Verder Geluister: Jesaja 1:1,10-20

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Ons weet dat iets wat jy baie gebruik, mettertyd verslyt. Soos klere wat jy baie dra. Dis later opgebruik! Volgens Ferdinand Deist is dít presies wat met die woord genade gebeur het. Dis opgebruik! Vir baie net ‘n “gebruikswoord”.

Kyk maar ‘n bietjie rondom jou – na hóé mense leef wat hierdie woord gebruik. Luister hoe hulle oor God praat. En dis dán dat jy wonder of hierdie mense (ook ek en jy) nog werklik verstaan wat die woord genade beteken.

Eintlik is dit nie ‘n moderne verskynsel nie. Dit kom van ver. Van die vroegste tye af het mense gesukkel om die woord genade reg te verstaan.

Moses sê vir die Israeliete, voor hulle in die land Kanaän intrek, dat God vir hulle op besondere wyse sal sorg, MAAR dat hulle Hom net nie moet vergeet nie (Deut 6:10-12). Hoekom sou hy laasgenoemde vir hulle sê? Hy het geweet dat ons van nature geneig is om te vergeet wat Goddellike genade behels.

Wanneer begin ‘n mens iets van genade verstaan? Wanneer jy besef jy sorg nie vir jouself nie – God voorsien in ALLES. En Hy sorg nie vir jou omdat jy so oulik is nie. Hy sorg vir elkeen omdat Hy genadig is. Reg van die eerste bladsye van die Bybel lees ons dít!

Om maar net een voorbeeld te noem. Moses sê in Deut 7:7: “Die Here het jou nie liefgekry omdat jy groter was as die ander volke nie; jy was die kleinste van almal.”

Só is ook die rusdag in God se skeppingswerk bedoel om ‘n simbool te wees van die feit dat God ‘n genadige God is, en dat Hy vir ons sorg (ons eet sonder dat ons hoef te werk). Daarom kon Christus sê: Die mens is nie vir die sabbat gemaak nie, maar die sabbat vir die mens” (Mrk 2:27). Hiermee het Jesus presies dit bedoel – dat die sabbat ‘n simbool was dat God vir die mens sorg – die mens met sy swak geheue! Die sabbat wou sê: alles is net genade!

Nadat die Israeliete toe die voorspoed van Kanaän begin beleef het, het hulle gedink hulle moes God op ‘n manier tevrede hou. Hulle moes ‘n soort “polis” uitneem teen moontlike verliese – hulself beskerm teen teenspoed, want die land het oorgeloop van melk en heuning … God se arm draai vir gunsies. Toe begin hulle onder andere die sabbat onderhou. En hoe!

Is dit nie maar wat ons ook doen nie? Ons probeer God tevrede hou met godsdienstige rituele – deur Bybel te lees, gereeld kerk toe te gaan, ons offers te bring, ens. En ons hoop hiermee dat God sy hand van seën en voorspoed tog net oor ons sal hou. Belangrik egter: ons mag God nie om hierdie rede dien nie. Want dán word ons godsdiens ‘n verpligting. ‘n Wet. Soos in die geval van die volk van God. Die sabbat was volgens hul beskouing nie meer vir die mens nie, maar die mens vir die sabbat. En die gevolg hiervan? Hulle gaan maak toe ‘n klomp sabbatswette om dit te onderhou, meer en meer!

Dieselfde gebeur in die Nuwe Testament. Lees maar weer wat in Kolosse gebeur het. Mense het gedink deur wette na te kom, verdien jy ‘n spesiale gunsie by God! Maar, as jy só begin dink en leef, vermoor jy eintlik die God van genade. Dan vervang jy Hom met ‘n wetsgod. Dit was juis mense wat onder hierdie misverstand geleef het, wat die Seun van God aan die kruis opgehang het – toe Hy hulle wou oortuig dat genade alléén genoeg was!

Daarom het God al heelwat vroeër vir die volk volgens Jesaja gesê dat Hy moeg was van hulle nuwemaansfeeste, feestye, ens. Dat Hy dit eintlik gehaat het (Jes 1:12,14). Hoekom het God nie daarvan gehou nie? Omdat daar agter hierdie gebare en gebruike niks was wat die mens aan God se genade herinner het nie.

Kan ‘n mens dan maar doen net wat jy wil? Help dade/wette dan niks? Is dit dan glad nie meer nodig om kerk toe te gaan nie, net af en toe Bybel te lees, ens? Nee, wat moet gebeur is dat jy moet verstaan hoekom God vir Abraham en Israel uit Egipte geroep en gelei het. Sy hele doel was dat hulle vir ander tot seën moes wees! Die God van genade moes deur hulle “eredienste” en daaglikse optrede vir die wêreld sigbaar word. 

Saam met Israel se feesvierings, volgens Jesaja, was onreg. Die volk se hande was bevlek. Vir die God van genade, beteken dit niks, want hulle het ‘n streep deur sy genade getrek met hul leefwyse.  

‘n Mens se godsdiens is iets werd wanneer mense deur jou optrede/lewe die genadige God sien en leer ken. Jy moet die vrug van die Gees dra (sien ‘n vorige aktualisering). Dís die gesindheid waarmee ons eredienste moet vier en ander mense moet dien.

Die doel van God se genade is dat ons van die wêreld ‘n genadiger plek sal maak. Dat ons deur ons doen en late die aarde al meer na die hemel sal laat lyk.

God verdra nie godsdienstige feeste saam met ‘n ongenadige lewe (uitbuiting, karaktermoord, geweld teen vroue en kinders – 1 uit elke 6 huishoudings in SA word hierdeur geraak, ens) nie. Wie dié twee vermeng in hul optrede, verstaan nie die woord genade nie!

Genade is dus ‘n geskenk wat jy ontvang en wat jy dan moet gebruik om jou omgewing ‘n genadiger plek te maak! (Hier sou ‘n mens by barmhartigheid kon aansluit)

Chris Jones
 
[Bron: Lewende Woorde: Vol 6/1]

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere riglyne in Argief

 

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment