{ARGIEF}

13 Mei 2012 ~ Sesde Sondag na Pase ~ Joh 15:9-17 ~ Verder geluister 

Ek probeer die teks lees asof ek dit vir die eerste keer lees; soos iemand wat nog ‘n nuusberig in die Koerant lees – so tussen al die ander berigte van die week. Ek kan nie anders as om die andersheid daarvan raak te lees nie. Die nuusblaaie waarop ek kuier vertel ander stories. Rapport http://www.rapport.co.za/ vertel van ‘n ander evangelie – ANC vry na Afrikaanses; Twiet met k-woord…; Mail & Gaurdian http://mg.co.za/, The Lie keeps coming (verwysing na Carl Niehaus). Time Magazine http://www.time.com/time/ berig oor nog ‘n skandaal in die katolieke kerk in Ierland; Die Burger http://www.dieburger.com/ se mees gelese artikels (8 Mei) is oor die rassistiese opmerkings wat modelle gemaak het en op die voorblad sê Solidariteit nee vir ‘n gesprek met die ANC http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Nee-vir-ANC-se-gesprek-20120508. Op Facebook (8 Mei) sit iemand ‘n banner op wat sê Ek sal jou vergewe maar ek is nie onnosel genoeg om jou weer te vertrou nie! Binne enkele minute het tientalle die knoppie gedruk om die sêding te “like”.
Soos die Vader my liefhet het ek julle ook liefgehad ”begin ons teks van die week en nooi ons na ‘n ander wêreld waar liefde en vertroue die reël en norm is. Dit is binne hierdie spanningsveld wat ons Sondag oor die teks gaan preek. My aanvoeling is dat die uitleg van die teks nie ons grootste uitdaging gaan wees nie, daarvoor het ons in elk geval ‘n uitstekende preekhulp, maar dit sal wees om die brug te slaan van ‘n wêreld wat vanuit wantroue en agterdog funksioneer, na die realiteit van God se liefde.

Ons moet nie onrealisties wees oor die afstand van die brug nie. Ons wat die boodskap verkondig en behoort te leef, soos ons telkens in die teks opgeroep word – ken onsself goed genoeg om te weet dat die koerantopskrifte eintlik maar net óns storie vertel.

Ek lees ‘n tweede keer die koerante. Diep agter weggesteek kom ek op stories af wat vertel van die sug na betroubare dienende liefde. Dit is nie voorbladstories nie; liefde sal dit seker ook nooit wees nie. My oog vang ‘n bydrae van ‘n Suid-Afrikaner wat in Ierland woon en wonder of hulle gesin die regte besluit geneem het om burgers van ‘n nuwe land te word. Hy weet nie, maar hy verlang na mense wat hy liefhet… en toe begin ek nog en nog stories raaksien – ek lees selfs die hoofopskrifte anders. As ons agter die brawe woord tyd maak om te luister, sal ons die sug na liefde, die sug na God in onsself en ander raaksien. Dit is ‘n boodskap wat vreugde gee (v11) en vervulling. En dit is ‘n boodskap waarvan God self die inisiatief geneem het, “julle het my nie gekies nie, ek het julle gekies… (v19).

Dit is hoe ons gemaak is – uit liefde vir liefde. Dit is die boodskap wat gewone regte mense inspireer en waaroor ons nooit genoeg kan praat nie. As ons Sondag, ses weke na Pase, in die verskillende dorpe en stede hieroor preek, sal dit nie die hoofopskrifte haal nie, maar ons kan gaan met die verwagting dat die boodskap van liefde die diepste sug van die mens verwoord. Ons hoef nie homiletiese truuks te gebruik nie, ons kan maar net oor die Bron van liefde praat – dit sal genoeg wees.

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief