{ARGIEF}

11 Desember 2011 ~ Derde Sondag in Advent

Verder Geluister: Jesaja 61:1-4, 8-11 ~ Jesus se intreepreek verklaar sy bediening van hoop en bevryding aan almal, veral vir die armes!

Jesaja 61:1-4, 8-11 ~ Jesus se intreepreek verklaar sy bediening van hoop en bevryding aan almal, veral vir die armes.

Jesus se roeping is duidelik. Volgens Lukas is Jesus geroep om die armes te bedien en die goeie nuus aan noodlydendes te bring – sy missie laat sommige mense ongemaklik voel. Jesus is nie net besorg met mense se geestelike behoeftes nie, maar die liggaamlike nood van mense het Hom diep geraak. Daar was sommer baie mense wat swaar gekry het.

Die samelewing waarin Jesus geleef het, het hoofsaaklik uit arm mense bestaan. Ons het vandag in Suid-Afrika ‘n middelklas, destyds was daar blykbaar nie een nie. Die oorgrote meerderheid van die mense was brandarm, jy kan hulle bedel-armes noem. Kenners reken dat die rykes destyds 2% van die bevolking uitgemaak het, maar hulle het meer as die helfte van die rykdom in hulle hande gehad.  Die gaping tussen ryk en arm was baie groot. Dit klink vir my dit was selfs groter as die gaping tussen ryk en arm wat ons tans in ons land ervaar. En dis van die grootste in die wêreld.

Eers was die meeste Jode plattelandse kleinboere wat die land gemeenskaplik besit het. Die Romeine het die land verower en ‘n nuwe beleid gevolg. Groot plase is gevestig, wat die kleinboere gedwing het om op die plase te gaan werk. Hulle het handlangers wat ‘n dagloon gekry het, geword. Die geld kon skaars ‘n klein gesin van brood voorsien. As ‘n handlanger  vir ’n paar dae nie werk kon vind nie, was sy gesin sonder kos. Dit is daarom nie vreemd dat die evangelis Lukas so baie te sê het van Jesus se deernis vir armes nie.

Op ‘n sabbatdag in Nasaret preek ‘n jongman wat in die onderdorp groot geword het, in die sinagoge aan hoorders wat armoede ken. Hy neem die Bybel van sy tyd en lees uit die boek Jesaja. Dis Jesus die dorpseun aan die woord, hy lees uit die eerste verse van hoofstuk 61 en voeg die vers “om onderdruktes in vryheid weg te stuur” uit hoofstuk 58 by. Die verse wat Jesus lees was profetiese woorde aan die arm en ellendige Jode in Jesaja se tyd.  Die mense moes in daardie tyd ter wille van geld hulle huise en wingerde verpand, soms moes hul kinders as slawe aan rykes gee. Menslik gesproke was daar nie hoop vir uitkoms uit die skuld en armoede nie. God wil hulle egter verseker dat Hy hulle nie vergeet het nie. Die profeet beloof ’n totale ommekeer in hulle haglike omstandighede, God sal tot hulle hulp kom deurdat Hy sy ”genadejaar”  sal laat aanbreek..

Jesus se bevrydende boodskap is hierop gegrond. Die goeie nuus is vir die armes. Die armes is die noodlydendes, die swakkes, veragtes en verstotenes. Die gevangenes is die slagoffers van verdrukking, vasgevang in ‘n sisteem wat mens aan apartheid laat dink. (Natuurlik is daar ook gevangenes van armoede deur hul eie toedoen. Ook in sulke gevalle is God hul God van genade.) Hulle sal vrygelaat word. Die blindes, diegene wat geen lig sien nie, sal  lig sien, die lig wat met die koms van die Verlosser in vervulling gaan. Die onderdruktes is die slagoffers van geweld, die gekneusdes en die gebrokenes, hulle sal van hulle verdrukkers bevry word.

Die armes destyds en die armes vandag is meestal slagoffers van onreg. Maar ook hulle bly sondaarmense. Die oplossing lê in die genadejaar van die Here; die aanbreek van genade en die beëindiging van ellende – ’n nuwe bedeling. Nadat Jesus uit die boek Jesaja gelees het, lê hy die gedeelte met die woorde uit: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het vervul”. Dit is in Jesus met die krag van die Gees vervul. Lukas lê klem op die werking van die Heilige Gees en sê dat met Jesus se koms die mag en reg van God in die wêreld weer sigbaar is. Waar Jesus kom en waar sy Woord gehoor word, breek die lig deur, daar breek geregtigheid deur.

