{ARGIEF}

Sondag 2 Mei 2010: Vyfde Sondag van Paastyd – Joh 13:31-35

Eddie Orsmond het soos gewoonlik ‘n deeglike werk gemaak van die Preekstudie vir hierdie week oor Joh 13:31-35. Die volgende tweede gedagtes het by my opgekom met die deurlees daarvan:

1. Die oënskynlike afwesigheid van die “heerlikheid” van God wat so beklemtoon word in die teks – Eddie maak nie veel daarvan in die preekvoorstel nie – maar ek het gedink oor die kontras tussen wat Jesus hier sê oor sy verheerliking en wat ek die naweek in die koerante gelees het oor hoe  dit in ons wêreld gaan. Ek hoef seker nie te veel aan te haal oor die afbrekende manier waarop daar op hierdie stadium met mekaar gepraat word nie. Haatspraak polariseer mense en laat hulle al hoe meer “vry” voel om terug te klim in die kassies van bevooroordeeldheid en afkeur jeens mekaar. Ek sien weinig van die “verheerliking” – of wil die teks my uitdaag om nuut te dink oor die heerlikheid van God?

2. Dit help my dat Eddie Van Ruler aanhaal wat sê, dit is een van die redes waarom ons kerk toe gaan – om met God in gesprek te tree oor wat ons bekommer, wat ons nie verstaan nie en wat ons desperaat maak. Die belangrike is dat ons daaroor met God in gesprek tree. Hy haal Van Ruler aan wat sê agter die spelende mens is die biddende mens – mag ek byvoeg die klaende mens. Ek wonder of ons nie Sondag meer in gebed moet wees voor God as wat ons veel ander dinge moet doen in die erediens nie – en dan dat ons die liturgie so ‘n bietjie omdraai en maar toelaat dat ons klaggebede uitkom in lament. Ek ry onlangs saam met ‘n naby-vriend wat eintlik altyd positief is, maar skielik sê – dit gaan nie goed in ons land nie – so op sy stil en rustige manier het die waarheid daarvan my ontstel. Dit sal my help as ek Sondag gehelp kan word om met hierdie onrustigheid in die liturgie, my hart voor God oop te maak.

3. Ek het ook gewonder oor die verband tussen die viering van Vryheidsdag, die week en ons teks. Ons het van die politieke verhoë verskillende gedagtes gehoor oor die betekenis oor ons vryheid in Suid-Afrika. Die teks gee ‘n ander perspektief – vry om onbelemmerd te kan liefhê – dit is die nuwe gebod in die nuwe demokrasie. Ek wonder vanoggend oor die woorde van Jesus in vers 33 – dan sal julle my soek. Eintlik verwonder ek my meer oor Jesus se antwoord – ons kan nie saam met Hom gaan nie – en per definisie moet daar ‘n nuwe verhouding kom en die verhouding word gestempel deur die liefdesgebod – julle moet mekaar liefhê…soos Ek julle liefhet… Wat toe vir die dissipels onduidelik was is of behoort vir ons helder te wees nl die liefde van die Kruis, die liefde van selfontlediging. Ek dink dit is waarvoor ons vrygemaak is in hierdie wonderlike land – vrygemaak van geskeidenheid sodat ons mekaar onbelemmerd kan liefhê. Gistermiddag, op Vryheidsdag, klop ‘n man by my voordeur aan. Ek luister aanvanklik sonder aandag maar gaan later sit sodat hy sy verhaal van swaarkry vir my kan vertel – hy is nie vry nie, hy sukkel om te bestaan en vir sy gesin te sorg. Ons praat altwee in ‘n tweede of is dit ‘n derde taal, maar ons praat onbelemmerd met mekaar, niemand in die straat kyk op omdat ons praat nie. Sy oë word helder toe hy van sy kinders praat, ons word medemense vir mekaar – so stilweg vier ons, ons eie Vryheidsdag en word hy ‘n geskenk aan my. Ek kan hom help met ‘n maaltyd en geld vir vandag, hy help my met veel meer, sonder dat hy weet of dalk weet hy.

4. Op ‘n manier het die heerlikheid tog gekom en kom dit op velerlei maniere elke dag in ons land. Ek hoop ons kan na die kla,  Sondag ook dit vir mekaar vertel as ons begin raaksien dat die Gees mense beweeg om mekaar lief te hê soos Hy ons liefgehad het!

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyn in argief