{ARGIEF}

9 Mei 2010: Sesde Sondag van Paastyd ~ Joh 14:23-29 en 5:1-9

Die fokusteks van hierdie week volg op verlede week se teks wat ook gefokus het op Christus se afskeidsgesprekke met Sy dissipels.  Verlede week was die fokus op die verheerliking van Christus en die opdrag om mekaar lief te hê, en agter dit die misterie van Christus wat oppad is na ‘n plek waarheen die dissipels nie kan gaan nie 13:33b, en hierdie week Judas se vraag oor Jesus se openbaring aan hulle, maar nie aan die wêreld nie(14:22). Ons het duidelik hier te make met die misterie van die verhouding tussen Christus en sy dissipels na sy hemelvaart. Maar voor ons te diep in die teologiese sake ingaan, is daar iets wat verskuil lê tussen al die gebeure – die vrese en emosies wanneer daar afskeid geneem word en ‘n onbekende nuwe tyd voorlê. Verskuil in die teks lê die emosies wat ons almal so goed ken, dalk té goed ken, maar nooit gemaklik mee raak nie.
Jan-Jan Joubert skryf hierdie week in Rapport oor die sms- riemtelegram wat die afgelope week oor die land geflits het van ‘n beweerde volksmoord wat op Vryheidsdag sou plaasvind. Hy wonder hoekom mense sulke ooglopende “twak” glo en aanstuur vir ander. Hy dink dit het te make met die oervrese – ”Daar is seker die oervrees om nie, soos die Belgiese Kongo se wit inwoners met onafhanklikheid in 1960, onbedag, onbeskermd en sonder uitkoms gevang te word“ lees gerus die volledige berig by http://www.rapport.co.za/Rubrieke/JanJanJoubert/Die-magtige-riemtelegram-20100501.
Ons het almal in ons gemeenskap te make met ‘n oormaat van vrese en bekommernisse. Ons leef al dekades lank met die minuut-voor-twaalf-sindroom – as dit nie gebeur nie of dat nie plaasvind nie, is ons ten gronde, voorspel die sindroom aan ons. Indien jy wonder of die sindroom lewend is onder mense, lees gerus die kommentaar by Joubert se berig by bg adres. Natuurlik het dit te make met ‘n andersoortige vrees as die een waarvan ons lees in die teks, maar die onderliggende emosie is dieselfde. Vrese wat ons verwronge na die werklikheid laat kyk. Vrese/bekommernisse/onsekerhede konstrueer ‘n  verwronge werklikheid wat later dié werklikheid word waarin ons leef.
Ons as predikers moet ook bewus wees van die wyse waarop ons hiermee omgaan. Daar is geen sin daarin om dit te ontken nie- ons weet dit bestaan in verskillende vorme. Belangriker is om toe te laat dat die teks ons help met die hantering van ons vrese en onsekerhede. Christus doen ‘n beroep op hulle geloof – sodat julle kan glo wanneer dit gebeur (29) en (27) –  die vrede wat ek julle nalaat is nie die soort wat die wêreld gee nie. In kontras met denke wat gevorm word deur vrese, is vertroue wat gegrond is in hoop op die leiding van die Heilige Gees wat sal kom en “julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”(26b).
Vrees maak ons geheue selektief, dit verblind ons om alles te onthou– en dit is wat die Gees kom doen – dit herinner ons aan alles, ja daar sal afskeide en onsekerhede wees, maar daar is ook kersfees, ‘n tyd van epifanie, ‘n lydenstyd en ‘n opstanding uit die dood wat niemand kon voorspel of glo nie!
Geloof het seker te make met ‘n keuse van denke, met die vraag wat ons gedrag gaan bepaal – die riemtelegram van vrese of die werklikheid van die evangelie van die opstanding. Die owerste van die wêreld is aan die kom en Satan gaan sy selektiewe boodskap die wêreld instuur, maar onthou hy het geen mag oor Christus nie (30).

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in argief