Sy bevrydende boodskap  word met verbasing ontvang, maar tog verwerp. Jesus het nie Jesaja 61 vers 2 gelees nie. Jesus die bevryder, laat die wraakgedagtes uit. En toe Hy beweer dat nie-Jode groter ruimte vir God se genade het, was dit net een te veel vir die godsdiensleiers van die Jode, hulle wat hulself beter as die armes geag het, hulle wat gedink het die genade is net vir hulle bedoel en nie vir die armes en eenvoudiges nie. Dat God reg aan almal laat geskied, het hul woedend gemaak. Jesus se boodskap beteken ’n totale ommeswaai, ’n ander manier om na die wêreld te kyk. Hiervoor het hulle nie kans gesien nie.  Jesus se goeie nuus aan die armes, die evangelie van bevryding word verwerp, omdat hulle dit nie kon aanvaar nie.
  
Die eerste (ou) en tweede (nuwe) Testament getuig van God se ontferming oor die minder bevoorregtes, randfigure en uitgeworpenes van die samelewing. As ons dit miskyk, mis ons God se genade en die doel waarvoor God Jesus na die aarde gestuur het.

En die onderdrukkers dan, die mense wat op die geringstes neersien en hulle uitbuit, is God se genade ook vir hulle bedoel? Natuurlik is die genadejaar ook vir hulle bedoel, maar dan moet hulle tot bekering kom, reg laat geskied, self soos armes word wat weet dat hulle alleen maar van God se genade afhanklik is.

Gelowiges word geroep om te staan waar God staan: Omdat Hy die bron van reg is, staan Hy in situasies van onreg by die verontregtes. Dis hoe God in sy grootheid besing word (Ps 146); en dis hoe Jesus sy roeping uitstippel. As navolgers van Jesus, as mense in diens van God (Rom 6:13), is die kerk, hierdie gemeente, word ek en jy geroep om die genadejaar – die hersteljaar – te help waarmaak (vergelyk Belydenis van Belhar).

Hierdie magbeheptes en rykes wat deur Jesus se boodskap aangegryp word, toon dan genade teenoor armes en steek ‘n hand van deernis en geregtigheid na hulle uit. Jesus se evangelie bring ‘n boodskap van hoop en bevryding aan almal. In Lukas is dit ‘n boodskap van hoop, veral vir die armes, die noodlydendes.

Uit: ‘n Nuwe tyd vir gewone mense

Verklaring deur die NGK en VGKSA rakende armoede in SA

Die gesamentlike bediening vir Armoede en Sorg van die NGK (Wes-en-Suid-Kaapland) en die VGK (Kaapland) het op 15 en 16 Maart in Bellville met nog 200 afgevaardigdes vergader om saam te besin oor armoede in Suid- Afrika.

Na die tyd is die volgende verklaring uitgereik:

