{ARGIEF}

28 Oktober 2012 ~ 22ste Sondag in Koninkrykstyd ~ Jer.31:7-9

Vir ‘n volk wat in donkerte sit, omring deur swaarkry en lyding, vasgevang in wanhoop, is dit sekerlik makliker om alleen en verstoot te voel – te voel dat hulle van God se guns afgesny is en daarom geïsoleerd van God voel. En as daar redes soos ongehoorsaamheid en ontrou aan die kant van die volk bestaan, word die gevoel van verwerping net verdiep en verdof dit die kanse om tekens van hoop te bespeur, wat nog van ‘n stem of ‘n boodskap van ‘n profeet te hoor en te glo – dat God uitkoms beloof het?

Jesaja hoofstuk 31 is eintlik een lang woord van vertroosting – ‘n soort liefdesverklaring – en of selfs ‘n lekker dosis hoop van beterskap, van lewe, van verbondenheid en saamloop, van aanvaarding en lewenslange betrokkenheid. Dit moet die volk weet. Dit moet die Volk hoor, want dit is wat die volk sal sien. Hulle sal dit sien in die bymekaarkom van die blindes, lammes, swangeres en barendes. Jesaja noem spesifiek die vier groepe van mense – groepe van mense wat nie oor die krag, kapasiteit of vermoë beskik om die lang reis te onderneem nie – tog word hulle uitgesonder.

Eerstens om aan te toon dat hul bevryding en verlossing nie in eie krag lê nie, maar in die hand van God’s genade.

Tweedens word die groepe van mense wat as die geringstes onder die geringes beskou kan word genoem om aan te toon hoe verreikend die genade van God is. Die diepe en intense meegevoel wat God teenoor hulle het en ja dat hulle net so gereken en belangrik is soos die een sonder gebreke of die een met status.

Die verstommende van God se troos is dat dit meer as woorde en of beloftes is. God se troos is liefde in aksie – omgee in aksie. God se troos is ‘n daad – dit is prakties en ja half tasbaar. God se troos bring lewensverandering mee.
Met die toename in bendegeweld op die Kaapse Vlakte, die plaasaanvalle, die doodskiet van polisiemanne, staatskorrupsie, die groei in tienerswangerskappe, die aanhoudende gesukkel van mense om kop bo water te hou – is uitdagings wat die familie en die gemeenskap se karakter asook die geloofsgemeenskap se karakter, voortdurend toets en vra: Wat verkondig ons? Hoe konkretiseer ons die evangelie van verlossing, hoop, genade en vergifnis sodat dit ‘n verskil in mense se lewens kan maak en hulle met hoop op die toekoms inspireer? Vir mense wat moet swoeg om te oorleef, is dit makliker om in ongeloof en wanhoop te verval en hulle tot allerhande negatiewe metodes vir oorlewing te wend. Daarom moet ons as profete van die boodskap van verlossing, hoop, reg en geregtigheid, sekermaak ons word nie net aan die kant van die rykes, gesondes en vermoëndes gesien nie, maar dat ons ons kan vereenselwig met die gestremdes, armes en randfigure van ons samelewing. Ja hulle wat nie oor die krag en kapasiteit beskik om brood op die tafel te sit, nie meer in staat is om kinders op skool te hou en of mediese sorg kan bekostig nie.

Wanneer hulle (die randfigure, wese, armes, uitgeworpenes – noem maar op) saam op reis geneem word, hulle ingesluit word, ook as belangrik geag en sodanig behandel word, sal ander die tekens van hoop hierin raaksien. Almal sal met vreugde, lofsang en prys hul oë weer op die Here van verlossing en hoop rig. Die nuwe verbond sal weer betekenis hê en sal hul nakomelinge ook weer verwagtinge koester – beide van hul medemens en veral van God.

Wanneer dit gebeur, sal groter toewyding aan God sigbaar word, sal naastesorg blom en sal mense se getuienis oorloop van God se goedheid en guns  – sal hoop ook uit die lewe van die kind straal.

Donald Katts

Geen Preekriglyn in Argief

Seisoen van Luister

Jeremia 31:7-9 – 22ste Sondag in Koninkrykstyd – 28 Oktober 2012

Jeremia31 7-9Vir Hervormingsondag kan jy die uitgewerkte kort toneelstuk oor Maarten Luther vir Familietyd gebruik. Dit fokus die aandag op die bydrae wat hy gemaak het dat ons vandag Bybels kan hê en Bybels in ons eie taal kan lees. In die preekriglyn word eweneens daarby aangesluit, veral met die inleidende bydrae oor Johannes Calvyn. Dit open die weg om die situasie van Jeremia 31 te skets en te fokus op die hoop wat God bring in ’n troostelose situasie. Dit teks verkondig aan ons dat die haglikheid van Israel se situasie God nie magteloos gemaak het nie. God neem inisiatief. God handel. God beweeg. En Hy doen dit vandag nog. Dit is ‘n voorreg om hierdie ryk geestelike erfenis vandag te kan vier. Dit is net so ‘n voorreg om jou lewe hieraan te wy.

Jeremia 31:7-9.ppt 713 KB Oct 22, 2012 14:50 Download
Jeremia 31:7-9.pptx 523.78 KB Oct 22, 2012 14:48 Download
Jeremia 31:7-9.doc 100.5 KB Oct 22, 2012 14:47 Download