nie God se stem hoor nie. Dit het vir Oom Bey gegaan om ‘n worsteling en soeke na die wil van God. Wanneer ons Sy wil doen, raak die koningskap van God in ons sigbaar. God se koninkryk is daar waar Sy wil plaasvind; wanneer ons God hoor.

Die gebeure wat op Stil Saterdag plaasgevind het, het ‘n kakofoniese weerklank nagelaat. As ons die woorde “Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense” in (Handelinge 5:29) ernstig opneem, mag dit wees dat ons nou stil moet raak en juis nie na al die stemme luister en God se stem met ander verwar of glad nie hoor nie. Ons moet in staat wees om God se wil te onderskei, sodat sy soenoffer nie tevergeefs is nie. Want die kernboodskap van die Evangelie, soos Christus dit deur sy koms na hierdie wêreld, sy getuienis, sy dood en sy opstanding verkondig het, die kernboodskap van sy hele lewe is versoening.     

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preeksketse oor Handelinge 5:27-32 in Argief