  1. Die vergadering het as gelowiges in die Drie-Enige God en lede van twee kerke met ’n gedeelde verlede en ’n gesamentlike toekoms, bymekaargekom om saam te luister na diverse stemme oor die brandende kwessie van armoede. Ons wou graag betrokke raak by ’n proses van geloofsonderskeiding. Ons wou graag na die stem van God self luister. Na twee dae sou dit arrogant wees om te sê dat ons al die antwoorde het, maar ons is wel seker dat ons  kommerwekkende asook hoopvolle boodskappe gehoor het.
  2. Ons is diep bekommerd oor die groeiende armoede in Suid-Afrika en het bymekaargekom om te soek na sistemiese antwoorde en oplossings vir die probleem. Dit is met ongeduld dat ons onsself as kerke, maar ook alle ander rolspelers in Suid-Afrika, verantwoordbaar wil hou. Met ’n nederigheid maar ook met ’n profetiese dringendheid wil ons dus die volgende verklaar:
  • Ons is diep bekommerd oor die huidige stand van opvoeding en onderwys in Suid-Afrika. Ons is dankbaar vir die toewyding van baie onderwysers, maar is ook bekommerd oor ’n skrikwekkende afwesigheid van werksetiek, roepingsbewustheid en kapasiteit by sommige onderwysers en administrateurs. Ons laat ons kinders in die steek en kweek nog ’n verlore generasie. Dit kan eindig in ’n nuwe rewolusie. Ons glo dat die kerk op een of ander manier weer mede-verantwoordelikheid vir die onderwys sal moet aanvaar. Ons besef dat dit unieke uitdagings aan ons stel, maar ons kan nie langer wag nie.
  • Ons is diep bekommerd oor die feit dat die regering onaanvaarbare hoeveelhede geld mors. Ons het ’n verbruikersekonomie geskep teenoor ’n ware investerende en produserende ekonomie. Ons is diep bekommerd oor ons groeiende skuldlas en vrees die dag as die geld gaan opraak. Ons is diep bekommerd oor ’n groeiende persepsie dat die staat toelaes gebruik om die ontmagtigde armes te manipuleer vir eie gewin.
  • Ons is diep bekommerd oor die groeiende gaping tussen rykdom en armoede in Suid-Afrika (Gini-koëffisiënt) Ons het kennis geneem dat die grootste gaping nou bestaan tussen die nuwe swart elite en die massas werklose swart mense. Nuwe beleid is geskep wat eintlik net ’n klein minderheid bevoordeel, terwyl die groot massas steeds ly. Na 1994 het die ekonomie struktureel min verander. Die gesig van die ekonomiese elite het wel verander.
  • Ons het gehoor dat daar ‘n besliste verband tussen swak leierskap en groeiende armoede is. Dit sal aangespreek moet word.
  • Ons het opnuut besef dat armoede ’n diep emosionele en psigologiese kant het. Daarmee saam het dit ook ’n diep spirituele dimensie. As volgelinge van Jesus Christus moet ons mekaar gedurig daaraan herinner.
  • Ons het opnuut die belang van die burgerlike samelewing besef. Die kerke is deel van hierdie burgerlike samelewing. Die kerke alleen kan hierdie probleem nie oplos nie. Ons wil saam met die ekumeniese wêreld en  vennote soos  nie-regeringsorganisasies en die sake sektor, hande vat  om met ’n eenheidstem te praat. Die stemme van ander kerke en sakeleiers wat ons by hierdie konferensie gehoor het, het ons moed gegee en ons harte warm gemaak. Ons verlang egter ook na die dag wanneer ons waarlik as gelyke vennote met staat en besigheid sal saamwerk om ’n sterk netwerk teen hierdie aanslag te vorm. 
  • Ons is bekommerd dat ons deel is van ’n samelewing wat die skyn van voorspoed voorhou, terwyl die waarskuwingsligte flikker vir die onderliggende verbrokkeling van die samelewing. Ons sien diep krake as dit kom by ware versoening en heling in gemeenskappe. In baie opsigte is die morele vesels van ons samelewing aan die disintegreer. Sonder enige twyfel verhoog dit die krisis wanneer dit by armoede kom. 
  • Ons glo dat die hele kwessie van armoede spesifieke uitdagings aan spesifieke sektore van die samelewing rig, maar as ’n kerk behoort ons ons lidmate ook op ’n persoonlike vlak uit te daag. Die bedrag wat jy byvoorbeeld aan jou huishulp betaal, behoort ’n saak vir persoonlike oorweging en nadenke te wees, bo en behalwe die riglyne vir minimumlone wat geld. Hierdie is ’n profetiese uitdaging aan alle welvarende mense. In ’n land waar 20% van die mense 80% van die inkomste en besittings besit, sal ons ons moet verootmoedig voor God en onsself moet afvra wat ons Bybelse verantwoordelikheid is. 
  • Ons wil die armes egter ook waarsku teen ’n slagoffer-mentaliteit en ’n gesindheid van blaam-verskuiwing. Dit gaan niks verander nie. 
  • As verenigende kerke wil ons graag meewerk om ’n gesindheid van trots, mede-eienaarskap en lojaliteit onder alle mense in die land te herstel. Rassisme het geen plek in die stryd teen armoede nie. 
  • Ons wil graag gemeentes en lidmate bedank vir dit wat hulle reeds doen. Ons weet dat ons kerke jaarliks miljoene rande aan barmhartigheidsaksies bestee. Ons wil julle aanmoedig om met ywer daarmee voort te gaan. As kerke sal ons voortgaan om koppe bymekaar te sit oor hoe die probleem ook op praktiese maniere aangespreek moet word. 
  • As kerke wil ons graag ons solidariteit met die armes verklaar. Ons wil ons eie nalatigheid in baie gevalle bely. Ons wil bid dat ons God ons die genade sal gee om ’n besliste verskil in hierdie geliefde land van ons te maak.

    Vir die berig oor “Hebsug bedreig lewe op aarde” in DIE BURGER sien:
    http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Hebsug-bedreig-lewe-op-aarde-20111203

Ons het die afgelope 16 dae  teen geweld geprotesteer en op dié manier God se genadejaar bevorder: 
Die 16 dae van aktivisme teen geweld is ’n inisiatief wat regoor die wêreld in die tydperk tussen  25 November en 10 Desember gevier word.  Sien  www.ngkerk.org.za

Preekriglyn 2 in Argief