Verder Geluister: Joh 12:20-33

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

25 Maart 2012 ~ Vyfde Sondag in Lydenstyd ~ Joh 12:20-33

In die preekstudie van Jan Cloete oor hierdie gedeelte sluit hy veral aan by verse 27-30 wat verband hou met Jesus se diepe ontsteltenis oor wat nou vir Hom op die lydensweg voorlê. Hy begin die preekstudie met die verwysing na die vrees vir ʼn operasie wat wag en die emosies wat daarmee verband hou en bring dit in verband met die eg menslike kant van Jesus. Ek wil graag hierby aansluit, maar wil dit graag doen in die lig van ʼn artikel wat ek onlangs van Robert Vosloo gelees het wat hy gelewer het by ʼn praatjie met die opening van ʼn kunstefees en wat op die Fakulteit Teologie se webblad verskyn het.  Robert maak drie opmerkings oor die verband tussen kuns en geloof en al drie hierdie opmerkings kan myns insiens help om hierdie interessante teks verder te belig.

Hy skryf: “ ‘n Eerste opmerking het te make met ‘n woord “misterie”. Op skool het ek ‘n laerskoolonderwyser gehad wat gesê het, of immers dit is hoe ek dit onthou:  “Die lewe is nie ‘n probleem om op te los nie, maar ‘n misterie om te geniet”. Deur die jare sou ek telkens aan hierdie opmerking terugdink. In die filosofie sou heelwat denkers deur die eeue nadink oor die onderskeid tussen ‘n probleem en ‘n misterie (ons kan byvoorbeeld dink aan Gabriel Marcel). ‘n Probleem, sou hulle argumenteer, kan jy oplos, dit hou jou ‘n tydjie besig en dan beweeg jy aan, of omdat jy dit opgelos het of omdat jy vrede daarmee gemaak het dat ander dit maar moet oplos. ‘n Misterie, daarteenoor, laat hom nie so maklik oplos nie. Dit is eintlik in wese onoplosbaar. ‘n Blokkiesraaisel of ‘n wiskunde-som is ‘n probleem. Jy of immers iemand anders – waarskynlik iemand anders – kan dit regkry of oplos.  Maar – sou ons kon sê – die liefde, of God, of die geloof, is ‘n misterie.  Wanneer iemand pretendeer dat hulle ‘n misterie opgelos het, moet ‘n mens versigtig vir hulle “oplossings” wees. So ‘n oplossing berus waarskynlik dan op ‘n gevaarlike verskraling, of ‘n hawe waarheid of ‘n naïewe vergissing.”

Ek dink wat hy hier skryf is volledig van toepassing op die teks ter sprake. Ons het hier met ʼn teks te make wat op verskillende maniere iets van die misterie van Jesus se verheerliking en lyding ter sprake bring en ek dink die gevaar is groot dat ons dit dikwels soos oplossings wil hanteer en so die werklike “misterie” verskraal.

Die tweede opmerking wat hy maak:   “Naas die feit dat goeie kuns die misterie van die lewe respekteer, doen dit iets aan jou oë, aan jou manier van kyk. Goeie kuns laat ons anders kyk, met ander oë, en op ‘n ander manier. As ek Engelse terme kan gebruik: Goeie kuns is meer soos ‘n “icon” as ‘n “idol”.  ‘n Franse Rooms-Katolieke filosoof Jean Luc Marion het mooi oor hierdie verskil geskryf. Onder “idol” bedoel hy dan nie iets soos “American idols” nie, maar meer soos in die gebruik van die woord as afgod. ‘n “Idol” is meer soos ‘n spieël. As jy na ‘n “idol” kyk, sien jy eintlik net jouself;  jou blik of uitkyk word op jouself teruggewerp. Dit is wat afgode doen, dit bring ‘n ongesonde selfgerigtheid. Maar ‘n “icon” – daarteenoor –  help ons om anders te kyk;  dit is nie ‘n spieël nie, maar meer soos ‘n venster. Dit maak dat ons nie net onsself raaksien nie, maar dieper en deegliker kyk. Ons sien deur die werk ‘n ander realiteit (of ons sien deur hierdie venster hierdie realiteit anders). In die Oosterse tradisie van ikone word ‘n ikoon dan juis beskryf as “‘n venster op die ewigheid”.  Soos ‘n “icon” op ‘n rekenaar, bied dit ‘n deurgang na iets anders. Goeie kuns sou ek wou waag om te sê, doen ook dit.”

Ek dink as daar een ding is waarin Johannes slaag, is dit inderdaad om ons “anders” na die kruis en lyding te laat kyk. Die kruis is vir Johannes inderdaad  ʼn “venster” op Jesus se verheerliking – dit is nie die einde van die pad nie, maar die begin van ʼn nuwe pad.

Die derde opmerking wat hy maak: “Maar ek wil graag ook ‘n derde punt aanraak wat ek meen die rede is waarom goeie kuns so tot ons spreek, en dikwels deur ons verdedigings-meganismes breek en ons kan oorrompel op ‘n manier wat baie diep emosies by ons kan uitlok. Vir my hang dit saam met die feit dat goeie kuns nie ‘n ompad om pyn neem nie. Ons weet die lewe is nie maklik nie. Niemand tref dit mooi met die heelal nie, het NP van Wyk Louw gesê (“Groot Ode” in Tristia). Ons almal het ons seer en swaarkry. Kuns wat die lewe versuiker of ver-sentimentaliseer kom dikwels as ontoereikend en on-eg oor.  Die rede is dat skoonheid  nie teenoor pyn en kwesbaarheid staan nie, maar juis dikwels pyn op so ‘n manier ver-woord of ver-klank of ver-beeld dat dit helend bemiddel word.” ….. Die stryd van die kunstenaar was juis om aan die vreugde én die pyn van die lewe reg te laat geskied. Goeie kuns (goeie letterkunde, beeldhouwerk, skilderkuns, musiek, noem maar op), die kuns wat die moeite werd is om bewaar te word, neem nie ‘n ompad om pyn nie.  En dieselfde geld vir my van verantwoordelike geloofsuitlewing. Ons is nou in die lydenstyd. Die Christelike geloof weet van pyn en lyding. Die simbool van dié geloof is immers ‘n kruis. Maar die Christelike geloof weet ook van vreugde. Dié geloof weet nie net van lydenstyd en Goeie Vrydag nie, maar ook van Paassondag. Dit weet van opstanding en nuwe lewe. Pyn en vreugde word saamgedink.”

Hierdie laaste opmerking help myns insiens op ʼn besondere manier om spesifieke kante van die teks te belig. Dit was juis omdat Jesus nie ʼn ompad om lyding geneem het nie, wat dit vir ons moontlik is om Hom op die lydensweg te volg.

Die “link” na die berig kan by die volgend webtuiste gevind word:  http://www.soliustitiae.co.za/

Ian Nell

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief

 

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment